Categories: NewsPublished On: 7th March 2017

Kanada gaan SA help met entstowwe

By 2 min read
306 words
entstowwe

inenting

Kanada het R60-miljoen bewillig vir die ontwikkeling en verbetering van entstowwe deur die LNR (Landbounavorsingsraad). Dr Shadrack Moephuli, hoofbestuurder van die LNR, het met die bekendstelling van die organisasie se jaarverslag vir 2015/16 gesê gedwonge begrotingsbesnoeiings het ’n groot impak op die Raad se werk gehad.

Luidens die Raad se jaarverslag is die LNR betrokke by ’n aantal projekte om nuwe entstowwe te ontwikkel wat spesifiek geskik is vir toestande in Afrika. Navorsers van die LNR se Onderstepoort-instituut vir Veeartsenykunde werk saam met navorsers van die Universiteit van Alberta in Kanada. Hulle het finansiering van R60-miljoen van die Kanadese Internasionale Ontwikkeling- en Navorsingsentrum (IDRC) en Wêreldsake Kanada verkry vir die ontwikkelling van nuwe entstowwe en die verbetering van bepaalde vee-entstowwe.

Onder die entstowwe wat in die projek ontwikkel word, is:

  • ’n Multivalente entstof wat vee teen knopvelsiekte en slenkdalkoors beskerm vir gebruik in Suider-Afrika.
  • ’n Entstof teen knopvelsiekte en slenkdalkoors wat kleinvee ook teen runderpes by kleinvee (peste des petits ruminants) beskerm. Dié entstof sal in Kenia geregistreer word vir gebruik elders in Afrika omdat dié siekte nie in Suid-Afrika voorkom nie.
  • ’n Entstof teen Afrika-varkgriep (ASF).
  • Vroeë proewe het belowende resultate opgelewer, maar bykomende werk is nodig om die stowwe te verfyn.

Verder is die LNR betrokke by die ontwikkeling van ’n entstof teen bek-en-klouseer wat minder afhanklik is van die koueketting. Goeie proefresultate is ontvang met twee termo-stabiele entstowwe wat volle beskerming aan vee bied tot vyf maande nadat hulle ingeënt is.

Die LNR is besig met die aanbou van ’n aanleg vir die produksie van die entstof teen bek-en-klouseer. Altesaam R188-miljoen is vir die aanleg opsy gesit, waarvan R127-miljoen nog nie bestee is nie. Luidens die jaarverslag is die aanleg nog in aanbou omdat die beskikbare geld onvoldoende is om die oorblywende werk te voltooi.

Bron: RPO nuusbrief

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0