Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 23rd November 2022

Hortfin en FNB gee opkomende boere ‘n hupstoot

By 4 min read
803 words

hortfin

deur Tisha Steyn

Een van die grootste struikelblokke vir ՚n nuwe boer is befondsing. Ten spyte van die ryk geleenthede wat die land aan boere bied om enigiets van graan, wyn, suiker, groente en vrugte tot veeprodukte te produseer, bly dit moeilik om die sektor te betree.

Met of sonder grond is boere steeds in ՚n stryd gedompel om kapitaal te bekom vir aanvangskostes en lopende uitgawes op belangrike toerusting. Hulle het gewoonlik nie die nodige sekuriteit vir ՚n lening van ՚n handelsbank nie, aangesien hulle nie die titelaktes van die grond het wat hulle deur regeringsinisiatiewe ontvang het nie.

Navorsing het bevind sommige van die ander uitdagings wat boere ook in die gesig staar, is swak infrastruktuur soos paaie en ՚n tekort aan vervoer vanaf die plaas na die mark, asook swak infrastruktuur by die mark en hoë vervoerkoste. Boonop is daar ՚n tekort aan toegang tot grond en geld vir werktuie wat produksie kan uitbrei.

Hierdie omstandighede kan vererger word deur ՚n gebrek aan bestuursvaardighede en inligting, sowel as lae opvoedingsvlakke, wat lei tot ՚n onvermoë om markinligting wat in produksiebeplanning en bemarking gebruik moet word te vertolk.

Terwyl die moedermaatskappy, Hortgro, se doelwit is om ՚n bemagtigende omgewing te skep wat gelykheid, volhoubaarheid, winsgewendheid en mededingendheid in die sagte- en steenvrugbedrywe bevorder, is Hortfin ՚n finansieringskema wat in 2018 geskep is, daarop gefokus om nuwegenerasieondernemings te ondersteun in die vrugte-, wyn- en tafeldruifbedryf en hulle waardekettings.

Dit is geskep om transformasie in die waardeketting van hierdie bedrywe te fasiliteer en te bevorder deur finansiering, en sodoende transfor-masie, werkskepping en volhoubaarheid te ondersteun, saam met die Jobs Fund en bedryfskommoditeits-organisasies as beskermhere.

Op 3 November 2022 het Hortfin ՚n nuwe vennootskap met Eerste Nasionale Bank (FNB) aangekondig. Die behoefte het ontstaan om ՚n alternatiewe finansiële vennoot in te bring om volhoubare groei binne die landbousektor te verseker. Vir hierdie doel is daar in 2021 verskeie samesprekings met handelsbanke sowel as impakbefondsers gevoer, en FNB het die geleentheid aangegryp om in Desember 2021 as medefinansierder tot die program toe te tree.

Hierdie vennootskap tussen Hortfin, FNB en die Jobs Fund het gelei tot ՚n vindingryke befondsingstruktuur wat kommersiële befondsing van die bank insluit, asook befondsing van Hortfin en die Jobs Fund, wat ook gunstige befondsingsvoorwaardes vir opkomende ondernemings in hierdie sektore verskaf het.

Sedert die eerste transaksies in Januarie 2022 by die FNB-kredietproses ingedien is, is R37,2-miljoen se transaksies goedgekeur. ՚n Verdere R90-miljoen se transaksies word tans deur die FNB-kredietproses geëvalueer.

Volgens Hortfin se uitvoerende hoof, Michael Brinkhuis, sal die vennootskap ՚n geleentheid bied vir sowel die bedryf as die bank om die impak van hierdie vindingryke program te vergroot.

“Hierdie ooreenkoms gaan ons die vermoë gee om ons teikengehoor groter toegang tot kommersiële finansiering in die landbousektor te gee,” het hy by Klein Joostenberg gesê, waar die vennootskap aangekondig is.

Volgens Dawie Maree, FNB Landbou se hoof van bemarking en inligting, is dit belangrik dat die bank met die bedryfsleiers saamwerk om die potensiaal van nuwe-generasie boere in die waardeketting te bou vir toekomstige groei.

“Die Hortfin/FNB gesamentlike samewerking ontsluit ՚n aanvanklike R600-miljoen befondsinggeleentheid om opkomende en oorwegend eerstegenerasie boere in die sagtevrugte en vennootbedrywe oor die volgende drie jaar te kommersialiseer.”

Mariette Kotzé, Hortgro Groep se bedryfsbestuurder, het gesê Hortfin is ontwerp om die behoefte aan ontwikkelingsfinansiering met vindingryke oplossings aan te spreek. “Die vennootskap met FNB sal Hortfin help om sulke vindingryke oplossings te vind om ekonomiese ontwikkeling van die waardeketting te versnel.”

Die samewerking tussen FNB en Hortfin hou baie geleenthede in, volgens Najwah Allie-Edries, adjunkdirekteurgeneraal: Indiensnemingsfasilitering by die Nasionale Tesourie en hoof van die Jobs Fund. “Die Jobs Fund is geïnspireer deur die toetrede van FNB tot die sektor aangesien dit ՚n unieke geleentheid bied vir betekenisvolle samewerking tussen die regering, ՚n bedryfsliggaam en groot kommersiële befondsing om ՚n broodnodige hupstoot te gee aan ontluikende markdeelnemers se toetrede tot die sagtevrugte-waardeketting.”

Sy het gesê dit maak dit moontlik om toepaslik gestruktureerde finansieringsoplossings te bied, terwyl dit belangrike tegniese ondersteuning aan die deelnemers fasiliteer, wat hulle groei en langtermynvolhoubaarheid sal ondersteun.

“Hierdie samewerking demonstreer wesenlik die verbintenis van alle partye wat betrokke is om ՚n bydrae te maak tot die groei en verbetering
van die sektor. Die Jobs Fund is gretig om as katalisator in hierdie soort vennootskappe regoor die landbousektor te dien.”

Kontakbesonderhede:

Michael Brinkhuis by michael@hortfin.com

Bronne:

Agriculture funding opportunities in South Africa (2022) SME South Africa
https://smesouthafrica.co.za/agriculture-funding-opportunitiesin-south-africa/

Khapayi, M., Celliers, P.R. (2016). Factors limiting and preventing emerging farmers to progress to commercial agricultural farming in the King William’s Town area of the Eastern Cape Province, South Africa.

S Afr. Jnl. Agric. Ext. vol.44 n.1 Pretoria 2016 South African Journal of Agricultural Extension Online version ISSN 2413-3221 Print version ISSN 0301-603X http://dx.doi.org/10.17159/2413-3221/2016/v44n1a374

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0