Maksimum opbrengs: Timac Agro het boere aan die gons

timac 1 reg
Die Timac Agro-span is van links voor Jandré van der Westhuizen, Pieter Conradie, Martin Smith, Francois Wolvaardt, en agter Joos Steenkamp, Pierre van Vuuren, Chris Botha en Bernard Groenewald.
deur Tisha Steyn
Graan-, groente- en vrugteboere in die Overberg kan nie uitgepraat raak oor die voordele wat Timac Agro se plantvoeding en ander produkte vir hulle inhou nie. Die boere het onlangs Timac Agro se eerste inligtingsdag by Kam’Bati op die oewer van die Breederivier naby Swellendam bygewoon.
Roullier
Timac Agro Suid-Afrika is ’n filiaal van die Franse moedermaatskappy, Roullier. Die Roullier-groep se hoofkantoor is in St Malo, Frankryk, waar Daniel Roullier, stigter van die Groep, ’n 8 000 m2-sentrum gebou het waar intensiewe navorsing gedoen word om Roullier se spesialisprodukte te ontwikkel.
Hier ontwikkel 400 wetenskaplikes en ingenieurs reeds die afgelope 57 jaar die uitstaande spesialiteitsprodukte volgens Roullier se hoë standaarde.
“Die sukses van Roullier en dus ook Timac Agro se produkte berus op noukeurige navorsing,” het Francois Wolfaardt, bemarkingsbestuurder van Timac Agro, tydens die inligtingsdag gesê. “Die tegniese gevorderdheid van die produkte laat dit uitstaan bo ander konvensionele produkte wat in die mark beskikbaar is.”
Vogens Roullier se definisie is plantvoeding die verskaffing van kernspoorelemente wat in voldoende hoeveelhede, in die korrekte verhoudings en in ’n vorm wat vir die plant beskikbaar is, toegedien word sodat die plant die maksimum opbrengs kan lewer.
Timac Agro SA
Timac Agro het drie jaar gelede in Suid-Afrika begin sake doen en is reeds goed gevestig in die noordelike provinsies. Dit het in 2016/17 ook na ses streke in die Wes-Kaap uitgebrei. Timac Agro se hoofkantoor is in Centurion, en die hoofverspreidingsentrum van die produkte is in Kaapstad.
“Timac Agro se 80 werknemers, insluitend die 50 tegniese bemarkers, is in diens van Roullier,” sê Jandré van der Westhuizen, ontwikkelingsdirekteur van Timac Agro. “Opleiding is belangrik: nuwe bemarkers deurloop ’n intensiewe opleidingskursus om die projek te leer ken, asook praktiese opleiding in die veld.”
Daar is sowat 250 kommersiële boere in die Suid-Kaap, wat strek vanaf Wellington tot by Knysna in die Tuinroete, asook in die Klein Karoo en dit is ’n belangrike mark vir Timac Agro.
“Die Suid-Kaap is die grootste garsprodusent in Suid-Afrika en ’n derde van die land se skape word hier geproduseer,” sê Francois.
Ander gewasse is wintergewasse soos koring, gars, hawer, kanola, lupiene, koljander en deesdae ook ertjies, en somergewasse soos mielies vir kuilvoer en ’n bietjie soja.
Die verbouing van groente en groentesaad, asook vrugte soos druiwe, perskes, pruime, appelkose, tamatiepruime, appels en pere, en sitrus soos lemoene, nartjies en suurlemoene.

Timac Agro se bakkie op die oewer van die Breederivier by Kam’Bati buite Swellendam, waar Timac Agro se inligtingsdag vir boere aangebied is.
Produkte
Op die inligtingsdag is veral gefokus op die produk D-Coder, maar daar is ook verwys na Fertiactyl, Fertileader en Maxifruit, asook Calseabloc-lekke vir vee en wild.
D-Coder is ’n interaktiewe groen korrel wat al vier groeiprosesse van ’n plant stimuleer, naamlik vestiging, vegetatiewe ontwikkeling, blomfase en produksie.
“Grondgesondheid is die beginsel waarop suksesvolle produksie berus, want dit verseker volhoubare produksie,” verduidelik Francois.
Grondvrugbaarheid word bepaal deur die fisiese, chemiese en biologiese balans van die grond. Die D-Coder se groen korrels, wat gelaai is met voedingstowwe, word in die wortelsone geplaas sodat dit ten beste deur die plant opgeneem kan word. Die plant “gaan haal” die voedingstowwe wanneer hy dit nodig het vir ontkieming, wortelgroei, vegetatiewe groei en optimale produksie.
Fertiactyl is ’n vloeibare spanningsreguleerder wat toegedien word tydens vroeë plantontwikkeling. Dit word in die plantvoortjie of deur die besproeiingstelsel toegedien. Die produk stimuleer wortelontwikkeling sodat die plant die voedingstowwe kan opspoor en tydens kritieke groeifases al die voedingstowwe opneem om fotosintese te bevorder en te verseker dat die plant deurlopend sterk groei.
Fertileader is ook ’n vloeibare spanningsreguleerder wat in ’n later groeistadium op die blare toegedien word. Dit help om spanning te weerstaan en help blaargroei aan om te verseker dat die plant ten beste produseer en wasdom bereik.
Maxifruit is ’n vloeibare produk wat voor of na die blomfase en gedurende die hele vrugontwikkeling en groeifase op die blare toegedien word. Dit help die plant om selfs onder spanningsvolle toestande ’n uitstekende drag gesonde vrugte te produseer.
In die streek word ook met Dohne-Merino’s, melkbeeste soos Jerseys, Friese en Ayershires geboer, en toenemend ook met wild. Timac Agro speel ook in diereproduksie ’n belangrike rol met ’n verskeidenheid Calseabloc-lekblokke vir vee en wild. Die lekblokke fokus elk op ’n spesifieke behoefte en bestaan uit Calsea-mag, Calsea-fibre, Calsea-zinc, Calsea-calver en Calsea-digest.
Die produkte word ingevoer, maar ’n mengsel wat vir spesiale grondbehoeftes voorsiening maak, kan gemeng word.
Wat sê die boere?
Die boere met wie ProAgri gesels het, is baie positief oor die produk.
Cobus du Toit: “My vye-oes het verdubbel.”

