Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 5th December 2022

Kyk net: Pioneer loop voor met diens aan die boer

By 6 min read
1220 words

Screenshot 2022-12-05 110831

Die sleutel tot suksesvolle gewasboerdery is om die regte ding op die regte plek te plant. En die manier om te bepaal wat die regte ding vir die regte plek is, is om proewe te plant. Dit is presies wat die gewilde saadverskaffer, Pioneer, doen.

Luister wat vertel Francois Marx, eienaar van Efraim Farming naby Vredefort in die Vrystaat en een van die boere by wie Pioneer proewe plant: “My oupa het op die plaas langsaan grootgeword, waarna sy pa díé grond vir hom gekoop het, en ek die voorreg gekry het om as derde familiegeslag op die plaas te boer. Ons boer in ՚n meer marginale gedeelte van ons land; ons het nie die topgrond van die weste nie en ook nie die reën van die ooste nie. Ons boer nou al twaalf jaar onder die naam, Efraim Farming, wat beteken: Voorspoedig en meervoudig.”

“Ons het ՚n gemengde boerdery, wat verdeel is in ՚n saai-afdeling, waarvoor ek verantwoordelik is, en my broer behartig die vee-afdeling wat bestaan uit kommersiële vleisbeeste. Ons verbou sonneblom, sojabone en mielies, wat op ՚n driejaar-wisselboustelsel gedoen word,” voeg Francois by.

Gefokus op presisie en tegnologiese vooruitgang

Francois verduidelik: “Ons het nou al ՚n paar jaar se goeie data ingesamel deur presisiestelsels. Die data wat ons al ingesamel het, stel ons in staat om beter besluite te neem in terme van grondtipes, verskillende stande en bemestingsbehoeftes.

Martin Brandt, Pioneer-landboukundige, Francois Marx, eienaar van Efraim Farming, en Hennie du Plooy, streeksbestuurder van Pioneer.

“Ons het geenbewerking geërf van die vorige geslagte, en soos ons almal weet, begin jy maar met dit wat jy gekry het. Ons het toe tot die besef gekom dat dit nie heeltemal die pad vir ons vorentoe is met die grondtipe nie.

“Ek het maar oor die jare by ander suksesvolle boere in die omgewing geleer, en dit is waar die gogga van presisieboerdery my gebyt het. Vandat ek meer tegnologie op my plaas begin toepas het, het ek besef dat die opbrengs op die belegging soveel meer is.

“Ek het so ook ՚n pad begin stap met die manne van Cerealis en Precision Planting. Die voordeel van presisieboerdery is dat dit my in staat stel om alle data in te samel, wat my ook lei om beter besluite te neem op grond van die data.”

Efraim Farming se pad met Pioneer

“Ons het verlede jaar vir die eerste keer proewe geplant saam met Pioneer. Ons het nie regtig geweet wat om te verwag nie, omdat dit ons eerste proewe was. In ons omgewing het ons baie uiteenlopende en verskillende grondsoorte en -tipes, en dit stel spesiale uitdagings aan die boer,” sê Francois.

Eerste, nuut-in-sy-soort proef

Pioneer plant jaarliks ՚n verskeidenheid proewe, wat insluit PKP (product knowledge plots), DAT (digitale agronomiese proef) en die eerste-in-sy-soort multikultivarproef, wat vir die eerste keer geplant is by Efraim Farming.

Die Pioneer-span se vernuwende navorsing en data-ontledingsmetodes is gegrond op navorsing oor plaasgrootte, wat hulle in staat stel om uiteenlopende veranderlike faktore wat ՚n impak op graanproduksie het, te bestuur. Die nuutste navorsing en unieke digitale programme word gebruik om graanproduksie te verbeter en waarde vir die boer toe te voeg-met Pioneer-genetika.

Martin Brandt, landboukundige van Pioneer vir Noordwes en Noord- en Wes-Vrystaat vertel meer: “Die proewe wat by Efraim Farming geplant word is die sogenaamde DAT-proewe waar ՚n spesifieke kultivar geplant word volgens die regte grondsoort, regte stand en regte gebied. Die multikultivarproef, wat ook die eerste in sy soort proef is wat uitgevoer word, is waar twee kultivars gelyktydig in dieselfde baan geplant word volgens ՚n voorskrifkaart. Soos tegnologie gevorder het, kan ons dan ՚n voorskrifkaart optrek om vas te stel in watter gedeeltes van die land watter kultivar geplant moet word, en teen watter stand.

