Hortgro vereer staatmakers in sagtevrugtebedryf

collage-1536×864
Deur Tisha Steyn
Staatmakers in die sagtevrugtebedryf is op 6 Junie vir hulle werk in die kern- en steenvrugbedryf met spesiale Hortgro-toekennings vereer. Hortgro is die bedryfsorganisasie vir die Suid-Afrikaanse sagtevrugteprodusente wat kern- en steenvrugte insluit.
“Die gesogte Hortgro-toekennings ter ere van uitskieters van die sagtevrugtebedryf is by STIAS, Stellenbosch, gehou en dit was die eerste keer dat Hortgro die toekenningsfunksie in ‘n nuwe formaat met die fokus op die kern- en steenvrugbedrywe, hou,” sê Elise-Marie Steenkamp, groepsbestuurder van Hortgro se kommunikasie-afdeling.
Die Hortgro Izethelo Media Toekenning het gegaan aan die produksiehuis Brand Republic vir die televisiereeks Meer as Grond op VIA/kykNET, wat kritieke landboukwessies soos onder meer plaasveiligheid, droogte, die energiekrisis, natuurlike hulpbronne, transformasie en waterskaarste in diepte bespreek het. Daar is ook ondersoek ingestel na wat landbou vir die land beteken en wat boere doen om voedselsekerheid en -veiligheid te verseker. Hortgro se voorstelle vir twee programme oor kwessies rakende die sagtevrugtebedryf is deur Brand Republic aangegryp en uiteindelik het hulle vier programme oor die sagtevrugtebedryf gedoen en so die beeld van die bedryf verbeter.
Die Daan Strydom Navorsings- en Tegniese Toekenning is toegeken aan Henk Griessel in erkenning vir sy bydrae op die gebied van na-oes kwaliteit van kernvrugte. Weens sy betrokkenheid as bestuurder van gehalteversekering by Tru-Cape, word hy beskryf as ‘n ware bedryfsvennoot wat oor baie jare leiding en belangrike tegniese en strategiese insette aan verskeie bedryfswerkgroepe en advieskomitees gelewer het. Hierdie insette het navorsingsbehoeftes en -prioriteite bepaal en gehelp met die evaluering van die uitkomste en resultate van navorsingsprojekte.
Die Hortgro Transformasie Toekenning is aan die Wes-Kaapse Departement van Landbou oorhandig vir die departement se ondersteuning van en samewerking met Hortgro se transformasie-inisiatiewe. Die departement word beskou as ‘n gewaardeerde bedryfsvennoot van die oorspronklike Boompie-projek tot die meer onlangse Jobs Fund Initiatives. Die departement het Hortgro se kapasiteit as implementeringsagent van die kommoditeitsbenadering gebruik om swart ekonomiese bemagtiging deur die waardeketting te bevorder.
Die bedryf het sedert 2011in samewerking met die departement R325 miljoen in ekonomiese ontwikkeling belê, waarvan 60% aan swart bemagtiging en die res na gedeelde ekwiteit gegaan het. Van die suksesse sluit armoedeverligting deur werkskepping in.
“Met hierdie toekenning wil Hortgro graag erkenning gee aan die Wes-Kaapse Departement van Landbou vir hul toewyding en ondersteuning om transformasie in die sagtevrugtebedryf ‘n ekonomies volhoubare werklikheid te maak,” sê Elise-Marie.
Dr Leon von Mollendorff het die Hortgro Voorsitterstoekenning ontvang. Hy het etlike jare by die Landbounavorsingsraad (LNR) in verskeie leiersposisies gewerk voordat hy in 2006 as die eerste hoofbestuurder van Culdevco aangestel is, en waar hy tot met sy aftrede in 2022 gedien het.
Sy navorsing oor na-oes faktore wat die ontwikkeling van voosheid (woolliness) in nektariens ondersoek het, word as baanbrekerswerk beskou. Vir die navorsing het hy ook ‘n spesiale erkenning van die Universiteit van Kalifornië in die VSA ontvang.
