Landbou red die ekonomie

DSC_0392
Die feit dat die land se ekonomie nie meer in ‘n tegniese resessie verkeer nie, is te danke aan die reuse bydrae wat landbou gelewer het. Volgens die statistikus-generaal het landbou ‘n groei van 33,6% getoon.
“Dit is ‘n onbetwisbare bewys daarvan dat landbou die grondslag van die ekonomie uitmaak,” sê TLU SA se president, mnr Louis Meintjes.
“Landbou is dus regstreeks verantwoordelik daarvoor dat die ekonomie sodanig kon herstel, dat hy die land uit sy tegniese resessie kon lig.”
“Dit bewys dus dat die regering met vuur speel om landbou as politieke speelbal te gebruik vir polities-ideologiese benaderings oor veral grond. Die land het tans veral ekonomiese stabiliteit nodig, en dit is nou weer eens onteenseglik bewys dat landbou by uitstek kan help om die ekonomie te stabiliseer en selfs te laat groei.
“Daarom moet die regering en ander rolspelers en meningsvormers hiervan kennis neem, en landbou polities met rus te laat, en boere toe te laat om voedsel op elke tafel te plaas en die land tot ekonomiese voorspoed te help neem,” sê mnr Meintjes.
Agri SA het ook in ‘n verklaring sy kommer uitgespreek dat hierdie groei slegs ‘n beperkte uitwerking op die ekonomie sal hê, aangesien langer termyn aanwysers gedempte groei voorspel.
Die land sukkel steeds met rekord werkloosheid- en armoedevlakke, lae beleggersvertroue en onsekerheid in die beleidsomgewing. Suid-Afrika kon sedert 2014/15 nie daarin slaag om groei oor drie agtereenvolgende kwartale aan te teken nie, en is dus een van die swakste spelers onder die opkomende markekonomieë. Dit is weens sy onstabiele politieke omgewing en gepaardgaande beleidsonsekerheid, korrupsie en gebrek aan ekonomiese en politieke leierskap.
Agri SA is egter verheug oor die landbou se positiewe groei in ‘n tweede agtereenvolgende kwartaal en die breër positiewe impak daarvan op die ekonomie.
Bron: TLU SA en Agri SA