Categories: NewsPublished On: 20th December 2016

Jaguar F-Pace: Net die kat vir wanneer jy met jou kerkklere in die bos wil kattemaai

By 5 min read
914 words
jaguar

jaguar-f-pace-first-edition-dynamic-at-the-track-00008

Jaguars is nie juis tuis in Afrika nie- dis nou daai leeuagtige Agentynse katgedierte. Ons hier in Afrika het leeus, tier se kind, luiperds, boskatte, tierkatte, muskeljaatkatte, en ja selfs straatkatte. Die tweebeen modelle op straathoeke is egter ‘n storie vir ‘n ander tydskrif. Daar’s natuurlike slimkatte ook, maar hulle is veral in die politiek waar hul boonop slu ook is. Maar daar is nog ‘n kat, weliswaar ook ‘n soort straatkat, wat uit Whitley, Coventry in England kom vanwaar ‘n roemryke geskiedenis en nalatenskap van pragtige en eksotiese sport- en renmotors sy oorsprong het.

In 1922 het twee motorfiets entoesiaste, genaamd William Lyons en William Walmsley “The Swallow Sidecar Company” gestig.  Na 12 jaar het Walmsley genoeg gehad en sy aandeel in 1934 aan Lyons verkoop, wie toe SS Cars Ltd gestig en Walmsley se aandeel met publieke aandelekapitaal gekoop het.

In September 1935 het die SS Jaguar verskyn, ‘n passasiermotor met ‘n 2.5 liter petrolenjin.

Oor die jare het Jaguar verskillende vennote en eienaars gehad, maar in 1945 is die naam amptelik verander na Jaguar Cars en in 1984 onder  Margaret Thatcher, is Jaguar geprivatiseer en op die Britse beurs gelys. Die gesogte luukse motor het later die amptelike voertuig van die Britse eerste minister geword en spog ook met koninklike waarborge van die Koningin van Engeland en Prins Charles.

Wamsley  en Lyons sou seker in hulle komkommerbroodjies gestik het toe die Indiese reus TATA die maatskappy saam met Land Rover en Range Rover  in 2008 oorkoop. Vandag word Jaguar motors in Jaguar Land Rover se ingeneurssentrums by die Whitley aanleg in Coventry ontwerp, waarna die eindprodukte in die Castle Bromwich en Solihull aanlegte gebou word.

Die F-Pace is Jaguar se eerste luukse es-joe-wee en laat meeste Jaguar purist, wie hul motors as klassiek, luuks en sportief beleef, se bolippe behoorlik styftrek. ‘n Boskat uit Coventry? “Not on my driveway ‘ol chap!”

F-Pace ontleen sy naam glo van die stigter Lyons, wie Jaguar beskryf het as “grace, space and pace” en is meer jagluiperd as leeu. Gebou op die modulêre onderstel van die F-Type sportmotor wat uit 80% aluminium bestaan, is die klem op spoed en sportiwiteit. Net reg om die ander straatkatte soos Audi Q5, Porsche Macan, BMW X3/X4, Mercedes GLC en stalmaats Range Rover Evoque in die blink strate van Sandton en Clifton aan te vat.

Uiterlik van die kant bekyk, is daar effe trekke na Porsche se Cayenne, maar die stert, agterligte en kant kieuwe het duidelik inspirasie by die F-Type sportmotor geleen. Voor is die sierrooster en skrefie-oog hoofligte egter korporatief Jaguar. Die geheelbeeld straal van aggressie, krag en spoed – soos dit ‘n groot spiertier betaam.

Ons het beide die V6 3.0 liter petrol met drukaanjaging (250 kW/450 Nm)as die V6 3.0 liter turbodiesel (221 kW/700 Nm)modelle gery. Beide modelle stuur krag na al vier die wiele.

Binne is die F-Pace kajuit tipies luukse Jaguar, beklee in oordadige sagte leer met dubbelle stikwerk en omvattende moderne toerusting. Soos dit ‘n sportsnuts betaam is daar ruim sitplek vir vyf insittendes en bied die bagasieruimte 463 liter pakplek. Die agterste sitplekke beskik oor elektriese verstelling en kan ook platvou wat die pakruimte na 1740 liter vergroot. Modelle is SA kom standaard met ‘n volgrootte spaarwiel. Die instrumente se uitleg is soortgelyk aan die nuutste Jaguar XF en XE motors met ‘n digitale skerm wat die toere, spoed en ander ritinligting uitbeeld. ‘n Groot volkleur hoë-definisie raakskerm is sentraal in die voorpaneel geplaas en daarop is daar meer klank-, kommunikasie-, inligtingfunksies en megêfters beskikbaar as wat ‘n sak vol slimfone kan bied.

jaguar

Met die inklimslag gloei die aansitterknop polsend rooi soos ‘n kwaai ondier se oog. Druk jy dit, skakel die enjin aan en styg die ronde ratknop dramaties uit die middelkonsole. Die 8-gang outomatiese ratkas  sorg vir soomlose ratskakeling en bied die soortgelyke Terrain Response permanente viertrekstelsel soos in die Land Rover en Range Rover modelle, waar die stelsel jou toelaat om ‘n ritmodus te kies na gelang van die terrein. ‘n Keuse uit sand-, sneeu- of rotsmodus laat die rekenaar die ratkas en dryfstelsel aanpas na gelang van jou keuse. Ek mis egter die modus wat sê “Sypaadjie/randstene”, want dit is die naaste aan “Off road” wat meeste van die F-Pace voertuie wat in SA verkoop gaan word,sal moet trotseer. Met ‘n grondvryhoogte van 210 mm sal die kat dit egter gemaklik kan spring. Soortgelyk soos in Jaguar motors is daar ook ‘n “Sport”-modus, waar die instrumentasie se agtergrondkleur na rooi verander en die veerstelsel, ratskakeling en stuurwiel verander vir ‘n meer dinamiese en sportiewe rit.

Op die pad is die F-Pace indrukwekkend. Die V6 petrol se 0-100kpu lopie neem slegs 6,0 sekondes en amptelike brandstofverbruik word aangegee as 8,9 l/100 km. Die V6 turbodiesel model draf die 0-100 kpu af in 6,2 sekondes, terwyl amptelike verbruik aangegee word as 6,0 l/100 km. Die diesel is my keuse danksy ‘n gladder rit, beter brandstofverbruik en slegs maginaal swakker verrigting.  Die F-Pace is myns insiens net te duur, grootliks weens ‘n swakker rand wat nou strop trek teen die sterk Britse pond. Jy kan kies tussen vier afwerkingsvlakke op beide modelle, met die V6 petrol se prys wat by R992 846 begin vir die intree “Pure”afwerking tot R1 331 146 vir die duurste “First Edition” weergawe.

Die 3,0 turbodiesel trek weg by R942 646 vir die “Pure” en eindig by R1 222 546 vir die luukste “First Edition”. As jy egter hou van in die bos kattemaai met jou kispak aan, is die F-Pace net die regte kat!

ultimate drive

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

jaguar

jaguar

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0