Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 15th December 2022

Maksi Merino Landskaap-groep

By 3 min read
498 words

IMG_22855

Die Maksi Merino Landskaap-groep het in 2007 sy ontstaan gehad nadat ‘n aantal telers besluit het om die tekort aan ooie aan te spreek deur ‘n aantal goeie jongooie op ‘n Veiling aan te bied om die ooi mark te stimuleer. 

Daar was op daardie stadium min Landskaapooie in die mark beskikbaar.  Ben du Plessis, Jaco Swart, Colin Moolman en Jaap Erasmus het bymekaar gekom en besluit om kommersiële ooie asook stoetooie beskikbaar te stel. Die eerste veiling is in 2008 aangebied.  

Die eerste paar jaar is die Maksi produksieveiling in Mei aangebied en is later vervroeg na Februarie.  Daar is besluit om ook ‘n aantal ramme aan te bied vir die kopers wat ooie koop en dan ramme benodig. Die ramme en stoetooie aangebied op die veiling word vooraf streng gekeur en daar word ook gekyk na goeie syfers.  Die aanvraag na ramme het baie toegeneem, die aantal stoetooie wat aangebied word het oor die jare konstant gebly, maar die kommersiële aanbod het mettertyd verminder. Dit moes diere wees wat ‘n waarde toevoeging tot enige kudde kan bring.

Die doelwit is om veldaangepaste kommersiële ooie in die mark te sit – diere wat Landskaap eienskappe het vir kopers wat ooie soek vir ‘n moederlyn en vir kruisteel programme, maar ook vir telers wat suiwer boer.  Die Landskaap doen goed met sy goeie groei vermoë, dit kan gesien word in die Voerkraal.  Die Voer omsetverhouding en waarde wat jy uit die Landskaap kry is baie goed.

Met die tyd saam het ander telers by die groep aangesluit, veral met die 10e Veiling is meer telers betrek om aan hulle ook die nodige blootstelling te kon gee en betrokke te maak by die Veiling.  Die Maksi produksieveiling het nou ‘n jaarlikse instelling geword.  Op 11 Februarie 2023 word die 14de veiling aangebied. Die telers bou graag voort op die suksesse van die verlede en stel steeds hoogstaande kwaliteit diere beskikbaar.  Kopers van wyd en syd ondersteun die veiling om top diere te bekom.  Ramkopers kom van sovêr as Suid-Natal, Polokwane, Noordwes en Mapumalanga om van die diere te bekom.  

Die ras is bekend vir sy aanpasbaarheid en gedy in verskillende bestuurstelsels. Sy vrugbaarheid en groeivermoë maak hom veral gesog.  Die goeie kwaliteit vleis met lae vetverspreiding is ook van die eienskappe wat hom gunstig maak vir die verbruiker.  Omdat dit ‘n dubbeldoelras is gee ons ook aandag daaraan om diere aan te bied wat se wolgehalte beter is. Veral die ramme kan met vrymoedigheid in ‘n kruisteelprogram gebruik word op wolrasse om swaarder lammers te produseer.  Kudderamme kan teen bekostigbare pryse aangeskaf word, asook uitsoek ramme vir die stoettelers.  

Ons sien uit na die toekoms van die ras asook die Maksi groep en sien hierdie veiling as ‘n geleentheid om ‘n verskil te maak in die skaapbedryf.  Vanjaar word diere aangebied deur Ben du Plessis, Colin Moolman, Katiba Merino Landskaap, Garcao Boedery en Anthony Khourie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0