Cobus du Toit, vyeboer van Napier.
Cobus is die afgelope sewe jaar bestuurder van Fairfigs, die grootste produsent van vye in Suid-Afrika. Dié afdeling van die Lourens-groep boer tussen Napier en Caledon met 60 ha Franse vye, waarvan 50% uitgevoer word. Nog 30% word plaaslik bemark, en die res, wat nie geskik is vir menslike gebruik nie, word vir die Dohne-Merino-skape gevoer.
Omdat die grond op die plaas arm is aan fosfaat, het Cobus drie jaar gelede Timac Agro se D-Coder begin gebruik. “Binne ’n jaar nadat ek oorgeskakel het na D-Coder, kon ek sien hoe die vyebome verander: die blare was nie meer geel nie, maar ’n gesonde, helder groen. Dit kan toegeskryf word daaraan dat die vyebome spanning beter hanteer, en dus beter fotosinteer. Die opbrengs het ook dramaties van 3 ton/ha na 6 ton/ha toegeneem.
Die toediening van Maxifruit het gelei tot groter vye en het die rakleeftyd van 14 dae met vier tot vyf dae verleng. Die ryp vye word volgens kleur geoes, verkoel en binne 24 uur per vliegtuig versend na Britse, Europese Unie- en Oosterse markte. Die vye word tussen Desember en Mei geoes, met die ideale venster vir uitvoer in April en Mei voordat vye uit Turkye en Israel die markte bereik.
Lourens van Eeden: “90% van die voedingstowwe word opgeneem”.

Pierre van Vuuren van Timac by Lourens van Eeden, graanboer van Swellendam.
Lourens boer die afgelope 33 jaar op die plaas Vleitjie tussen Swellendam en Heidelberg met gars, koring, kanola en skape. “Timac Agro het pamfletjies uitgedeel, maar hulle kon nie na wense vir my verduidelik hoekom hulle produk beter is as konvensionele kunsmis nie,” vertel hy. Op ’n dag het Pierre van Vuuren, tegniese bemarker by Heidelberg, ’n chemiese ingenieur uit KwaZulu-Natal by hom aangegaan wat vir hom mooi verduidelik het hoe D-Coder-plantvoeding ontwikkel is.
“Die grootbaas het glo vir sy wetenskaplikes gesê hy wil ’n chemiese korrel hê wat in ’n biologiese matriks is, en na tien jaar het hulle na vore gekom met die produk,” sê Lourens. “90% van hierdie plantvoeding word deur die plant opgeneem, nie net 50% soos wat die geval met ander kunsmis is nie.”
Omdat Lourens geenbewerkingbewa-ringsboerdery toepas, is hy baie beïndruk hiermee. “Boerdery is kompleks en ’n mens moet holisties daarna kyk. Sonder om die risiko te loop om geen kunsmis te gebruik nie, gaan ek nou hierdie plantvoeding gebruik waarvan die voedingstowwe in die regte verhouding is en wat die plant self gaan haal wanneer hy dit nodig het.”
Jean van Deventer: “Ek het beste gars-oes in 22 jaar afgehaal.”

Jean van Deventer, graan en veral garsboer van Napier.
Jean boer die afgelope 22 jaar by Napier met gars, koring en kanola. Hy het vanjaar begin om Timac Agro se produkte te gebruik.
“Ek hou daarvan dat die kunsmis net vrygestel word wanneer die plant se wortels dit gaan soek. Dit is ook gerieflik dat die produk tydens die plantproses toegedien kan word, want in planttyd wanneer dit begin reën, is dit onmoontlik om met die toerusting in die landerye te kom.”
Bernard Groenewald, tegniese bemarker by Riviersonderend, het aan die begin van die jaar ’n proef op Jean se plaas gedoen. “Ek kon dadelik die voordeel insien, want D-Coder brand nie die saad en plantjies soos ander kunsmis nie.
“Ek het klaar die gars geoes, en die opbrengs is minstens 15% meer as tevore. Ek het in 2018 die beste garsoes ooit afgehaal, ten spyte van uitdagende toestande.”
Kontak Timac Agro by 071-610-8082 of besoek die webtuiste by www.timacagro.co.za

’n Klompie jong boere het ook kom luister na Timac Agro by Kam’Bati buite Swellendam.