“Soos jy oor ՚n spesifieke grondsone beweeg, kan jy een kultivar plant wat dan die beste sal presteer op daardie spesifieke stuk grond, en dan die nuwe kultivar in die volgende sone.

“Stroperdata van die vorige plantseisoen word ingewin en aanbevelings vir
die volgende plantseisoen is saamgestel deur die kundiges van Pioneer, wat dit dan met die boer deel,” voeg Martin by.

Verwagtinge van die proewe

Francois vertel meer oor sy verwagtinge van die proef: “Toe ons die proef saam met die manne van Pioneer beplan het, het ek aan hulle genoem dat ek vanjaar een van my beter lande vir hulle gee vir die proewe, so ons moet regtig goed doen en nie afsteek nie, veral in ՚n moontlike nat jaar wat verwag word.

“Hier is ՚n paar nuwe variëteite waaroor die Pioneer-span baie opgewonde is, en wanneer die nuwe variëteite en genetika op jou plaas getoets word, het jy outomaties ՚n voet in die deur vir toekomstige bestellings,”

sê Francois.

Belangrikheid van proewe vir Pioneer

“Die doel van proewe beteken bloot vir ons dat ons die regte aanbevelings vir boere kan maak,” sê Hennie du Plooy, streeksbestuurder van Pioneer vir Noordwes en Noord- en Wes-Vrystaat.

“Nuwe kultivars word in ՚n spesifieke streek teen verskillende stande geplant om te bepaal waar pas die kultivar in; op watter grondsoort en op watter stand gaan hy die beste presteer.

Die planterkaart nadat die land geplant is. Op die kaart is dit duidelik sigbaar waar die verskillende bane in die land is, asook waar die wisseling van een grondsone na ‘n ander was.

“Vir ons by Pioneer is dit van kardinale belang om ՚n goeie verhouding met die boere in ons omgewing te hê en om ook seker te maak dat boere uit die verskeidenheid kultivars wat tot hulle beskikking is, die regte keuses maak volgens klimaat en streek. Ons wil ՚n pad saam met die boer stap,” voeg Hennie by.

Hennie vertel meer: “Wanneer ons boere identifiseer by wie ons spesifieke proewe wil plant, is dit belangrik dat ons vooraf bepaal wat ons graag daarmee wil bereik.”

Die vrae wat vooraf gevra word is:

  • Wat is die doel van die proef?
  • Is die plant van proewe van waarde vir die boer?
  • Is die fokus op die regte omgewing?
  • Wat is die grondtipe en grondkartering?

“Ons agente in die veld identifiseer boere, waarna ons saam met die boer om ՚n tafel sit en die nodige elemente bespreek. Dit is ook belangrik dat die boer by wie ons die proewe plant, die regte toerusting het om die proef korrek en suksesvol te kan deurvoer.”

Plantwerk by Efraim Farming word op die regte manier met die regte toerusting gedoen.

Watter voordele bied die proef vir die boer?

“In vandag se boerderypraktyke, veral vir boere wat meer gefokus is op presisieboerdery, is data goud werd. Deur die proefplantproses kry die boer data tot sy beskikking, asook ՚n voet in die deur vir toekomstige besluitneming oor saad- en kultivarkeuses volgens sy plaas se data.

“Ons wil ՚n wye verskeidenheid agronomiese kundigheid, spesialiteite en ervaring opbou om ons boere te ondersteun en die regte raad te gee,” sluit Hennie af. Pioneer se belofte aan boere Pioneer is toegewyd daartoe om oplossings te vind om opbrengste te help verbeter en die produktiwiteit van boere regoor die wêreld te verhoog.

Vir meer inligting besoek Pioneer se webwerf by https://www.pioneer.com/za of stuur ՚n e-pos na info.rsa@pioneer.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0