Hier kom Hoërskool Lichtenburg se CLAAS-bus! ’n Uitnemende vennootskap
Hooffoto: “Waai maar as die CLAAS-span van Lichtenburg verbykom,” beduie Anri Louw, hoofdogter, Rieze Janse van Rensburg, onderhoofmeisie van Sport, Lohann Jahns, hoofseun, CP le Roux,onderhoofseun van Sport, Elretha van Rensburg, bemarker, Jacques van Niekerk, beheerraadslid vir Bemarking, Dawie Mathee, skoolhoof, en Lieb Janse van Rensburg, bestuurder van Agri Track.
’n Eiland van uitnemendheid op die platteland – dit is hoe ons graag onsself beskryf,” sê Elretha van Rensburg, bemarker van Hoërskool Lichtenburg. Dit is geen wonder dat CLAAS, as toonbeeld van uitnemende tegnologie, besluit het om deur sy plaaslike handelaar, Agri Track, by die skool betrokke te raak nie.
’n Bussie wat gebruik word om van die skool se toppresteerders en sportspanne aan te ry, spog nou met CLAAS-kleure. Elretha vertel dat Hoërskool Lichtenburg aan plattelandse kinders dieselfde geleenthede bied as wat kinders in die land se top stedelike skole geniet, maar dit beteken ook dat daar dikwels ver gery moet word sodat die kinders werklik op ’n hoë vlak mededingend kan deelneem. Sy sê: “Ons het naweek vir naweek kinders wat in die stad en verder die land deur gaan deelneem, waarvoor ons rygoed nodig het. Die onderhoud van die voertuie beloop ’n aardige bedraggie per jaar.”
Lieb Janse van Rensburg, bestuurder van Agri Track (vroeër Cerealis Meganies) het die behoefte raakgesien en saam met die streekbestuurder van CLAAS, Ben Bamberger, die manne by Kempston Agri (invoerders en verspreiders van CLAAS) genader om betrokke te raak by ’n borgskap vir die skool.
Meer as 60% van die ouers wie se kinders daar skoolgaan boer self of het iets met landbou te doen en daar is dus heelwat CLAAS-ondersteuners en toekomstige CLAAS-kopers in die skool! Lieb sê: “Ons weet as jy in die boere belê, dan kry jy op die lang duur ondersteuning en lojaliteit van hulle af.” Die Axion-trekker wat op die een kant van die bus pryk is deesdae ook geen vreemde gesig in die omgewing nie. Lieb sê die 900-reeks trekkers van CLAAS, soos die Axion, is gewild onder die boere in hulle bedieningsgebied.
CLAAS se stropers presteer ook goed daar in die mieliewêreld en selfs in die droogtetyd is daar drie splinternuwe stropers verkoop. Die kleiner trekkers, veral die Talosse van 65 tot 75 kW, is ook gewild onder die streek se boere, veral saam met voerproduksietoerusting. Lieb sê die boere kan maar gerus gaan inloer by Agri Track – daar is op die oomblik goeie aanbiedings van die kleiner trekkers, snyers en balers!
Lieb sê sedert die Kempston-groep die CLAAS-agentskap in Suid-Afrika oorgeneem het, het dié Duitse trekkers se markaandeel baie verstewig, veral in die 200- tot 300-kW klas. Hy sê: “Die Duitse produk is goed, ons het bitter min probleme met die goed wat ons verkoop het en die ondersteuning van Kempston se kant af is ook baie goed.” Agri Track het self ook sy meganisasiebedrywighede aansienlik verstewig met ’n goed toegeruste werkswinkel en ’n tegniese span van vier gekwalifiseerde tegnici, elkeen met sy eie leerlingtegnikus.
Lieb sê hulle het gaan soek na die beste tegnici vir bepaalde produkte, want “dit gaan oor die diens wat jy lewer en die vertroue wat die boere in daardie mense het”. Agri Track bedien vanuit Lichtenburg boere van Ventersdorp af tot in Vryburg, asook Thabazimbi se kant toe, tot by Delareyville en al die klein dorpies tussenin. Dit is ook hierdie boere se kinders wat in Lichtenburg se koshuis tuisgaan om die geleenthede wat die skool bied, aan te gryp. Dawie Mathee, skoolhoof, vertel dat hulle selfs kinders vanaf Botswana af in die skool het. Hy sê met die beperkte finansiering wat van die staat af kom, kan ’n skool net-net sy akademiese verpligtinge nakom. Vir enige ander bedrywighede wat aan kinders die geleentheid bied om te ontwikkel en presteer, moet daar staatgemaak word op hulp uit die gemeenskap.
Hy sê: “Daar is nie ’n manier hoe jy ’n skool kan bestuur sonder die ondersteuning van ondernemings in die omgewing nie. Ons ry regtig ver om aan ons kinders die geleentheid te gee om op topvlak deel te neem. Ons kan dit nie doen sonder borgskappe soos hierdie nie.”
Kontak Michael Howell of Etienne van Wyk van Kempston Agri by 043-703-3100; of michael.howell@kagri.co.za of etienne.vanwyk@kagri.co.zaom meer uit te vind oor die uitmuntende CLAAS-reeks. In die Lichtenburg-streek is Lieb Janse van Rensburg en sy span van Agri Track ook gereed om te help.