Hier is die wenner! Topwerker ‘wou van altyd af boer’

prestige wenner
Nigel Klaasen, wenner van 2022 Prestige Agri-landbouwerkerkompetisie.
Die wenner van die jaarlikse WesKaap Prestige Agri-toekennings is pas aangewys. Hy is Nigel Klaasen, junior produksiebestuurder van die plaas Fruitways Glen Elgin.
Die toekennings word gemaak deur die Wes-Kaapse Departement Landbou en ondersteun deur die supermarkgroep, Shoprite Freshmark, die hoofborg sedert 2012.
Altesaam 994 plaaswerkers in vyftien streke van die Wes-Kaap het vanjaar in elf kategorieë deelgeneem. Die wenners in die kategorieë is op 5 November tydens ՚n glansgeleentheid by die Grandwest Casino in Goodwood, Kaapstad aangewys. As algehele wenner beloop Nigel se pryse sowat R100 000, wat ՚n buitelandse studietoer insluit.
Vormingsjare
Nigel (37) wou van jongs af boer en mense help, maar het nooit gedink sy droom kan waar word nie. Ten spyte van struikelblokke, en met die Here se hulp, is hy tree vir tree besig om sy droom te verwerklik.
Hy het hier in die GEVV-gebied (Grabouw, Elgin, Vyeboom en Villiersdorp, die streek waar sagtevrugte verbou word) tussen die uitgestrekte appel- en peerboorde grootgeword. Sy kinderjare was moeilik en hy het nie aldag geweet waar sy kos Hier is die wenner! vandaan gaan kom nie. Nadat hy as tienerseun sy ma verloor het, het hy die skool verlaat en as algemene werker op die plaas, Monteith Trust, op Grabouw gaan werk.
“Ek het oor die groot onsekerhede in my lewe met die Here geworstel, gevra hoekom al die struikelblokke oor my pad kom. Ek het lank die oortreders wat vir my ma se dood verantwoordelik was, swaar in my hart gedra, maar die Here het vir my ՚n hart van vergifnis gegee, asook ՚n wil om mense te help en op te lei.”
Staan op en probeer weer
As algemene werker het hy eerstehands ondervinding van sagtevrugteboerdery opgedoen van hoe om ՚n gat te maak en ՚n boom te plant, hoe om te besproei, wat om te spuit en hoe om gif af te meet. Ook hoe om ՚n trekker of ՚n vurkhyser te bestuur en om ՚n klein spannetjie te lei.
“Ek het vir ՚n klompie jare baie hard gewerk en in 2013 het my werkgewer my vir die eerste keer vir die Prestigetoekennings ingeskryf,” vertel hy. “Ek het die kategorie vir tegniese operateur in die streek gewen, maar toe ek teen die ander streke gaan meeding, het ek dit nie gemaak nie.”
Dit het hom nie van stryk gebring nie. “Staan op en probeer weer,” het hy besluit.
Dieselfde jaar het hy ՚n advertensie gesien vir die pos vir ՚n spuitvoorman by Molteno Boerdery, wat nou Fruitways is. “Ek was ՚n jong laaitie, skraal, deurmekaar. Dit was my eerste onderhoud ooit en ek het nie geweet wat van my verwag word nie.” Vroeg die volgende jaar is hy as spuitvoorman aangestel.
“My lewe het drasties verander. In 2016 is ek as produksievoorman aan gestel. Dis baie meer kompleks, want jy het meer met mense te doen wat jy moet bestuur. Jy is verantwoordelik daarvoor om produksiedoelwitte te bereik, vir die gehalte van die snoeiwerk en die gehalte van die produk wat geoes word.”
In 2019 is hy aangestel as assistentbestuurder. “Ek was James Scheffers se assistent, en ek wou graag soos hy wees. Dieselfde met Matthew English, my areabestuurder en onmiddellike hoof, vir wie ek nie wou teleurstel nie.”

