Jagter vat lastige varke vinnig vas

gerrit 7
Het jy probleme met bos- en vlakvarke in jou mielie-, aartappel en ander landerye? Gerrit Jordaan van Pretoria, ’n toegewyde sportskut en etiese jagter, help graag met diere wat skade veroorsaak.
“Anders as wanneer ’n jagter wat byvoorbeeld tot R1 500 vra om ’n jakkals op ’n boer se plaas te kom verwyder, vra ons nie vir die boer geld om die lastige varke te skiet nie,” verduidelik Gerrit Jordaan. Gerrit (67) is in Pretoria gebore en getoë. Hy en sy vrou, Marietjie, is al 42 jaar getroud en woon in die voorstad Montana Tuine in die Jakarandastad. Hulle het twee kinders en is die trotse grootouers van drie kleinkinders.
Gerrit is ’n bedryfskonsultant, hoofsaaklik in die finansiële wêreld, en hy is sedert 1990 verantwoordelik vir sy eie indiensneming. Sy swaer Jan Viljoen (64) woon op Waterval in die Pyramid-gebied sowat 10 km noord van Pretoria. Jan, self ’n kranige jagter, besit die taksidermieonderneming Dagha Boys Taksiedermie. “Baie van die Blou Bulle se spelers, van wie tans ook Springbokke is, laat hulle trofees by Jan doen,” sê Gerrit.
“Buiten gratis verblyf op die boer se plaas, dra ons al ons eie kostes vir die jag en die verwerking en ons deel van die verwerkte produkte met die boer.”

Jan Viljoen, Gerrit se swaer, is ’n jagter met ’n taksidermie-onderneming by Pyramid. (Bron: Verskaf)
Jag
Jag is ’n lewenslange passie vir Gerrit. “Ek het my eerste geweer in 1980 gekoop, en jag sedertdien hoofsaaklik in die bos en op die vlaktes koedoes, rooibokke, blesbokke, blou- en swartwildebeeste asook bos- en vlakvarke.” Die entoesiastiese jagter sê hy het ook al baie springbokke en gemsbokke in die Kalahari gejag. “Ek is tans gelisensieer vir sewe gewere – van ’n .22 tot ’n 416 Rigby met toegewyde sport- en jagstatus. Ek het ook IR-teleskope en termiese
(thermal) toerusting.”
“Twee van hierdie is jaggewere met baie akkurate slotaksies en goeie teleskope wat pasgemaak vir my gebou is. Ek herlaai sedert 1981 self vir al my kalibers, uitgesluit die .22. Ek jag met akkurate Berger-jagpunte en gebruik gehaltekomponente en Reddingkompetisiematryse vir herlaai.”
Probleemdiere
“Ons het mielieboere in die Vaalwatergebied en later ook in die Crecyomgewing en Naboomspruitgebied (Mookgophong) in Limpopo begin help om diere wat skade in hulle landerye aanrig te verwyder,” vertel Gerrit. “Party boere, soos grondboonboere, wil jakkalse hou, maar ander boere verkies om hulle te laat verwyder.”
Boere laat Gerrit-hulle weet as hulle hulp nodig het. “Wanneer ’n boer ons kontak, ry ons deur en gesels met hom oor wat sy reëls en vereistes is.” Op pad na die boer se plaas kry hulle self die vervoerpermitte vir die geslagte varke by Natuurbewaring in Nylstroom. Afhangend van die boer se behoeftes, vat Gerrit een of twee ander jagters saam.
- Gerrit Jordaan van Pretoria is net ’n oproep ver as vlakvarke of bosvarke jou landerye verniel. (Bron: Verskaf)
- Dis nie net ongediertes soos jakkalse en wilde varke wat skade aanrig nie, maar ook duiwe. (Bron: Verskaf)
- Jan Viljoen, Gerrit se swaer, is ’n jagter met ’n taksidermie-onderneming by Pyramid. (Bron: Verskaf)
“Wetgewing verbied ons om in die nag te skiet, maar as die boer skadepermitte het, help ons ook in die nag.” Gerrit en die ander jagters slag self die diere wat hulle skiet en gebruik gewoonlik die boer se verkoelingsgeriewe op die plaas. Daarna word die vleis by ’n vriend se slaghuis in Pretoria verwerk. Van die verwerkte varkvleis maak hulle verskillende soorte salami, kaaswors en Russians, waarvoor hulle Freddy Hirsch se resepte gebruik. Die verwerkte produkte is vir hul eie gebruik en word nie verkoop nie, maar die boer by wie hulle gejag het, kry gewoonlik ook ’n deel daarvan.

Tande van vlakvarke wat hulle moses teëgekom het. (Bron: Verskaf)
“As daar te veel vleis oorbly, word dit aan behoeftige gesinne uitgedeel. Ons het nog nooit so baie geskiet dat ons die vleis kommersieel verhandel nie,” se Gerrit. Van die vleis van die ander wildpesies wat hulle jag, maak hulle biltong, wors en droëwors in verskillende geure, van gewone wors tot wors gegeur met kerrie, peper of hul eie Chili-Pep, ’n mengsel van brandrissies en peper.
- Van die vlakvarke en bosvarke wat Gerrit van plase verwyder, word lekker wors gemaak wat met die boere gedeel word.
- Hy gebruik sy eie speserye om die wors en biltong te geur. (Bron: Verskaf)
Speserye
Dit is juis Gerrit se liefde vir jag wat tot die ontstaan van hulle twee verwante ondernemings, Pure Spices en Ouboet Spices and Foods, gelei het. Pure Spices is die handelsmerk, terwyl laasgenoemde die mengsels en verwerkte voedselprodukte is. “Ons maak ook ons eie boerewors, droëwors en biltong met ons Pure Spic Spices- speserye, wat 100% suiwer is sonder ’n sweem van MSG’s, preserveermiddels en gluten, en die sout is ook jodiumvry.”
- Die verskillende speserymengsels is te koop by Ouboet Spices and Foods in Pretoria. (Bron: Verskaf)
Die onderneming se kerriemengsels bestaan uit 13 bestanddele met drie verskilende Schoville-hittegrade van brandrissies. Ander mengsels sluit BBQ, Lemon Pepper and Herb, Cardio Health, Chicken Spice en All Purpose in. Wanneer die onderneming tussendeur op versoek korporatiewe skaapspitbraaie vir tot 500 gaste doen, gebruik Gerrit die All Purpose-mengsel. Hierdie speserye is nie op winkelrakke beskikbaar nie. “Dit is teen ons morele waardes om vir die Halaalmerk te registreer. Produkte kan direk by my bestel word en as die bestelling R2 300 inklusief en meer is, behartig ons ook die koerierkoste.”
’n Spesiale aanbod geld tans en daar is ’n 30%-korting op bestellings wat meer as R2 300 inklusief kos. Alle bestellings is streng kontant of betaling per EFT voor versending,” sê Gerrit.
Gerrit se kontakbesonderhede: Kontak Gerrit Jordaan by 083-380-3000 of stuur ’n e-pos aan gerrit@purespices.co.za






