Meer as 4 600 Vrystaatse boere gehelp met voer

Edenburg2
Sedert Desember 2015 kon Vrystaat Landbou (VL) 4 661 boere in die provinsie deur middel van VL se rampfonds, skenkings en Agri SA se Droogtehulpfonds met voerskenkings en droogtehulp bystaan.
“Die droogte het ’n impak op die meeste van ons lede gehad, en hoewel die hulp wat ons verleen nie ons lede se totale behoeftes kon verlig nie, is ons dankbaar dat ons hulle tot ’n mate kon bystaan,” sê Vrystaat Landbou in ‘n verklaring. Die westelike, suidelike en sentrale dele van die provinsie is die hardste deur die droogte getref, en weens die effek van El Niño het reën kol-kol voorgekom, wat alle boere verskillend beïnvloed.
Van die skenkings het ook aan nuweling-boere gegaan, wat deur middel van boereverenigings behoeftes aan VL gekommunikeer het en wat VL probeer bystaan het waar moontlik. Die afgelope week is nuweling-boere van die Oppermansgronde, Edenburg en Trompsburg met voerskenkings bygestaan.
Die voerskenkings en aangekoopte voer wat deur VL gefasiliteer is, is oor ’n totaal van 62 951 km vervoer. Die bedrag wat VL tot op hede aan vervoerkostes spandeer het, staan op R893 069. As deel van ’n poging om elke lid op ’n manier te kon bystaan, het VL 9 710 sakke voerpille vir lede aangekoop. Van die lede wat nie hard deur die droogte geslaan is nie, het aangedui dat hulle voerpille na gebiede waar dit meer nodig is, gestuur moet word. Besproeiingsboere van Luckhoff het onlangs aangedui dat hulle mieliereste het waarvoor hulle slegs die baalkostes verhaal. ’n Bedrag van R1 772 527 is reeds spandeer op dié baalkostes asook die aankoop van die bogenoemde sakke voerpille.
’n Totaal van 9 414 bale, 20 ton se hawer en 16 394 sakke voer en/of lekblokke is reeds na ons lede vervoer. VL wil hulle opregte dank teenoor Caring Daisies, Voermol asook skenkers en van ons boere, wat hulle mede-boere bygestaan het, uitspreek vir voer en/of vervoer van voer. VL bedank ook Thuso Meule vir die 28 ton mieliemeel wat hulle geskenk het om meer as 1 600 behoeftiges in die provinsie by te staan. Airports Company South Africa (ACSA) het ook bystand gelewer deur 20 watertenks van 10 000 liter elk aan boere in die provinsie te skenk.
’n Baie deeglike proses word gevolg rondom die verspreiding van droogtehulp. Boere doen aansoek by hulle plaaslike boerevereniging, en dié aansoeke word aan VL se kantoor deurgegee. Soos wat voer en vervoer beskikbaar raak om die spesifieke boerevereniging te kan bystaan, word voerskenkings deur die kantoor gereël.
VL is terdeë bewus dat talle boere tans onseker is oor wat vir hulle voorlê met die winter op hande en weiding wat nie kon herstel na die laat reën nie. Hulle pogings om boere met voer, maar ook met humanitêre hulp, te kan bystaan gaan deurgaans voort.
VL is bekommerd oor die stand van waterbronne in die provinsie, veral met al meer dorpe wat waterprobleme ervaar. VL benader die probleem strategies en ondersoek moontlike oplossings. Talle boere probeer ’n helpende hand aan hulle gemeenskappe verleen deur water van hul boorgate op dorpe beskikbaar te stel.
Bron en foto: Vrystaat Landbou