Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 13th March 2024

Laat opdraandes soos afdraandes voel met die nuwe Toyota Land Cruiser 70-reeks

By 4 min read
697 words

render

As ek sê “boer”, dink jy outomaties… Toyota Land Cruiser! In Suid-Afrika is “bakkie” sinoniem met boer. Of jy nou grondpaaie of spitsverkeer in die gesig staar, maak hierdie voertuig die rit nie net makliker nie, maar ook lekkerder. En, met die daaglikse uitdaging van grondpaaie en slaggate, het jy ՚n kragtige Toyota Land Cruiser 70-reeksmodel nodig om jou weg deur ons land te baan.

Glenn Cromptom, vise-president van bemarking by Toyota South Afrika Motors (TSAM), stem saam met hierdie stelling. Hy sê die Land Cruiser 70-reeks kan ՚n wye verskeidenheid klante bevoordeel. Kopers kan kies en keur tussen die enkelkajuit, dubbelkajuit en stasiewa.

“Die toevoeging van ՚n nuwe dryfstelsel sal nie net die aanloklikheid van die Land Cruiser 70-reeks na ՚n groter gehoor uitbrei nie, maar ons klante ook die keuse bied tussen die wringkragryke, viersilinder-outomatiese en die beproefde V8-handrat-modelle.”

Die Toyota Land Cruiser 70-reeks is nou die beste nog! Hierdie voertuig is ná die nuwe opgraderings die definisie van styl en krag. Die opgegradeerde tegnologie, gekombineer met doelgerigte stylveranderinge binne en buite, laat dit behoorlik voel asof jy in ՚n luukse voertuig ry. Dié voertuig is egter rateltaai en geen uitdaging is ՚n probleem vir die kragtige Toyota Land Cruiser 70-reeks nie.

Die donkergrys metaal 16-duim allooiwiele is gereed om enige uitdaging wat op jou pad kom aan te pak.

Meesterlik op die pad en in die veld!

Die Land Cruiser 70-reeks pronk met ՚n keuse van ՚n 4,0-liter-petrol-, 4,2- en 4,5-liter-diesel- of ՚n 2,8-literturbodiesel-viersilinderenjin wat ՚n kragtige 150 kW teen 3 400 opm en 500 Nm wringkrag vanaf 1 600 tot 2 800 opm bied. Die nuwe Toyota Land Cruiser 70-reeks is kragtig en luuks.

Die beste moontlike werkverrigting in moeilike toestande is ՚n gegewe in ՚n Land Cruiser en die nuwe 70-reeks staan nie terug vir harde werk nie. Dié voertuie bly deurgaans koel en het ՚n remsleepvermoë van ՚n stewige 3 500 kg.

Veldry is pure plesier in die nuwe Land Cruiser, te danke aan die voor- en agtersluitewenaars, wat deurgaans die regte hoeveelheid vastrapkrag verseker. Die reeks is ook toegerus met ՚n deeltydse 4×4-stelsel met ՚n laestrek-ratkas, duursame asse en kronkelvere voor.

Koppe sal draai wanneer hierdie voertuig verby ry.

Die vere maak die voël

Die Land Cruiser 70-reeks se retrostilering is duidelik deur vorige modelle geïnspireer en is maklik herkenbaar as deel van dié legendariese voertuig. Die nuwe estetiese opgraderings laat die Land Cruisers gewis kop en skouers bo die ander uittroon.

՚n Breë buffer, swart modderskerms en donkergrys 16”-allooisierwiele rond die Land Cruiser 70-reeks-modelle se opgedateerde, dog sterk en klassieke voorkoms, af en dra by tot die voertuig se gevoel van stabiliteit en krag. Die Toyota-naam, met sy belofte van gehalte en betroubaarheid, staan trots bo die driegleuf-verkoelingsopening geskryf.

Binne die kajuit het al die nuwe Land Cruisers van die 70-reeks ՚n bêreplek met ՚n deksel tussen die voorste sitplekke en dit, saam met die bekerhouers vir jou boeretroos en verskeie kleiner kompartemente, verseker dat jy bêreplek vir alles het.

Die nuwe inligtingvermaakskerm bied Bluetooth-koppeling, asook Apple Car- Play, Android Auto, navigasie en meer. Insittendes kan ook die gerief van lugversorging en elektries beheerde vensters geniet. Die VX-modelle sluit ook ՚n manjifieke Rockford Fosgateklankstelsel in.

Die leersitplekke van die Land Cruiserstasiewa is luuks en duursaam, terwyl die tweede ry sitplekke vorentoe kan vou om die laairuimte te vergroot en by te dra tot die praktiese gebruik van die voertuig. Die ander weergawes se sitplekke is oorgetrek met ՚n duursame grys materiaal wat perfek is vir passasiers wat altyd aan’t rondrits is.

Die Land Cruisers speel in ՚n japtrap klaar met steil opdraandes en die viersilinder-weergawes het boonop afdraandebystandbeheer, wat die remme outomaties reguleer. Die Land Cruiser-stasiewa het ՚n tru-kamera wat help wanneer jy in klein ruimtes moet beweeg. Ander bykomstighede wat bygevoeg kan word, sluit onder meer ՚n yskas en Wi-Fi in.

՚n Spektrum kleure laat jou Land Cruiser by jou styl pas. Kies uit ivoorwit, satynsilwer metaal, sandbeige, grafietgrys metaal, robyn metaal en donkerblou.

Alle Land Cruiser 70-reeks-modelle word aangebied met ՚n 3-jaar/100 000 km-waarborg en ՚n opsionele 100 000 km-diensplan.

Die nuwe Land Cruiser 70-reeks is kragtig en luuks.

Besoek die Toyota Land Cruiser webtuiste by www.toyota.co.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0