Uitdagings
Vandag bestuur Nigel Fruitways Glen Elgin, ՚n plaas van 63 ha waar hy vir al die produksiefasette verantwoordelik is.
Daar is baie uitdagings. Klimaatstoestande is een van die grootste uitdagings in die Elginvallei. “Dit word tot 42 °Celsius in die somer, wat korrekte besproeiing krities belangrik maak,” verduidelik Nigel.
“Omdat die besproeiingstelsel gerekenariseer is, maak Eskom-beurtkrag dit ongelooflik moeilik, want as beurtkrag inskop, moet die pompe met die hand aangeskakel word. Baie blokke kan nie met swaartekrag besproei word nie en dan moet jy maar vir Eskom wag om die krag weer aan te skakel.”
Kommunikasie is dikwels ook ՚n probleem, want byna driekwart van die werkers is Xhosa- en Sothosprekend. “Jare gelede was my beste vriend ՚n Xhosa-man. Ek het soos ՚n kind in hulle huis grootgeraak, want tydens my moeilike kinderjare het ek baie by hulle oorgebly,” vertel hy.
Nigel praat vlot Xhosa. “Ek verstaan die mense se taal, kultuur en agtergrond. Baie van die Xhosa-sprekende werkers wil in my spanne wees, want ek kan met hulle kommunikeer sodat hulle kan verstaan. Ek kan elke taak vir hulle in hulle eie taal verduidelik en demonstreer.”
Maar ՚n produksiebestuurder het baie rolle om te vervul. “Jy is ook ՚n pa, kerkleier, speurder en polisiebeampte, vuurvegter, advokaat en regter. Jy kry te doen met mense op alle vlakke van geskooldheid en met die ingewikkeldheid van mense. Jy moet spanne lei, vir hulle verduidelik en hulle leer – soms mense wat baie jare ouer as jy is. Maar dit is wat ek wil doen, en dit is wat die Here vir my moontlik gemaak het.”
Naas landbou is sy passie om die werkers te help om die waarde van hulle menswees te besef; hoe om ՚n goeie man en pa en ՚n leier in die gemeenskap te wees, ook hoe om Christelike waardes uit te leef en om in die algemeen ՚n goeie mens en rolmodel te wees.
Waarde van die kompetisie
Deelname aan die kompetisie in 2013 het vir hom baie deure oopgemaak, want hy het sy eie waarde besef.
“Plaaswerkers word nie genoeg dankie gesê nie; die Prestige-kompetisie gee die gewone plaaswerker kans om sy stem te laat hoor, om sy ervaring en ondervinding met die beoordelaars te deel, om sy eie identiteit na vore te bring.
“Ek het altyd gedink my droom om te boer sal net ՚n droom bly, dit gaan nie uitwerk nie. Maar vandag leef ek my droom. Dis lekker om te weet dat jy ՚n verskil maak in voedselsekerheid sodat dit sal aan- en aan- en aangaan. Landbou is so belangrik, niemand kan daarsonder oorleef nie.”
Sy liefde vir landbou maak hom nie net passievol nie, maar ook dankbaar. “Ek werk in die mooiste bedryf en kantoor – die veld en die boorde is die beste plek. Maar saans kan jy nie net die deur toetrek en huis toe gaan nie: in die plaasbedryf kan jy nie net ՚n hek sluit nie, want jy weet nie of jou werkplek veilig sal wees nie.

Boodskap vir die jeug
“Omdat jy van die plaas af kom beteken nie jy is ՚n niks nie,” is sy boodskap vir jongmense. “Daar is mooi stories wat van die plaas af vertel word. As jy bereid is om te leer en ekstra moeite in te sit, kan jy suksesvol wees.
“Ek het die Here gevra vir selfvertroue: moenie dat ek minderwaardig voel nie, gee my die selfvertroue om te erken as ek ՚n fout gemaak het. Maak my ՚n spons in die water om te leer wat ek kan.
“Ek glo die gesegde ‘as jy ՚n arm man ՚n vis gee, het hy kos vir die dag, maar as jy hom leer visvang, sal hy altyd kos hê’. Bowenal glo ek ՚n mens moet lief wees vir landbou, jy moet passievol wees en ՚n positiewe ingesteldheid hê.”
Langtermyndroom
Nigel se vyfjaarplan is om ՚n meer senior bestuursrol te vervul, en om in tien, vyftien jaar sy eie plaas te besit waarvan hy die volle bestuur kan neem.
“Die Here het my die krag en vermoë gegee om ՚n verskil te maak. Ek het eerstehands ervaar ՚n droom hoef nie net ՚n droom te bly nie, dit kan werklikheid word. Dit is vir my lekker om die vermoë te hê om dit wat ek geleer het te kan laat deursyfer tot op die laagste vlak.”