Ken jy die Veediefstalwet?

skape
Die VKB/VL Veiligheidslessenaar het in hulle Nuusflitse berig oor boetelyste wat opgedateer is en in sommige gevalle wesenlike boetes wat voorgeskryf word vir oortreding van die wet. Boere is gewaarsku om seker te maak hulle neem kennis en verstaan die implikasies. Diere moet na behore gebrandmerk word en dokumentasie moet in plek wees wanneer diere gekoop of verkoop word. Die Polisie moet teen alle oortreders optree, ook vee-eienaars wat nie die Wet nakom nie.
Wet op Diere Identifikasie, Wet 6 van 2002
Art 16(b) saamgelees met Art 15(1)(a)-(f):
Niemand mag in sy besit hê ‘n dier wat nie in ooreenstemming met of ooreenkomstig ‘n wyse soos toegelaat in hierdie Wet gemerk is nie.
Art 15(1): Niemand mag-
(a) ‘n dier merk of toelaat dat dit gemerk word met ‘n merk wat nie ‘n identifikasiemerk is nie;
(b) ‘n dier merk of toelaat dat dit gemerk word met ‘n identifikasiemerk sonder die magtiging van die eienaar van daardie identifikasiemerk nie;
(c) ‘n dier merk of toelaat dat dit gemerk word met ‘n identifikasiemerk op ‘n ander wyse as wat voorgeskryf word nie;
(d) ‘n dier merk of toelaat dat dit gemerk word met ‘n identifikasiemerk wat nie geregistreer is in die naam van ’n persoon wat nie die eienaar van die betrokke dier is nie;
(e) ‘n dier merk of toelaat dat dit gemerk word met ‘n identifikasiemerk wat nie voldoen aan ‘n voorgeskrewe merk ten opsigte van die groep van diere waaraan die dier behoort nie;
(f) een of meer identifikasiemerk ten opsigte van dieselfde groep diere gebruik nie, tensy die registrasie van al die identifikasiemerke verkry is in terme van hierdie Wet.
Geliewe daarop te let dat paragrawe (a), (c) en (e) nie van toepassing is-
(a) op die merk van diere ooreenkomstig die reëls en verordeninge van ‘n telersgenootskap soos gedefinieër in artikel 1 van die Diere Verbeteringswet 62 van 1998 nie; of
(b) deur die merk van diere deur die teler daarvan – wat betref ‘n dier wat geregistreer is of aangeteken is, na gelang van geval, by die Suid Afrikaanse Stamboek en Vee Verbetering Vereniging – nie.
Oortredings in dié verband: Boete – R3 000
Art 16(i) saamgelees met Art 7(1)(a) gelees met Art 5(1)(a),
Artikel 7(1)(b),(c) en/of (d), of 7(2)(a), (b)(i) en/of (b)(ii), of 7(3)
Versuim om te voldoen of oortredings van enige van die bepalings van Artikel 7
Art 7(1) Elke eienaar van diere moet-
(a) aansoek doen vir registrasie van ‘n identifikasiemerk in terme van Art 5(1);
(b) sy/haar diere merk op die voorgeskrewe wyse;
(c) waar die identifikasiemerk op ‘n dier onsigbaar of onduidelik is, die dier duidelik deur die eienaar gemerk moet word binne 14 dae nadat hy/sy van instruksies deur die registrateur, ‘n gemagtigde persoon, offisier of polisiebeampte voorsien is, en
(d) die registrateur in skrif in kennis stel van enige wysigings wat betref sy of haar adres;
(2) Niemand mag-
(a) binne 14 dae nadat hy die eienaar van ’n dier met ‘n identifikasiemerk geword het, daardie dier verkoop, ruil, weggee of op enige wyse daarmee handel, tensy hy die persoon wat die dier verkry van ‘n identifikasiedokument voorsien nie; of
(b) 14 dae na die datum wat hy die eienaar van die dier word, die dier verkoop, ruil, weggee of op enige wyse daarmee handel nie, tensy-
(i) sodanige dier gemerk is ooreenkomstig die voorgeskrewe wyse met ‘n identifikasiemerk van die eienaar wat met die dier gehandel het; en
(ii) hy of sy die persoon wat die dier bekom het van ‘n identifikasiedokument voorsien het.
(3) In terme van Art 3 moet die dokument wat in subartikel 2 aangedui is, vir ‘n tydperk van 1 jaar bewaar word.
Oortredings in dié verband: Boete – R5 000
Omheiningswet, Wet 31 van 1963
Art 22(a) bepaal dat dit ’n oortreding is om ’n hek in ’n draadheining oop te maak en dit oop te los of nie vasgemaak/gesluit laat nie.
Boete – R1 000
Art 23 bepaal dat dit ’n oortreding is om oor of deur ’n draad of hek te klim sonder die toestemming van die eienaar of huurder van die grond waar sodanige draadheining of hek geleë is.
Boete – R500
Art 24 bepaal dat iemand wat opsetlik enige draadheining of hek, of enige deel daarvan wat die doel van ’n hek dien, beskadig, skuldig is aan ’n misdryf.
Boete/vervolging – Hof
Veediefstalwet, Wet 57 van 1959
Art 6(1) saamgelees met subartikel (5)(a) bepaal dat enige persoon wat vee verkoop, ruil, weggee of op enige wyse daarmee handel sonder dat ’n identifikasie-dokument oorhandig is aan die persoon wat die vee gekoop, geruil, gegee of op enige ander wyse mee gehandel het, is aan ‘n misdryf skuldig.
Boete – 0 – 10 diere: R5 000, 11 of meer diere: Hof
(In gevalle waar soortgelyke oortredings binne ‘n tydperk van 6 maande plaasvind, word gevalle van 0 – 10 diere ook direk na ’n hof verwys)
Art 6(2) saamgelees met subartikel (5)(a) bepaal dat enige persoon wat vee wat verkoop, geruil, weggegee of op ‘n ander wyse mee gehandel het – asook ontvang het sonder dat ’n identifikasiedokument ten tye van die aflewering verkry is – aan ’n misdryf skuldig is.
Boete – 0 – 10 diere: R5 000, 11 of meer diere: Hof
(In gevalle waar soortgelyke oortredings binne ‘n tydperk van 6 maande plaasvind, word gevalle van 0 – 10 diere ook direk na hof verwys)
Art 6(3) bepaal dat enige persoon wat versuim om die dokument waarna in art 6(1) verwys word vir ’n tydperk van een jaar te bewaar, aan ’n misdryf skuldig is.
Boete – R5 000
Art 8(1)(a) saamgelees met subartikel 8(a) bepaal dat enige persoon wat nie die eienaar van vee of hul produkte is nie en wat sodanige vee vervoer op/of langs ’n openbare pad sonder dat hy/sy in besit is van ’n verwyderingsertifikaat wat uitgereik is deur die eienaar van die vee of produkte of sy/haar behoorlik gemagtigde agent, is aan ’n misdryf skuldig.
Boete – R5 000
Art 8(2) saamgelees met subartikel (8)(a) bepaal dat enige persoon wat veroorsaak of toelaat dat vee of produkte, waarvan hy/sy die eienaar is, vervoer of aangejaag word deur ’n ander persoon op/of langs ’n openbare pad sonder dat die laasgenoemde van ’n verwyderingsertifikaat voorsien is, aan ’n misdryf skuldig is.
Boete – R5 000
Bron: Vrystaat Landbou Nuusflitse