Lindsay se Zimmatic-spilpunte: 50 jaar nuut!

zimmatic 1
“Hier is mos altyd iets nuuts by ons,” vertel Frederik Nel van Lindsay by NAMPO. Die eerste elektriese Zimmatic-spilpunt is 50 jaar gelede in die dorpie Lindsay in Nebraska, Amerika, gebou en met skeppingskrag, aangehelp deur uitdagings in die vele lande waar Zimmatics loop, bly hulle aan die voorpunt van ontwikkeling.
Frederik sê in Nebraska staan Zimmatic bekend as die hill climber. In die omgewing van Lindsay is daar heelwat heuwels en die ontwerp van die spilpuntstruktuur is aangepas vir hierdie omgewing.

Heel voor in die rooigetooide standplaas het die sleepbare spilpuntsenter met sy drie wiele aandag getrek. Dit is een van verskeie sleepbare senterpunt opsies wat by Zimmatic-spilpunte beskikbaar is.
Jy swaai die wiele in lyn, haak die sagte pyp af en sleep die spilpunt na ’n ander land waar jy dit net aan ’n moederlyn moet koppel om twee lande teen die prys van een te benat. Van ’n drietoring- tot sestoringspilpunt kan so verskuif word. Van ses torings af op is daar vierwielsenters beskikbaar. Vir een- en tweetoring-spilpunte is die Agritow tweewielsenter beskikbaar.
Frederik sê verskuifbare spilpunte is ideaal vir beginnerboere wat geleidelik wil groei totdat elke land uiteindelik sy eie spilpunt het.
Groter masjiene kan ook met behulp van ’n slee-senterpunt verskuif word. Aartappelboere gebruik dit byvoorbeeld vir wisselboupraktyke of om grond te laat oorlê vir seisoene.

Die ligte spilpuntraam is ideaal vir droër streke en kleiner lande. Frederik sê dit is veral goed vir ’n boer in die Karoo wat moontlik met ’n windpomp ’n dam volmaak. Die spilpunt kan loop op slegs 3 000 tot 5 000 liter per uur, en die boer kan nou met ’n klein pompie ’n land lusern of weiding plant vir sy skape, of dalk groente vir ’n bykomende inkomste. Die spilpunt is bietjie laag vir mielies, maar ideaal vir gras en groente. Hy kan van ’n halwe hektaar af tot drie hektaar met hierdie klein spilpunt besproei.

Zimmatic-boere kan soliede bande (NFTrax) of hoë flotasiebande kies as modder en vasval ’n probleem is. Nuut op die skou was die NFTrax® 2.0 wat net betyds vir NAMPO aangekom het.
Frederik Nel sê dié luglose bande beteken dat jy nooit weer die banddruk op jou spilpunt hoef na te gaan en met ’n kompressor deur die land hoef te sukkel nie. Jy gaan tyd, arbeid en vervangingskoste spaar. In vergelyking met luggevulde bande, rig die rusperbande 30 tot 50% minder skade aan met uittrapspore. Vlakker spilpuntspore bespaar op die lang duur baie tyd en verminder ook skade aan ander masjiene soos planters, spuite en stropers.

Lindsay se Fieldnet-opsies met al die jongste beheer- en kommunikasietegnologie is ook aan boere vertoon.
Lindsay se FieldNet is die enigste spilpunt-besproeiingsbestuurstelsel waar alle tegnologie op een platform saamgevat kan word. Van basiese selfoonbeheer met betrekking tot aan- en afskakel, tot die beheer van wisselbare toediening (variable rates) en die gebruik van elektroniese watermeting met behulp van elektroniese krane word deur FieldNet bestuur. Die FieldNet Advisor-tegnologie kan ook ingesluit word. FieldNet is nie net vir die beheer van Zimmatic-spilpunte nie, maar kan ook gebruik word op enige fabrikaat of kombinasie van spilpunt-fabrikate. Selfs die bestuur van ander besproeiingstelsels soos drup-, mikro- en klapspuite kan ingesluit word.
Nog iets wat die Suid-Afrikaanse Zimmatic-boere ’n voorsprong gee, is dat die maatskappy Lindsay Afrika ’n goeie sakeverhouding met die wêreld-erkende sprinkelaarvervaardigers, soos Senninger, Nelson en Komet, het. Sekere sprinkelaars is meer geskik vir sekere grond, klimaat en gewasse en die kundiges by Lindsay kan jou help om die regte keuse te maak.
Kontak Frederik Nel by 072-517-7581, 021-986-8900 of frederik.nel@lindsayafrica.co.za om meer oor al die tegnologie uit te vind of besoek www.lindsay.com.