Categories: Farm smart!Published On: 23rd February 2015

Kragdag 2014

By 4 min read
779 words

Recor

Wanneer ’n skou kan spog met ’n voorafgaande seminaar; ’n amfiteater waar ’n wye verskeidenheid interessante sprekers nuttige inligting kan oordra; hope vermaak vir afleiding en stalletjies het wat ’n rugbyveld sal volmaak, kan dit as ’n dawerende sukses beskou word.

Met ’n spartelende ESKOM wat kort-kort dreig om in sy eie ‘ineptokrasie’ te verdrink en derhalwe kragpryse die hoogtes injaag en hinderlike beurtkrag plek-plek toepas, is KragDag die antwoord vir mense wat genoeg gehad het en voel dat die tyd aangebreek het om hulleself van die dienstenetwerk los te maak.

Die jaarlikse skou, wat op 25 tot 27 Junie, 20 km buite Pretoria op die plaas Diamantvallei, gehou is, vier vanjaar sy sesde bestaansjaar en groei elke jaar met rasse skrede.

Boere beleef ook die druk van duurderwordende en onbetroubare krag en ProAgri is elke jaar daar om uit te vind hoe boere meer kragonafhanklik kan raak.

Vanjaar is die voorafgaande seminaar in twee parallelle sessies gedeel. Een was gemik op die man op straat en een vir ondernemers. Du Preez de Villiers het die lesings vir die man op straat bygewoon om te hoor wat boere kan doen om energie en krag te bespaar.

“’n Huis wat afhanklik is van munisipale dienste, is soos ’n pasiënt in ’n hoësorgeenheid wat met inkomende en uitgaande kabels en pype verbind is om aan die lewe te bly,” is die nadenkingswaardige woorde van Christiaan van Zyl, ’n argitek uit Orania wat sy eie aardskip (’n natuurvriendelike huis wat met afvalmateriaal gebou word, energie optimaal benut en selfonderhoudend is) gebou het. Christiaan het tydens die seminaar die breine aan die gang gesit met sy vars idees toe hy van sy ervarings met die oprigting van sy eko-vriendelike huis vertel het. Mediums soos donker en ligte klippe, water, glasluike, buitebande, koeldrankbotteltjies, grasbale en ‘lewende’ dakke het alles ’n plek in sy ontwerpe.

“As jy ’n installeerder soek vir jou sonwaterverwarmer, is die volgende punte belangrik om na te kyk: Die installeerder moet reeds vyf jaar in die bedryf wees hy moet ’n verwysing of twee hê, die produk moet deur ’n plaaslike verteenwoordiger gerugsteun word en hy moet ’n lidnommer by SESSA (Volhoubare Energievereniging van Suid-Afrika) hê, sê Venter Malan, ’n meganiese ingenieur wat die verskillende soorte tegnologie vir sonwaterverhitting vergelyk het.

Deon Herbst van Exelis vervaardig polistereenpanele met buitewande wat versterk is met magnesiumoksiedlae. Die panele kan gebruik word vir mure, dakke en vloere en ’n huis van 160 vierkante meter kan binne 12 dae daarmee gebou word. Die materiaal het ’n besondere vermoë om klank en hitte te isoleer en is baie sterker as bakstene. Daar kan so hoog as drie verdiepings sonder staalversterking met die panele gebou word.

Vanjaar was daar ook baie meer uitstallers wat die skeppendse produkte om energie te bespaar, uitgestal het. Die ProAgri-span het met ’n paar van hulle gesels:

Albert Coetzee en Marius Kok is van Snappy Chef Suid-Afrika, wat baie gewild word en alombekend raak. “Die boere ondersteun ons baie goed en ons verskaf ook ons stowe en kombuisware aan koöperasies soos NWK, OVK, Agri-Tuinroete en ander. Kragbesparing, veiligheid en veeldoeligheid is die groot redes hoekom die stoof so gewild is,” sê Marius. Hier wys hy hoe lyk die koperklos wat die magneetveld binne-in die stoofplaat opwek.

Hennie Potgieter, Pieter Snyman en Conrad Kuun is baie trots op hulle maatskappy, Solartech se wye reeks produkte. Hulle lewer van sonkragpanele en windturbines tot boorgatpompe, en vestig netwerkstelsels waar hulle krag terug in Eskom se netwerk kan stuur om jou rekening te verminder. Hulle verskaf ook stelsels wat met batterye werk waar jy kan wegbeweeg van Eskom af, sowel as samestellings van die twee soorte stelsels. Hulle voorsien ook waterstelsels en al hulle produkte kom van Duitsland af.

Ratsbrand is al ’n ou bekende onder ProAgri se lesers. Carel Boshof en sy seun, Hendrik, spog met hulle jongste produkte wat vanaf ’n bakkie se battery kan werk.Carel hou ’n stertknipper met ’n verhitte koperlem wat die stert netjies afseël, vas en Hendrik ’n brandyster met verwyderbare nommers of letters.

Bio Sewerage Systems verander swartwater in bruikbare besproeiingswater. “Ons het al die werkershuise se rioolwater op ’n plaas in Botswana en Zambië in water omskep om hulle lusernlande te benat. Die stelsel is deur DWAF (Departement van Water en Bosbou) en die Pretoria-munisipaliteit goedgekeur. Dit voldoen aan die voorwaardes vir afvoerwater,” sê Raymond van den Berg. Verder kan die water ook gebruik word vir die benatting van stowwerige oppervlaktes, in watergate vir wild en vir motorkarwas. Dit is net nie geskik vir menslike gebruik of terugplasing in riviere nie. Mariet Ferreira, Raymond van den Berg en Victor Mtolo spog hier by hulle bio-rioolstelsel.

 

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0