Categories: Artikels, WielePublished On: 18th August 2021

Isuzu D-Max 300 X-Rider Dubbel kajuit 4×2 Outomaties: ‘n Eerlike bakkie

By 2 min read
461 words

isuzu-x-rider-auto

deur: Dirk Gallowitz

Isuzu Suid Afrika sal die langverwagte nuwe Isuzu in 2022 plaaslik bekendstel, maar intussen verkoop die effe goedkoper X-Rider modelle fluks.

Ons het onlangs ‘n pragtige bloedrooi X-Rider 300 dubbel kajuit 4×2 outomaties met swart sierwiele en rolstaaf, vir ‘n week lank kon beproef.

Ons het besluit om die  X-Rider se kop noordwaarts  te draai en die meer as 400 km na die plaas in die Noordkaap aangedurf met ‘n groot bees treiler agteraan gehak.

Isuzu se bewese en betroubare 3.0 liter turbo-enjin is steeds ‘n juweel, maar dit was duidelik dat die 4 silinder diesel afsteek teen die kragtiger enjins van die nuwer generasie bakkies. Terwyl maksimum kraglewering steeds 130kW teen ‘n lae 3600rpm beskikbaar kom en met gewone ry toestande heel skaflik op die pad voel, was dit duidelik met die 1,2 ton gewig van die sleepwa gehak en later nog 2 ton plus se lewende hawe gelaai, dat die maksimum wringkrag van 380Nm tekort skiet aan oemf wanneer daar gesleep word.

Die 6-spoed outomatiese ratkas het sonder vrag, gemaklik tussen 5de en 6de gedraf, maar met byna die maksimum sleepgewig van 3500kg agteraan, het die ratkas selde na 5de oorgeskakel. Dit het ‘n beduidende impak op die brandstofverbruik gehad.

Die rit was andersins aangenaam en ons 4 insittendes het die ruim en goed toegeruste kajuit geniet, ten spyte van die bykans 900 kilometer rit heen en weer. Passasier gerief het ondermeer klimaat beheer, klank en kommunikasie stelsels wat met Bluetooth koppeling en via ‘n 8” raakskerm beheer word, USB koppelpunte en spoedbeheer ingesluit. Sleutellose toegang en aan/af skakel asook  ‘n ultrasoniese alarmstelsel was ook handig.

Vir passasier veiligheid het ABS remme met elektroniese remkrag en verspreiding, rem hulp, elektroniese stabiliteit beheer met traksie beheer, heuwel wegtrek en heuwel-af beheer asook lugsakke voor vir beide bestuurder en passasier die reis veilig en vlot laat verloop.

Die 2021 Model X-Rider het gemaklik die stowwerige klip besaaide plaaspaaie van die Namakwaland baasgeraak danksy goeie grondvryhoogte en uitstekende veerstelsel.  Ook in die veld was die X-Rider heel bekwaam met die ewenaarslot ingeskakel en die gelaaide sleepwa agteraan. Die Isuzu bakkie se stewige bak konstruksie het die moeilike terrein gemaklik hanteer en het enige uitdaging op ‘n eerlike manier baasgeraak.

Die X-Rider modelle is tans Isuzu se topverkopers leefstyl bakkies en kompeteer gunstig in sy marksegment teen soortgelyke bakkies van Ford en Toyota met die pragtige stilering wat na ons mening die X-Rider beter laat vertoon as die kompetisie.

Alle Isuzu D-MAX modelle word verkoop met Isuzu “Complete Care” wat ‘n standaard waarborg van 5jaar/120 000km buffer-tot-buffer insluit, Isuzu pad bystanddiens, ‘n 5jaar/onbeperkte kilometer teen roes waarborg asook ‘n 5jaar/90,000km diens plan. Ekstra dekking kan aangekoop word vir pad bystanddiens, diens plan asook die onderhoudsplan.

Pryse

D-Max 300 X-Rider Dubbel kajuit  4×2 Outomaties: R590,300

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0