Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 5th July 2024

Kunsmis, kalk, gips … Rovic se reuse RSS 13-18 Syncrospread strooi baie mooi

By 4 min read
676 words

IMG_3926

Casper van Zyl, ingenieur van Rovic, het die maatskappy se nuwe Syncrospread dubbelas-strooier tydens vanjaar se NAMPO aan boere bekend gestel.

Boere het verstom gestaan oor die doeltreffendheid van die nuwe Syncrospread dubbelas-strooier wat Casper van Zyl van Rovic tydens vanjaar se Graan SA NAMPO by Bothaville in die Vrystaat bekendgestel het.

Casper is die hoof ingenieur vir Rovic se strooier afdeling, genaamd Syncrospread.

Die nuwe Rovic Syncospread (RSS 13-18) se vlekvryestaalbak van 13 kubieke meter het ‘n inhoudsmaat van 18 ton. Ysterallooi-houers is ook beskikbaar, maar die voordeel van vlekvryestaal is dat dit langer hou.

Die Syncrospread-strooier is by uitnemendheid ‘n presisiestrooier. Die dryfband en draaiskywe word beheer, asook die draaiskyfspoed om strooiwydte aan te pas.

Dit is ‘n Isobus-strooier. Tans is daar ‘n Raven-stelsel op die strooier, maar dit kan met ‘n Topcon- of Greenstar-stelsel toegerus word.

Daar is ook ‘n klepbeheerder van Hidec wat die olievloei na die draaiskywe en dryfband presies beheer. Die klepreguleerder is toegerus met ladingsensors wat direk aan die oliepomp gekoppel word en nie deur die bedrading op die stang nie. Soos wat die strooier olie benodig, gaan daar ‘n sein na die trekker wat presies aandui hoeveel olie om na die strooier te stuur.

Een van die vele opsies is dat die strooier se ketting vloer met een of twee motors aangedryf kan word, die voordeel van die twee motor stelsel is dat die boer dan met presisie kan strooi asook die voordeel van dat jy minder stress en impak op jou motors plaas wat die lewensduur aansienlik verleng.

Die nuwe Rovic Syncospread (RSS 13-18) se vlekvryestaalbak hou 13 kubieke meter of 18 ton.

Draaiskywe

Volgens Casper is die draaiskywe die belangrikste komponente van ‘n strooier.

Die draaiskywe is geskik vir die strooi van verskillende toedienings soos kalk, kunsmis, mus en gips. Die draaiskywe word onderwerp aan baie vibrasies soos wat die produk daarop val, daarom is dit toegerus met ‘n dubbele laer en ‘n huls wat die vibrasie tussen die draaiskyf en die hidrouliese motor kanselleer.

Die klipskeier aan die agterkant is deur Rovic ontwerp en gepatenteer, die doel daarvan is om klippe wat in die produk mag voorkom te skei en te verhoed dat die draaiskywe beskadig word. Die spasiëring van die klipskeier se groewe kan ook maklik verstel word na gelang van die deursnee van die materiaal wat gestrooi moet word.

Volgens Casper moes Rovic deur ‘n proses van akkreditasie gaan. “Ons is baie trots om te sê ons kan vir julle ‘n geakkrediteerde presisiestrooier bied.”

Op hierdie groot strooier met sy inhoudsmaat van 18 ton is twee aste nodig, met ‘n askoppeling in die middel wat die gewig eweredig tussen die twee aste versprei.

Die agterste as is ‘n stuur-as wat sorg dat die as saam met die strooier draai wanneer dit nodig is om ‘n skerp draai in die land te maak. Die voorste as is ‘n geremde as wat aan die trekker se rem-aksie gekoppel kan word.

Rubberblokke onder die trekstang maak dit ‘n geveerde trekstang wat impak absorbeer oor rowwe terrein.

Die klipskeier is deur Rovic ontwerp en gepatenteer met die hoofdoel om die draaiskywe te beskerm.

Trekstang

Die trekstang is toegerus met ‘n BullPull-koppelstuk om verskillende deursnee trekpenne te kan akkommodeer. Dit help ook om terugvoering vanaf die strooier oor rowwe terrein op die trekker se sleepstang te verminder.

Alles aan die trekstang is verstelbaar in hoogte. Die BullPull kan op en af beweeg en die montering van die trekstang kan verander word om perfek aan enige trekker te pas.

Aan die binnekant van die strooier is ‘n rooster wat klippe van die produk skei. Daar is ook ‘n brug van vlekvrye staal wat modulêr is sodat die seksies maklik deur ‘n enkele persoon uitgelig kan word om byvoorbeeld op ‘n bakkie te laai.

Die strooier is toegerus met weegselle wat gekalibreer kan word. Soos wat die masjien strooi, verwerk dit die toedieningsprogram en die hoeveelheid produk wat reeds gestrooi is. Die presisiestelsel vergelyk die hoeveelhede en pas die kalibrasie outomaties aan.

Die strooier is toegerus met ‘n dubbele laer en ‘n spinnekop-huls wat die vibrasie tussen die draaiskyf en die hidrouliese motor uitskakel.

Kontak www.rovic.com vir meer inligting oor die strooier.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1