Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 8th May 2026

Lusern: ’n Bousteen vir ’n meer volhoubare boerderystelsel

By 6 min read
1110 words

lusern

Insetkoste is nie meer wat dit was nie. Pryse beweeg vinnig, is minder voorspelbaar en plaas toenemende druk op boere se marges. In so ’n omgewing raak dit al hoe belangriker om nie net na opbrengs te kyk nie, maar na hoe ’n hele boerderystelsel oor tyd gaan presteer.

Die afgelope seisoen het dit duidelik gewys. Stikstof- (N) en fosfaat (P)-kunsmispryse bly onder druk en neig steeds opwaarts, terwyl brandstofkoste skerp gestyg het. Kalium (K) is meer stabiel, maar speel ’n groter rol in sekere gewasse as in ander. Omdat Suid-Afrika grootliks van ingevoerde insette afhanklik is, word internasionale prysbewegings en ’n wisselvallige rand plaaslik vinnig gevoel.

Die vraag is dus: hoe bou jy jou stelsel om steeds winsgewend te bly?

Gewaskeuse en insetrisiko

In baie stelsels vorm mielies, koring en hawer steeds die kern van produksie. Hierdie gewasse bly egter sterk afhanklik van stikstof en fosfaat, wat beteken dat hul koste direk saam met hierdie insette beweeg. Wanneer pryse styg, kom marges vinnig onder druk.

Dit is juis hier waar dit interessant raak.

Lusern werk anders as die meeste eenjarige gewasse. As peulgewas kan dit self stikstof uit die lug bind deur ’n simbiotiese verhouding met Rhizobium-bakterieë. Dit verminder die behoefte aan stikstofkunsmis en plaas lusern in ’n ander risikokategorie as gewasse wat volledig van aangekoopte stikstof afhanklik is.

Hoewel lusern deeglike bestuur vereis en ’n behoefte aan kalium het, bly stikstof die mees wisselvallige en dikwels duurste inset in baie graanstelsels. Die relatiewe risiko tussen gewasse is dus besig om te verander.

’n Stelsel onder druk

Boerdery vind tans plaas binne ’n markomgewing waar verskeie faktore gelyktydig druk uitoefen. Graanpryse is onder druk, insetkoste neem toe en wisselkoersskommelinge beïnvloed beide koste en inkomste. Die gevolg is eenvoudig: groter onsekerheid, marges raak dunner en risiko neem toe.

Waar boerdery vroeër meer voorspelbaar was, vereis die huidige omgewing ’n meer doelbewuste en weldeurdagte benadering. Die fokus skuif weg van blote maksimum opbrengs na stelsels wat oor tyd kan bly presteer. Gehalte, insetdoeltreffendheid en diversifikasie raak al hoe belangriker.

Diversifikasie as bestuurstrategie

Diversifikasie is nie ’n nuwe konsep nie, maar dit speel ’n al hoe groter rol in moderne boerderystelsels. Om op een of twee gewasse staat te maak verhoog risiko’s, veral wat betref insette soos stikstof en fosfaat. Deur gewasse te kombineer, word risiko versprei en inkomste oor tyd meer gebalanseerd. Die doel is nie om mielies, koring of hawer te vervang nie, maar om ’n stelsel te bou wat in verskillende toestande kan bly presteer.

Lusern se rol in die stelsel

As meerjarige gewas bring lusern stabiliteit na ’n stelsel wat andersins op eenjarige siklusse staatmaak. Dit lewer konsekwente, hoëgehalte-voer vir eie vee of as ’n bemarkbare hooiproduk, en bied voldoende buigsaamheid sodat dit vir weiding of hooiproduksie gebruik kan word.

Omdat lusern oor verskeie jare heen produseer, word vestigingskoste oor die produksietydperk versprei. Saam met die laer N-kunsmisbehoeftes en die positiewe effek op grondgesondheid, maak dit lusern ’n waardevolle komponent in ’n volhoubare stelsel.

Kontantvloei en risikoverspreiding

Een van die grootste praktiese voordele van lusern lê in kontantvloei. Waar eenjarige gewasse tipies een oes per seisoen lewer, bied lusern verskeie snitte per jaar oor ’n aantal seisoene. Dit beteken jy kry inkomste regdeur die jaar – nie net eek keer per seisoen nie. Hierdie verspreiding van inkomste dra by tot meer stabiele kontantvloei.

