Hoe belangrik is antibiotika vir diere?

inenting
Antibiotika is ‘n belangrike geneesmiddel wat veral skadelike bakterieë hokslaan, maar die vraag is, hoe goed is dit vir diere en vir die mense wat later die vleis eet? Mense moet verstaan wat antibiotika doen en wat dit vir menslike gesondheid kan beteken voordat hulle dit vir diere ingee.
Volgens prof Moritz Van Vuuren, ‘n spesialis veeartsenykundige mikrobioloog, mede-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Antibiotiese Voogdyskapprogram (SAASP) en prof Emeritus van die Universiteit van Pretoria, is daar wetenskaplike kommer oor die gebruik van antibiotika in voedselproduserende diere. Die weerstand wat sekere bakterieë teen antibiotika het, moet ook aangespreek word.
Professor van Vuuren het die volgende feite en mites oor die gebruik van antibiotika uiteengesit:
Antibiotika by vee word gebruik:
- Om ‘n siekte te behandel
- Om te keer dat ‘n siekte verder versprei in ‘n trop
- Om siekte te voorkom by gesonde diere
- Vir die bevordering van ‘n gesonde groei deur te verseker daar is die regte balans van bakterieë in die ingewande vir beter benutting van voedingstowwe.
Mites en Feite oor antibiotika in voedselproduksie:
Mite: Antibiotika wat vir diere gebruik word lei tot die opkoms van weerstandbiedende bakterieë wat mense besmet.
Feit: Sommige bakterieë het ‘n natuurlike weerstand teen antibiotika of kan weerstand ontwikkel deur mutasies of deur die verkryging van weerstandige gene van ander bakterieë. Volgens bewyse dui dit daarop dat die kliniese probleme met antimikrobiese weerstand wat ons in die gesig staar in die mens se medisyne hoofsaaklik die gevolg van die gebruik van antibiotika in mense is, eerder as die gebruik van antibiotika in diere.
Mite: Antibiotika moet net gebruik word om ‘n dier te behandel nadat hulle alreeds siek is.
Feit: Antibiotika is een hulpmiddel wat veeartse en boere gebruik om diere te beskerm teen siektes en die verspreiding van siektes. As een of meer dier gediagnoseer word met bakteriese infeksie is die kanse baie goed dat die ander diere ook aan die siekte blootgestel is.
Mite: Boere gebruik antibiotika die heeltyd en hoe dit vir hulle pas.
Feit: Antibiotika is net een behandelingsopsie wat boere oorweeg.
Boere werk saam met veeartse en dieregesondheidskenners om dieregesondheidsprogramme op te stel waarin hulle diere se dieet, die behandeling en voorkoming van die siekte en ander dieregesondheidfaktore in ag neem.
Mite: Antibiotika sal nie benodig word as veeteelt verbeter word nie.
Feit: Bakterieë en ander mikrobes word orals in die omgewing gevind en dit is onmoontlik om te verhoed dat diere daaraan blootgestel word. Dit is belangrik dat veeartse toegang tot die nodige medisyne en antibiotika het om siektes te behandel en te voorkom.
Boere en veeartse het ‘n etiese verpligting om die regte behandeling te gebruik om die gesondheid van hulle vee te verseker.
Mite: Organiese produsente gebruik nie antibiotika nie.
Feit: Die gebruik van antibiotika is laer in organiese eenhede, maar antibiotika word steeds gebruik om bakteriese infeksies te behandel. As jy nie ‘n siek dier behandel nie is dit eties onaanvaarbaar.
Bron: Bizcommunity