“In die bedryf is Leon bekend as ‘n uitstekende navorser, formidabele onderhandelaar, bemarker en iemand wat weet hoe om netwerke te bou en sy werk as kultivar-ontwikkelaar word wêreldwyd hoog aangeskryf,” sê Elise-Marie.
Joy, een van die stigterslede van die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum, ook bekend as KBOS, het ‘n visie gehad om landbou deur opleiding te verander. Haar nalatenskap het KBOS ‘n baken van inspirasie en hoop in die landboubedryf gemaak en ’n sentrum wat deur ander streke en nywerhede beny word.
“Oor etlike jare heen het Joy ‘n deurslaggewende rol gespeel om opleiding in die kommersiële sektor so te posisioneer dat dit ekonomies sin maak, asook diegene bemagtig wat opgelei word vir ‘n loopbaan in die landbou,” sê Elise-Marie.
Joy het ook ‘n belangrike rol gespeel om die sagtevrugtebedryf te help, en spesifiek om Hortgro te adviseer en by te staan, om die opleidings- en ontwikkelingsafdeling te onderhou. Ná 20 jaar as KBOS se uitvoerende hoof het sy in 2020 uitgetree.
Grant Smuts, steenvrugprodusent en eienaar van Smuts Bros. Robertson, het die OSH Reinecke Bedryfsleier-toekenning vir 2022 ontvang. Grant dien sedert 1998 op die sagtevrugtebedryf se Navorsingsraad, en later ook as voorsitter van Hortgro se Wetenskap Adviesraad, waar hy steeds waardevolle insette as ondervoorsitter lewer.
Grant dien ook op verskeie ander bedryfsrade en -komitees, naamlik as direkteur van Hortgro Stone en ‘n raadslid van die Inmaakvrugteprodusente-vereniging (IPV).
Hy dien ook op die direksie van die Ashton Vrugteprodusente-Koöperatief en hy het in 2022 ‘n leidende rol in onderhandelinge met Tiger Foods gespeel. Grant is ook ‘n bedryfsleier in die Robertsonstreek waar hy gesprekke met die regering en ander belanghebbendes tydens arbeidsonrus gelei het.
“Grant is ‘n ware vlagdraer vir die steenvrugbedryf deur die jare en hy is ‘n groot voorstander van navorsing in goeie en slegte tye, en is ‘n klankbord wat balanseer en altyd kalm wysheid saambring,” sê Elise-Marie.
Grant het ook sy eie landboubesigheid uitgebrei van ‘n familieplaas na ‘n mega-besigheid en is hy bekend daarvoor dat hy die belange van sy werkers op die hart dra.
Die OSH Reinecke Bedryfsleier vir 2023 is aan Kobus Eigelaar toegeken. Hy boer met steenvrugte op die plaas Achtervlei by Piket-Bo-Berg en offer sy tyd op om leiding aan die gemeenskap en die bedryf te gee.
Kobus dien al meer as dertig jaar lank op verskeie bedryfsrade, soos Hortgro Stone (voorheen SASPA) waar hy sedert 1997 tot op hede sy kant bring, en Hortgro Pome (voorheen SAAPPA) sedert 2018 tot op hede. Hy was ook ‘n direkteur van Culdevco- vanaf 2007 tot 2022.
Hy het die deregulering van die bedryf meegemaak en verstaan die waarde van bedryfsorganisasies wat die gemeenskaplike belange van boere moet beskerm en bevorder.
“Ons ken Kobus as ‘n reguit prater, maar een wat die kwessie ter tafel speel, nie die man nie,” sê Elise-Marie. “Hy is iemand wat sy mede-boere se beste belange op die hart dra en in belang van die groter bedryf optree. Hy verstaan die internasionale handel en impak van geopolitiek en het oor die jare ‘n belangrike bydrae gelewer om die vrugteboer se winsgewendheid en mededingendheid deur kollektiewe aksies te verbeter.”
Daarbenewens is hy ook ‘n voorstander en groot ondersteuner van navorsing en die ontwikkeling van tegnologie om vrugteboere te help om meer volhoubaar te boer.