Dié produksiepatroon help ook om risiko verder te versprei. ’n Swakker snit kan deur ’n volgende een herstel word, pleks dat ’n hele seisoen se inkomste verlore gaan.

Lusern pas ook maklik in verskillende produksiestelsels in. Dit kan as hoëgehalte-voerbron dien, as deel van rotasies gebruik word om grondgesondheid te verbeter en vir die ondersteuning van opvolggewasse, of as ’n kontantgewas in die hooimark benut word. In gemengde boerderystelsels help dit om vee- en gewasproduksie beter te integreer.

Belang van kultivarkeuse

Die sukses van lusern begin egter by die regte kultivarkeuse. Die keuse van dormansiegroep en genetika moet by jou omgewing, bestuur en produksiestelsel pas.

AgroFors bied ’n reeks beproefde lusernkultivars wat spesifiek ontwikkel is vir Suid-Afrikaanse toestande en verskeie produksiebehoeftes, met opsies wat wissel van winterdormant tot hoogs winteraktief. Hierdie variasie bepaal nie net opbrengs nie, maar ook hoe lank ’n stand produktief bly en in watter tipe stelsel en omgewing dit die beste gaan presteer.

Hoogs winteraktiewe kultivars

Dormansiegroepe 9 en 10 word tipies vir drie tot vyf jaar benut. Die AgroFors-kultivars, waaronder FORS 1011*, FORS 1012* en AlphaTec 921* lewer hoë droëmateriaalproduksie en is veral geskik vir intensiewe hooiproduksie onder besproeiing of in streke met hoë produksiepotensiaal.

Winteraktiewe kultivars

Dormansiegroep 8 bied weer ’n meer gebalanseerde opsie en word gewoonlik vir vyf tot agt jaar gebruik. AgroFors-kultivars FORS 811* en AlphaTec 821* kombineer hier goeie produksie met aanpasbaarheid en kan onder beide droëland- en besproeiingstoestande presteer, solank dit reg bestuur word.

Winterdormante kultivars

Dormansiegroep 7 fokus op stabiliteit en word dikwels vir vyf tot agt jaar of langer benut. Hierdie AgroFors-kultivars, FORS 711* en SA Select, is beter aangepas vir droëlandproduksie as hoër dormansiegroepe, met groter toleransie teen wisselende omgewingsfaktore. Dit maak hierdie kultivars geskik vir stelsels waar betroubare produksie oor tyd en weiding belangrik is.

Die regte kultivar vir jou omstandighede bepaal jou snitte, jou opbrengs en jou wins oor tyd.

Waarde onder die grond

Lusern se langtermynwaarde lê nie net bogronds nie. Deur N-binding, diep wortelontwikkeling en die opbou van organiese materiaal dra dit by tot beter grondstruktuur, verbeterde waterinfiltrasie en verhoogde biologiese aktiwiteit.

Wanneer ’n lusernland uiteindelik uit rotasie geneem word, is ’n deel van hierdie stikstof beskikbaar vir opvolggewasse, wat kunsmisbehoeftes verminder en opbrengspotensiaal verbeter in daaropvolgende gewasse.

Winsgewendheid oor tyd

Lusern moet oor meer as een seisoen beoordeel word. In die vestigingsjaar is dit dikwels minder kompeterend weens hoë vestigingskoste en ’n vestigingstydperk voordat volle produksie bereik word. Vanaf die tweede jaar verander die prentjie egter merkbaar.

Met herhalende produksie en laer insetkoste verbeter marges en oortref dit dikwels dié van eenjarige gewasse. Lusern skuif dus die fokus van opbrengs op kort termyn na volhoubare winsgewendheid op lang termyn.

Die vraag is uiteindelik nie of lusern beter is as ander gewasse nie, maar hoe jy dit in jou stelsel kan integreer. Die boere wat in die toekoms gaan aanpas en volhoubaar bly presteer, is dié wat hul stelsels doelbewus verfyn en ingeligte keuses maak.

In ’n omgewing van stygende insetkoste en toenemende druk bly lusern ’n sterk strategiese gewas, veral wanneer jy dit doelbewus deel van jou boerderystelsel maak.

AgroFors werk saam met jou aan ’n stelsel wat minder afhanklik is en beter werk vir jou boerdery. Skakel die span by (+27)(0)44-203-5295 of besoek www.agrofors.co.za vir meer inligting.  

*Kultivar in die proses van registrasie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0