Kragdag bied ‘n magdom antwoorde vir selfdoen
Soos Eskomkrag by die dag duurder raak, word hernubare energie goedkoper en meer betroubaar. Tydens die agtste Kragdag het die meer as 13000 besoekers en 335 uitstallers duidelik gewys dat hierdie sektor besig is om uit sy nate te bars. “Ons kon hierdie jaar ons uitstallers met 40% vermeerder, sê HP Steyn, woordvoerder van Kragdag. Hierdie is ook die eerste jaar wat die skou een ekstra dag bygekry het, waartydens watersekerheid tot die reeks seminaarbesprekings bygevoeg is. ProAgri het die seminaar bygewoon en met sakke vol nuwe inligting daar weggestap.
Mark Tiepelt kyk holisties na biogasproduksie
“Die goue reël vir biogasproduksie is: Enigiets wat jy teoreties in jou maag kan verteer is veilig vir ‘n biogasaanleg,” sê Mark Tiepelt, ‘n siviele ingenieur met 25 jaar ondervinding in konstruksie, alternatiewe strukture en volhoubare energietegnologie.
Hy het in 2009 ‘n onderneming met die naam, BiogasSA, gestig wat al meer as 120 huishoudelike biogasaanlegte geïnstalleer het. Hy was ook betrokke by die stigting van die Suid-Afrikaanse Biogasbedryfsvereniging (SABIA) en is vandag vir die tweede termyn voorsitter daarvan.
Aanvanklik het Mark in huishoudelike stelsels gespesialiseer, maar algaande sy aandag op kommersiële aanlegte begin toespits. Hy het onlangs ‘n 400-kW-aanleg by ‘n slagpale in bedryf gestel.
Daar is tans 500 biogasaanlegte, wat wissel van klein tot groot, in Suid-Afrika. As ons dit vergelyk met Sjina se 17-miljoen, Indië se 12-miljoen en die 10 000 aanlegte wat in Tanzanië wat teen 2017 in werking moet tree, is Suid-Afrika se biogasbedryf nog in sy kinderskoene.
“Die tipe afvalstof en hoeveel jy beskikbaar het is die bepalende faktor in die hoeveelheid biogas wat jy gaan produseer. Die onverwerkte riool wat vyftien mense, twee beeste, sewe perde of tweehonderd hoenders per dag produseer, gee vir jou een kubieke meter biogas waarmee jy ‘n uur lank op ‘n tweeplaatstoof kan kook. Omgeskakel na elektrisiteit lewer dit 1,5 tot 2 kilowatt-uur. Daar is R3 000 se waarde in een bees se mis per jaar as die waarde van die hitte en kompos en elektrisiteit in ag geneem word…
“Per kilowatt is die opwekking van biogas steeds duurder as Eskom se elektrisiteit, maar boere moet na die verskanste waarde van biogas kyk,” sê Mark. “Die kopseer om afvalwater te hanteer val feitlik weg, organiese kompos word geproduseer en die hitte van die kragopwekker kan benut word. Die groen faktor kan ook vir ‘n boer ‘n premie beteken wanneer sekere kleinhandelaars by hom aankoop.”
Om ‘n biogasaanleg te bou is relatief eenvoudig, maar daar is ‘n paar uitdagings waarna ‘n boer moet kyk. Eerstens moet ‘n omgewingsimpakstudie gedoen word en finansiering hang af van die lewensvatbaarheid van elke spesifieke stelsel, wat aan baie veranderlikes onderwerp is. ‘n Boer sal ook baie minder water moet gebruik tydens die skoonmaakproses van sy stalle en hokke om die regte persentasie afvalwater in die stelsel te plaas.
Die uitstallers het ook nie teleurgestel nie en ProAgri het by ‘n paar van hulle gaan inloer.
Joop Coetzee (regs) is die hoof van RealNet Plotte en Plase. “Ons streek is aan die oostelike kant van Pretoria en lê tussen die Delmas-Bronkhorstspruit-grens, die Delmaspad en Warmbad in die noorde. Ons bedien ook oop gebiede wat vanaf Alldays in die noorde tot by Warden in die suide strek.
“Ek het ‘n boerdery-agtergrond en ‘n liefde vir grond, soos baie van die mense wat saam met my werk. Landbougrond is ‘n nismark en dit is waarop ons konsentreer. Ons agente is baie op die pad, want die afstande tussen eiendomme is groot. Dit kan tot een hele dag neem om een eiendom vir ‘n kliënt te gaan wys,” sê hy. Links van hom staan Victor Strydom, Celeste Coetzee, Elsebe Visser en dr Danie Visser.
The Lawnmower Shop is in in Silver Lakes, Pretoria, geleë en verskaf onder meer Kubota-trekkers. “Kubota het hulle eerste enjin in 1901 gebou en vandag besit hulle 90% van die wêreldmark in enjins kleiner as 50 perdekrag. Sedert 1974 is hulle trekkers ook in Suid-Afrika beskikbaar,” sê Rudi van der Merwe.
“Elke Kubota wat vandag vervaardig word het reeds ‘n hidrouliese stelsel en hegpunte ingebou waar ‘n voorste laaigraaf spotmaklik aangeheg en afgehaal kan word,” sê hy. Rudi wys waar die aftappunte vasgebout kan word om die laaigraaf se silinders te bedien.
Vir Solupro is dit baie belangrik dat die kliënt eers ’n deeglike behoeftebepaling moet doen voor hulle ’n produk aan hom verkoop. Hy moet onder meer besluit of hy heeltemal onafhanklik wil wees of steeds gedeeltelik Eskomkrag wil gebruik. “Ons kan selfs ’n klein kragstasie op ’n boer se plaas bou. In baie gevalle is daar boere wat tot drie jaar wag vir Eskom-transformers om hulle nuwe spilpuntstelsels te bedien. In so ’n geval beskik ons oor die tegnologie en die inhuis-vermoë om vir hulle ’n totaal onafhanklike stelsel op te rig. Ons kan so ’n installasie in ’n anderhalfdag oprig en as daar van die toerusting ingevoer moet word sal dit tussen vier en ses weke duur,” sê Chanté Robbertse. Weerskante van haar staan Coenie Groenewald en Louis Robbertse en agter hulle is ’n 3-kilowatt Victron hibriede stelsel wat sy oorskietkrag in ’n batterybank kan berg of terug in die netwerk kan plaas.
Eco Truss se sterkpunt is dat hulle liggewigstaal gebruik om ’n dakkap met ’n span van tot 35 meter te vervaardig. “Jy het dus geen ondersteuning aan die binnekant nodig nie,” sê Debbie van der Merwe. “Ons kan ook die raamwerk vir ’n tweede vloer verskaf met ’n drakrag van 500 kg per m².
Gerrit Portheine van Lavoro het saam met Eco Truss uitgestal en kan vir ’n boer die panele, strukture en dakmateriaal verskaf. “Die isolasie van hierdie panele is net so doeltreffend soos ’n dubbelbaksteenmuur,” sê Gerrit Portheine. Debbie van der Merwe, Romeo Pole, Josef Marè, Robert Wagner, Michael Welgemoed en Gerrit Portheine het die gesamentlike stalletjie beman.