Hy’s hier! John Deere se slimste trekker met die fermste vastrap

IMG_2001
Die eerste model in die 8R-reeks wat in Suid-Afrika aangekom het, is onlangs by die Balfour-hooidag aan boere vertoon en met groot bewondering begroet.
Elke keer as jy dink John Deere het nou die toppunt bereik, verras hulle jou met nóg nuttiger tegnologie wat immer die boer se lewe beter en makliker maak.
Vanjaar se verrassing is die slim, sterk nuwe John Deere 8RX, die wêreld se eerste vasteraamtrekker met vier rusperbande wat gedug vastrap, maar met die minste grondkompaktering en oppervlakskade. Die 8RX kombineer kunsmatige intelligensie, elektroniese beheer deur die internet en gevorderde outomatisering. Dit alles help die boer om makliker, doeltreffender en winsgewender te boer.
Freddie Rupping, produksiestelselspesialis, Trekkerbemarking, sê: “Ons is baie opgewonde oor die rol wat die 8RX in die verbetering van opbrengste in Afrika gaan speel.”

Vir dié trekkerontwikkeling het John Deere ’n eretoekenning ontvang in die kategorie, “Tech for a Better World”, by die CES Innovation Awards-geleentheid in Amerika. Die CES-toekennings is al die afgelope 50 jaar die toonaangewende platform waar nuwe ontwikkelings op die tegnologiefront bekendgestel en getoets word op grond van ontwerp, bruikbaarheid, ingenieursvernuf, aantreklikheid vir gebruikers en die positiewe invloed wat dit op die wêreld kan hê. Keuring en beoordeling geskied deur ’n paneel kundige ontwerpers, ingenieurs en lede van die tegnologiemedia.
As wêreldleier in landboutegnologie spits John Deere hom daarop toe om boere te help met die uitdagings van landbou. “Ons is geëerd om die toekenning van ’n leidende tegnologie-organisasie te ontvang, want dit onderstreep ons toewyding aan landbou, skeppingskrag en tegnologie,” sê Freddie.
“Die toekenning gee erkenning aan ons skeppende oplossings vir presisielandbou, wat boere bemagtig om beter produksie te lewer sodat die groeiende wêreldbevolking gevoed kan word.”
Die eerste toetsmodeltrekker in die 8R-reeks het onlangs wiel aan wal gesit met ’n verrassende verskyning by die jaarlikse John Deere-toekenningsaand waar die toptegnici in die land nie uitgepraat kon raak oor die trekker se voorkoms en tegnologie nie.

Drie modelle is beskikbaar: Die nuwe 8R-reeks wieltrekkers, 8RT-modelle met twee rusperbande en die splinternuwe 8RX-weergawe met vier rusperbande. Die 8RX is spesiaal ontwerp om die grond te beskerm sonder om doeltreffendheid in te boet. Hy pleeg die minste kompaksie van trekkers in sy klas, met ’n maksimum spoorwydte van 3 meter.
Die trekker is besonder beweeglik en maak nie die grond seer om draaie nie. Boonop is hy uiters stabiel teen skuinstes en geskik vir moeilike grondtoestande omdat hy self sy rusperbande skoonmaak.
Sy rusperbande is beskikbaar in breedtes van 45 tot 72 cm wat ’n allemintige voetspoor van meer as 4,5 vierkante meter gee. Die trekkers is toegerus met John Deere se beproefde en betroubare, ekonomiese PowerTech-enjins van 9 liter, met ’n reserwekrag van byna 30 kW by die 8RT 410. Daar is ’n Viscowaaier en die enjinhulpkomponente is na die voorkant van die enjin verskuif ter wille van minder blootstelling aan hitte en dus ’n langer lewe en laer onderhoudskoste.
Die 8RX spog, soos die ander modelle in die hoëtegnologiereeks, met ’n ingeboude Gen 4 CommandCenterTMbeheerskerm, ’n geïntegreerde Star- FireTM-satelliet en AutoTracTM vir die gladde outomatisering van presisietake.

Die presisietegnologiepakket wat saam met die reeks verskaf word, sluit in verskillende JDLinkTM-subskripsies met John Deere Connected SupportTM. Boere kan kies tussen ’n wye reeks as- en wielsamestellings met verskillende wydtes en groottes. Daar is ook verskillende kragoordragkeuses soos die bewese 16 spoed-Powershift, John Deere e23TM PowerShift-transmissie of die eindelose wisselkragoordrag (Infinitely Variable TransmissionTM of IVT).
Die stilering en gerief van die nuwe 8R-reeks se kajuit plaas dit in ’n luuksheidskategorie van sy eie met die topmodel wat spog met ’n luggeveerde leersitplek met elektroniese verstelling, slimfoonintegrasie met ’n 16,5-cm raakskerm met luidsprekers.
Ander praktiese verbeterings is groter trappe, ’n laer deurhandvastel buite sodat jy die deur kan oopmaak terwyl jy nog stewig op Moeder Aarde staan, ’n wyer ingang, meer kopruimte en ’n sitplek wat verder kan draai sodat jy die werktuig agter die trekker makliker kan dophou.
Hoewel die totale tegnologiepakkie eers saam met die nuwe trekkers beskikbaar sal wees, is baie van die tegnologie in bestaande modelle in Suid-Afrika ingebou. Praat met jou naaste handelaar om meer uit te vind oor die John Deere se presisie-oplossings vir jou plaas.