Irrigation Unlimited se Ocmis-kruipspuite: Veelsydigheid is die sleutel tot sukses!

irrigation 1
Die Ocmis R2/2-kanonspuit kan ’n straal water tot 55 meter ver spuit.
’n Wyse wenresep help Dirk van Zuydam van Weenen om tot 40 ton aartappels per hektaar te oes. Hy sê die sleutel tot sy sukses is die Ocmiskruipspuite wat Irrigation Unlimited aan hom verskaf het. Hy het die eerste Ocmis-spuit in 2015 gekoop en pronk tans met vyf van hulle.
“In die verlede het ek ’n span van sestien mense nodig gehad om die besproeiingstelsel tussen die lande rond te skuif. Met die Ocmis-spuite doen net twee mense dieselfde werk. Ek bespaar dus veertien mense se lone en so betaal die spuit vir homself,” vertel Dirk.
Die spuite is veelsydig en besproei lande waar spilpunte nie pas nie. Dit kan ook op verskeie gewasse gebruik word. Op Dirk se plaas besproei hulle nie net aartappels nie, maar ook mielies en droёbone.
Met die Ocmis-kruipspuit is daar geen uitvalhoeke nie en elke stukkie grond word dus doeltreffend benut. Nog ’n pluspunt is dat die Ocmis-kruipspuite ander werk, soos topbemesting, aansienlik vergemaklik. Die spuite kan uit die lande verwyder word en staan dus nie in die trekkers se pad wanneer daar gewerk moet word nie. Wanneer hulle nie werk nie, kan hulle in die skuur toegesluit word om misdadigers te fnuik.

Geen verlies van plante
Soos met alle ander projekte, is die beplanning belangrik. Dirk laat twee rye oop waar die toevoerkrane is sodat daar ’n pad is vir die spuit om te loop. Op die manier verloor hy nie ’n deel van sy insette nie.
“Daar is geen verskuilde kostes nie. Ek het nie nodig gehad om enigiets te verander toe ek oorgeskakel het van die goukoppelpypstelsel na die Ocmisspuite nie. Al waarvoor jy betaal, is die spuit,” vertel Dirk.
Dirk hou ook baie van die feit dat hy sy spuite onderdak kan bêre wanneer dit nie gebruik word nie. “Anders het jy ’n groot kapitaaluitleg wat op die lande staan.” Op die manier verseker hy dat sy spuite in ’n goeie toestand bly.
Dirk verduidelik dat sy spuite met ’n elektriese motor van 22 kW en ’n KSB 50/250-pomp werk. Die water word uit die Boesmansrivier gepomp. Die Ocmis-spuite se pype wat die spuitkarretjie voer is 100 mm dik en 300 m lank. Die water word toegedien met ’n 30-mm kanonspuit. Dirk se stelsel werk onder 7 bar druk wat die pomp aan die spuit lewer. Die hoё druk is egter nie ’n voorvereiste vir die spuit om te kan werk nie. Die spuit kan met ’n laer druk ook doeltreffend besproei.

Daar is vier weergawes van hierdie wateraangedrewe spuit beskikbaar:
• Die R1/1-model se pyp is 75 mm dik en 220 meter lank. Hy besproei 1,23 tot 1,85 ha per lopie, afhangende van die waterdruk.
• Die R2/2-model se pyp is 100 mm dik en 300 m lank. Hierdie model besproei 2,02 tot 2,96 ha op ’n slag.
• Die Ocmis MRR 58/200 kan gebruik word vir klein landerye en tuine. Die spuit besproei ’n maksimum oppervlakte van 1,1 ha per 200 m lopie. Dit het ’n 58 mm toevoerpyp.
• Die Ocmis MR 40/130 het ’n 40 mm pyp wat 130 meter lank is en kan ’n maksimum van 0,56 ha per 130 m lopie besproei.
Alle modelle werk doeltreffend met ’n waterdruk van 4,3 tot 10,4 bar. Die afstand van R2/2 se straal kan ook gestel word deur spuitstukke te ruil van ’n 24 mm-spuitstuk tot ’n 30 mm-spuitstuk, of deur die waterdruk te verstel.
Ocmis-spuite het ook verskeie verstellings op die ratkas waar die boer die hoeveelheid water wat toegedien word kan reguleer deur die spoed waarteen die spuitkarretjie ingekatrol word, te verstel.
“Die veelsydigheid van hierdie spuite is die grootste voordeel,” vertel Dirk.
Die enigste onderhoud wat nodig is, is om seker te maak dat die ratte genoeg smeermiddel het. “Behalwe vir die sproeierstukke wat ek self wou groter maak, het ek nog nie enige ander werk aan die spuite gehad nie. Alles werk en daar is niks wat breek nie,” sê Dirk.
Vir meer inligting oor voortreflike Ocmis-spuite wat besproeiing ’n fees van doeltreffendheid maak, kontak Tobie van den Heever by 082-658-6054 of 012-736-2121, stuur ’n e-pos aan tobie@iunlimited.co.za of besoek www.iunlimited.co.za vir meer inligting.