Land Cruiser-Fees 19 – 21 Augustus 2016: Steun Boere in Nood

IMG_9794
Die eerste Land Cruiser-saamtrek is in 2013 gehou toe N1 4×4 klante en Cruiser-geesdriftiges genooi het om by hulle aan te sluit by die Windpompfees in Nylstroom. 282 Cruisers het in die pret gedeel. Sedertdien het die geleentheid na Tarlton International Raceway verskuif omdat die terrein die Cruiser-familie die geleentheid bied om aan ’n verskeidenheid bedrywighede deel te neem. Cruiser-eienaars word die geleentheid gebied om hulle “waardevolle speelgoed” te kom vertoon, om ou vriende te ontmoet en om nuwe vriende te maak.
Die N1 4×4 Land Cruiser-fees groei nog elke jaar en in 2015 was daar 371 Cruisers waarmee die naam, “Land Cruiser” gespel kon word (sien lugfoto). Ons probeer om by elke saamtrek twee nuwe Afrikarekords op te stel – een vir die meeste Land Cruisers op een plek en een vir die meeste Land Cruisers in ’n bewegende konvooi. Hierdie pogings sorg telkens vir groot opwinding. Die Tarlton Raceway het ’n groot gebied waar die deelnemers kan kampeer en vure word op die Vrydag- en Saterdagaand verskaf sodat groepe die naweek gesellig kan kampeer en kuier. Daar is ook kosstalletjies, ’n kroeg en ’n aantal uitstallers wat hulle ware, wat op die 4×4-geesdriftige en kampeerder gemik is, vertoon. Die versnelbaan bied die Saterdag vir Cruiser-eienaars die geleentheid om mekaar oor die kwartmyl uit te daag. Elke deelnemer ontvang ’n amptelike tydsertifikaat. Die tydrenritte is baie gewild en die Tarlton-terrein maak dit moontlik om ’n roete uit te lê waar oud en jonk die opwinding van ’n rit in ’n veldrenkar kan smaak. N1 4×4 het spesiaal ’n Prado met vier resiessitplekke en veiligheidsharnasse, ’n rolraam en ander veiligheidskenmerke gebou om dit vir pare en selfs gesinne moontlik te maak om eerstehands die adrenalienvloei te ervaar soos jy gewoonlik net renjaers op die televisie sien doen.
Verlede jaar het die Cruisers wat deelgeneem het altesaam reeds 67 689 027 km afgelê, wat neerkom op ’n gemiddeld van 191 754 km per Cruiser. By vanjaar se saamtrek sal R25 van elke inskrywing aan Boere in Nood geskenk word om hulle te ondersteun in hulle lofwaardige taak om droogtegeteisterde boere en hulle diere te help. Die feestelike atmosfeer sal aangevul word met Bok van Blerk en sy orkes wat Saterdagmiddag sal optree.
Registreer vir deelname by www.n14x4.co.za of stuur vir ons ’n e-pos aan admin@ekspo.co.za, dan stuur ons vir jou die registrasievorms.
