Categories: NewsPublished On: 12th July 2010

Massey-Ferguson:-Boer-rooi-vir-sukses-sonder-sukkel

By 4 min read

Vooruitgang vereis van die Suid-Afrikaanse boer dat elke pit wat hy plant, elke druppel diesel en elke sent insetkoste, sy deel moet bydra om wins te verdien.

Die boer wat wil wen kan nie bekostig om met ploeterpraktyke of sukkelmasjine­rie voort te strompel nie. Daarom boer al hoe meer verstandige boere rooi: Massey Ferguson-rooi!

Massey Ferguson strek ver terug in die verlede van ons land se boerderysukses met sy oor-en-oor bewese rekord van betroubare werkverrigting en waarde vir geld.

Maar Massey Ferguson reik ook ver in ons boerderytoekoms in met sy tegnologiese vindingskrag wat immer aan die voorpunt van die wêreld se trekkerontwikkeling trek.

Huidige bewerkingspraktyke in gebiede soos die Vry­staatse Sandveld neig na ’n trekkervereiste van so 100 tot 130 kW en Massey Ferguson se 6475 van 97 kW, 6485 van 118 kW en 6495 van 137 kW vervul hierdie behoefte uitmuntend.

Op Willemshoop in die Hoopstad-distrik boer Willem en Jacques van Zyl met mielies, grondbone en winterkoring. Hulle vloot Massey Ferguson-trekkers van verskillende groottes en spesifikasies speel ’n deurslaggewende rol in dié boerdery se sukses, sê Willem.

Die oudste Massey Ferguson op die plaas is ’n MF 35 wat Willem se pa en Jacques se oupa in 1965 aangeskaf het. Dié kordaat trekkertjie staan nog steeds sy man op die plaas met take soos sleepwerk.

Dit is hierdie rekord van kanniedood betroubaarheid wat maak dat Willem en Jacques sonder skroom steeds Massey Ferguson-trekkers aanskaf, maar die besluit is volstrek nie net op sentiment gegrond nie, verklaar Willem.

Geen trekker word op Willemshoop geduld bloot op grond van sy afkoms nie – elke nuwe Massey Ferguson moet homself bewys. En dit doen elke Massey Ferguson nog steeds; ook die jongste toevoeging tot die vloot bestaande uit drie 6475’s en een 6485.

Dié trekkers word gebruik vir skeurploegwerk, ploegwerk, rolstaafsleep, plantwerk, spuitwerk en om oestyd swaar tapkarre vol graan uit die land te sleep.

Volgens Willem is daar op elke plaas verskillende soorte trekkerwerk. Daar is ander, meer basiese Massey Fergusons om sekere donkiewerk te doen, maar die jongste spannetjie se hoë spesifikasies is ook vir sekere take nodig.

Satellietnavigasie is noodsaaklik vir sinvolle plant- en spuitwerk, maar dié toerus­ting, sowel as enige vorm van monitors en selfs twee­rigtingradio’s, hou net nie in die Sandveld as dit nie deur ’n kajuit beskerm word nie, vertel Jacques.

Die kajuite is ook noodsaaklik om operateurs tydens spuit­werk te beskerm en tydens winterstroop, wanneer die koue ’n onbeskermde operateur se produktiwiteit beperk.

Boonop is die Massey Ferguson-kajuit so gerieflik en operateursvriendelik ontwerp dat jy half sukkel om ’n man vanaand van die trekker af te kry.

Die Van Zyls se 6475’s het betroubare Perkins-enjins en die 6485 ’n ewe betroubare ­SisuDiesel; almal met gevorderde deelstaafinspui­ting en vier kleppe per silinder, wat sorg vir beter ontbran­ding, ’n laer dieselverbruik, skoner uitlaatgas en meer enjinkrag en wringkrag.

Dié enjins, saam met die gevorderde Dyna 6-ratkas se 24 vorentoe- en 24 tru-ratte wat jy sonder koppelaar wissel, beteken dat jy ’n rat vir elke taak het en dit kan aanpas terwyl jy werk.

Die beter, meer ratverhou­dings put meer uit die enjin teen laer onwentelings, wat minder slytasie en ’n laer dieselverbruik beteken en wat jou in staat stel om meer hektaar per uur te bewerk, sê Willem.

Tot hierdie voortreflike werkverrigting dra die trekker se perfekte samestelling van krag, gewig en balans by.

Diens gee deurslag

Die finale motivering om by Massey Ferguson te hou is die toegewyde diens wat Hennie Roos en sy flink span by Hoopstad Trekkers bied, verklaar Willem. Dié mense stel werklik belang en doen moeite om te sorg dat die boer nooit sukkel nie.

Hulle onderdelevoorsiening is flink en vinnig, hulle werkwinkel wakker en deeglik en hulle begrip van die boer se behoef­tes baie welkom.

Jy kan ’n Massey Ferguson kenmerk vir kenmerk langs enige ander trekker staanmaak en hy sal nooit tekortskiet nie – en boonop kos hy per kilowatt nogal minder as sommige ander, sê Willem.

Jy kan ook sonder sloer en sukkel boer. As jy in die Hoopstad-omgewing is, skakel Hennie Roos van Hoopstad Trekkers by 053-444-1900 of 082-492-9125, of Gerrie Wagenaar van Barloworld by 083-627-7260, of Barloworld se hoofkantoor by 011-898-0000, of besoek www.barloworld.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0