Mamre Boerdery: Geesdriftige vroueskaapboer se kundigheid wêreldwyd gesog
As dit iemand se leuse is om elke dag voluit met geesdrif te leef, en haar hart se punt is skape, kan jy maar weet dat sy voluit oplossings gaan soek om haar skape en haar kontantvloei gelukkig te hou.
Dr Karin Wessels van Mamre in die Frankfort-distrik in die Oos-Vrystaat is so ‘n iemand. Sy pas daagliks haar kennis van verpleging en veral verloskunde toe in haar en haar man Manie se intensiewe skaapboerdery.
So suksesvol is sy dat tot 500 boere op ՚n keer boeredae op die plaas kom bywoon. Hulle skaapskole van drie dae lank word landwyd en elders in die wêreld aangebied, en skaapboere wêreldwyd neem aan hulle aanlynwebinare deel.
Karin is in Rustenburg in Wes-Transvaal (Noordwes) gebore. Sy het aan die Hoër Volkskool Potchefstroom matrikuleer voordat sy by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (vandag Johannesburg Universiteit) verpleegkunde (B. Cur) gaan studeer het.
Sy het Manie, wat Bedryfsielkunde studeer het, op universiteit ontmoet en hulle is aan die einde van haar derde jaar getroud.
Na voltooiing van haar basiese kwalifikasie het sy in die kraamsaal by Flora Kliniek begin werk en terselfdertyd begin met nagraadse studies om ՚n M. Cur en D. Cur in Verloskunde en Neo-natologie te verwerf.
Daarna was sy betrokke by die ontwikkeling en oopmaak van twee kraamafdelings, asook die neonatale intensiewe sorgeenheid by Linmed Hospitaal in Benoni en die Sunninghill Hospitaal in Sandton, waar sy ook twaalf jaar lank die eenheidsbestuurder van die afdelings was.
“Gedurende die studie en werk het ek baie geleer en vandag gebruik ek nog daardie kennis en kundigheid op die plaas. Nou werk ek met diere, maar dit is nie eintlik anders nie, en ek geniet elke oomblik terdeë!”
Sy en Manie was ondanks hulle voltydse beroepe deurentyd op die plaas doenig waar sy pa al die jare met skape geboer het. “Manie het grootgewordop die plaas waar ons vandag boer. Sy pa was ՚n skaapboer in murg en been en Manie het moflammers bottel gegee toe hy nog in doeke was,” vertel sy.
Kontantvloei
Na 25 jaar in die stad en op die plaas as deeltydse boere het hulle besluit om voltyds plaas toe te gaan waar hulle vandag met beeste, skape en Nooitgedachter-perde boer.
Karin sê: “Ons is bevoorreg om in die Hoëveld te kan woon en onwillekeurig dink ek aan Toon van der Heever se gedig: ‘In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo, waar kuddes waaigras huppel oor die veld, waar ՚n mens nog vry kan asemhaal en aan ՚n God kan glo’. Op Mamre is ons bevoorreg om te kan woon, werk en droom.”
In die stad was sy gewoond daaraan om elke maand ՚n salaris te verdien sodat sy haar finansiële verpligtinge kon nakom; die eerste uitdaging wat sy op die plaas ervaar het was kontantvloei.
“Toe ons plaas toe kom, was daar net een of twee keer per jaar ՚n inkomste en dit was vir my baie moeilik om daarby aan te pas,” vertel sy.
“Nadat ek ՚n kursus by wyle dr Jasper Coetzee, die bekende skaapkundige, bygewoon het en waar die saadjie van lamhokkies by my geplant is, het ek huis toe gekom met baie planne. Ek het nie op ՚n plaas grootgeword nie, en daarom was daar nie beperkinge in my verwysingsraamwerk ten opsigte van wat ՚n skaapooi kan doen nie!”
Ooie wat in die tradisionele skaapboerderyopset een of twee keer per jaar in ՚n 12 maande-stelsel lam, het nie by haar kontantvloeiplanne ingepas nie.
“Dit was duidelik dat ek met minder ooie meer lammers moes kry, en dan moes daar ook elke maand lammers gebore word sodat ek elke maand ՚n inkomste kan kry. Ek het ook besef dat ՚n nuwe stelsel sou verg dat die ooie op՚n versnelde stelsel lam, naamlik elke agt maande, sodat ek met dieselfde ooie meer lamtye kan kry.”
Sy het besluit om die nuwe stelsel op die proef te stel. “Ek het met ՚n klein groepie ooitjies wat Manie vir my gekoop het, begin om my idee van die agt maande-stelsel vir deurlopende aanwas te begin toepas. Ek het baie gou agtergekom dat dit nie so eenvoudig is nie …”
Toe sy by die derde groepie ooitjies kom wat vir sinkronisasie voorberei moes word sodat hulle gelyktydig lam, het sy vergeet om die vorige groep se lammers te speen. “Ek het besef ek het ՚n ander stelsel nodig om boek te hou van hierdie eenvoudige beginsel, maar baie komplekse stelsel.”
