Isuzu brei D-Max 250 reeks met outokaste uit

isuzu-x-rider-auto-dna-photographers-jan-2020-17_1800x1800
Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive
Isuzu Suid-Afrika het so pas sy D-MAX bakkiereeks uitgebrei deur vyf modelle van die 250 turbodiesel weergawes met 5-gang outomatiese ratkaste toe te rus.
Toe General Motors, wat Isuzu-bakkies in SA monteer en versprei het, in 2017 uit SA onttrek, was Isuzu eienaars landwyd bekommerd dat die handelsmerk en hulle geliefde bakkies dalk ook vir Suid-Afrikaners verlore sou wees. Isuzu Suid-Afrika, ‘n Japanese onafhanklike maatskappy, het egter ingeklim en die bakkie- en vragmotorproduksie in Port Elizabeth laat saamsmelt. Dit het die afgelope twee jaar van krag tot krag gegaan.
Die langverwagte nuwegeslag Isuzu D-Max, waarna Isuzu aanhangers met groot verwagting uitsien, is bestem om laterig in 2021 in Suid-Afrika beskikbaar te wees. Verder beplan Isuzu Motors SA om meer as R1,2-miljard in die Baai se aanleg te belê ten einde die nuwe generasie Isuzu vir die Suider-Afrikaanse mark te optimaliseer. Dit sluit in die vervaardiging en verspreiding van die voertuig, ontwikkeling van ‘n plaaslike verskaffingsnetwerk asook die vervaardiging van die volle spektrum komponente en bykomstighede.
Isuzu SA is een van die min bakkievervaardigers wie sy modelle in plaaslike omstandighede omvattend toets en doelmatig vir Suid-Afrikaanse toestande ontwikkel.

Die nuwe 5-spoed outomatiese ratkas is ontwikkel en aangepas om spesifiek die D-Max 250 se 2,5 liter tussenverkoelde turbodieselenjin se verrigting en kraguitsette te pas. Volgens Dominic Rimmer, senior visepresident: Tegniese Operasies by Isuzu Motors SA, het kliente se groeiende voorkeure en vraag na outomatiese ratkaste oor die laaste paar jaar, genoodsaak dat die D-Max 250-reeks ook daarmee toegerus moet wees sonder om die bakkies se bewese reputasie van betroubaarheid en goeie brandstofverbruik te benadeel.
Die bewese 2,5 diesel turbodieselenjin lewer maksimum 100kW teen 3400 opm en 320 Nm piekwringkrag tussen 1800 en 2800 opm. Die amptelike brandstofverbruik vir die outomatiese modelle word aangegee as 8,1l/100 gegrond op ‘n gemengde siklus van stads- en ooppadry.
Soos met die D-Max 250-handrat modelle kan die outomatiese weergawes ook ‘n maksimum van 2100 kg sleep met ‘n sleepwa wat self kan rem, terwyl die laaibak ‘n vrag van 1000 kg kan dra.

Tydens die bekendstelling het ons slegs met die X-Rider topmodel D-Max 250TD 4×2 Outomaties gery. Van buite vertoon die 2020 X-Rider-weergawe sportief, funksioneel en met die pragtige 16 duim sierwiele en General AT Grabber-bande is die X-Rider gereed vir ‘n leefstyl van avontuur en buitelugpret.
Die topmodel kom goed toegerus vir bestuurder- en passasiersgerief. Dit sluit in klimaatbeheer, klank en kommunikasie stelsels wat ook met Bluetooth kan koppel en via ‘n 8” raakskerm beheer word, USB koppelpunte en vele mere. Sleutelose toegang en aan-/afskakel is ook standaard asook ‘n ultrasoniese alarmstelsel en spoedbeheer.
Vir passasierveiligheid is sluitweerremme met elektronie remkrag en verspreiding, remhulp, elektroniese stabiliteitsbeheer met traksiebeheer, heuwelwegtrek en heuwel-afbeheer deel van die standardtoerusting wat ook lugsakke voor vir sowel die bestuurder en passasier insluit.
Dis alles gaaf, maar hoe vaar die 5-gang outomatiese ratkas in die D-MAX
250TD 4×2 X-Rider?
Na meer as 500 km wat stadsry, ooppadtoer, grondpadtydrenry en bergpasklim ingesluit het, was ek verbaas oor die uitstekende kombinasie van die 5-gang outokas met die 2,5 dieselturbo-enjin. Nooit was daar ‘n situasie waar ek ekstra krag of meer werkverrigting gesoek het nie. Oorskakelings is glad en wanneer ek die bergpasse en grondpaaie se kort draaie aangeval het kon ek die ratkas in handratmodus tik en self die ratskakelings beheer. Kortom, ek was na my tyd in die X-Rider Outo aangenaam beïndruk – in so ‘n mate dat ek oortuig is die D-Max 250TD Outomaties 4×2 X-Rider is die beste bakkie wat jy kan koop vir onder R500 000 as jy graag ‘n stylvolle, bekostigbare en ekonomiese gesinsvoertuig wil besit wat ook as werk-, kerk- en avontuurwa moet diens doen.

Prys tydens bekendstelling:
D-Max 250 Anderhalfkajuit Hi-Ride Outo R403 200
D-Max 250 Dubbelkajuit Hi-Ride Outo R435 300
D-Max 250 Dubbelkajuit LE Outo R459 000
D-Max 300 Dubbelkajuit Hi-Ride Outo R464 100
D-Max 250 Dubbelkajuit X-Rider Outo R474 700
Alle Isuzu D-MAX modelle word verkoop met Isuzu Complete Care wat standaard insluit ‘n 5 jaar/120 000-km buffer-tot-buffer waarborg, Isuzu-padbystanddiens, ‘n 5 jaar/onbeperkte kilometer anti-roeswaarborg asook ‘n 5-jaar/90 000 km diensplan. Ekstra dekking kan aangekoop word vir padbystanddiens, ‘n diensplan asook die onderhoudsplan.
Besoek jou naaste Isuzu-handelaar vir ’n toetsrit.