Sy het haar dilemma met Manie gedeel en met sy agtergrond in die beginsels van projekbestuur, het hy voorgestel dat sy daardie beginsels op haar lamstelsel toepas. “Die projekplan berus op die ooi se fisiologiese stadiums en kan nie verander word nie, sy is so geskape!”
En so is die Mamre Intensiewe Lamstelsel of MILS-projekplan gebore. Met hierdie projekplan kon sy haar ooie in agt groepe opdeel en hulle maand vir maand sinkroniseer om elke maand te lam sodat sy elke maand lammers het om te bemark.
Sinkronisasie is die sleutel
“Tegnologie is baie belangrik om jou beplanning 100% vlot te laat verloop en dit is hoekom die stelsel deur sinkronisasie gedryf word.”
Met sinkronisasie word Zoetis se CIDR (intravaginale toestel vir teelprogrambeheer in skape en bokke) gebruik wat op ՚n sekere dag in die vagina van elke ooi in die groep gesit word. Veertien dae later word die CIDR’s getrek en die ooie word die voorgeskrewe dosis DMS (Dragtigemerrieserum) gespuit, wat dan verseker dat die ooie binne 36 uur almal gelyktydig op hitte kom.
Met hierdie stelsel kan ramme gebruik word in ՚n verhouding van vyf ooie per ram. ՚n Mens kan ook kunsmatige inseminasie op die ooie doen. Nog ՚n opsie is om die veearts te kry om die ooie laparoskopies te insemineer waarvoor gevriesde en vars semen gebruik word en dus geen ramme op die plaas nodig is nie.
Gesinkroniseerde lamtyd
Nog ՚n voordeel van sinkronisasie is dat die ooie almal binne vyf tot sewe dae lam. “Jy weet presies wanneer hulle gaan lam en jy kan beplan om verliese te voorkom. Die ooie lam in hokkies in ՚n toegemaakte lamskuur om die ooie en lammers teen die elemente te beskerm, wat tot ՚n hoër lampersentasie lei.”
՚n Ooi wat haar plek op Mamre verdien moet vyf lammers in twee jaar lewer, met ander woorde drie lamtye oor ՚n tydperk van twee jaar. “Ons diskrimineer nie teen ՚n enkeling nie, mits die ooi vyf lammers in twee jaar lewer teen watter tempo sy dit ook al doen.”
Karin verduidelik: “՚n Ooi in die stelsel kan die eerste lamtyd ՚n enkeling kry, die tweede lamtyd ՚n tweeling en derde lamtyd weer ՚n tweeling, wat opvyf lammers te staan kom. Wanneer ՚n ooi ՚n drieling kry, kan sy die volgende twee lamtye net ՚n enkeling kry dan is dit ook vyf lammers. Daar is ooie wat voortdurend ses of sewe lammers in twee jaar gee. Ons pas hulle baie mooi op!”
Met die gebruik van lamhokkies en klein kampies waar die ooi en haar lammers tot met speen op 56 dae gehou word, is die roofdierfaktor die afgelope dertien jaar heeltemal uitgeskakel.
“Ons is nou al van 2010 af besigmet die stelsel en al ons ooie lam op ՚n agt-maande-stelsel, wat goed is vir kontantvloei.”
Mamre se lampersentasie is tussen 150% en 190% per siklus en tussen 225% en 285% per jaar. Die verskil kom in by groepe met meer jong ooitjies en die tyd van die jaar. (Foto: Verskaf).
Boeredae en skaapskole
Nadat ’n artikel in Landbouweekblad se Boereplanne in 2013 verskyn het, het talle boere Karin en Manie oor die stelsel genader.
“Die boere wou kom kyk hoe die stelsel in die praktyk werk en ons het begin om maandeliks boeredae te hou. Ons het die stelsel verduidelik en vir hulle die kampies en lamhokkies gewys.”
Die boeredae se gewildheid het so toegeneem dat hulle naderhand meer as 500 boere op ՚n keer tydens ՚n boeredag op die plaas gehad het. “Onshet toe met die skaapskole begin wat oor drie dae gestrek het en wat deur die land aangebied is.” Daar word steeds boeredae op Mamre en oral in die land aangebied. “Skape het ons die hele wêreld vol gevat. Ons het kursusse gaan aanbied in Sjina, Argentinië, Botswana, Rusland, die Oekraine en Zambië, terwyl skaapboere van oral in die wêreld deelneem aan ons aanlyn-webinare.”
Wat is die merkwaardige vrou se dryfkrag om sinvolle oplossings vir skaapboere se universele probleme te vind? “My lewensfilosofie is om elke dag voluit met geesdrif te leef!”
Vir meer inligting kontak dr Karin Wessels by (+27)82-854-1491.