Categories: NewsPublished On: 22nd January 2018

Gunstige toestande verwag vir somerreënvalstreek

By 6 min read
1240 words

reenfoto

Boere in die somerreënvalgebiede van Suid-Afrika kan daarna uitsien dat die positiewe weer- en reënvaltoestande van die afgelope jaar in die nuwejaar kan voortduur.

Dit is egter onwaarskynlik dat die verlammende droogte in die suid-westelike winterreënvalstreke hierdie somer gebreek sal word, en boere sal tot die komende winter moet wag om hulle lot te leer.

Vorige omstandighede in konteks

“Na die 2015/16 droogte oor meeste van Suid-Afrika, het bogemiddelde reënval gedurende 2016/17 geval, wat welkome verligting vir die somerreënvalgebied gebring het. Die huidige somer begin dus op ‘n baie meer positiewe noot as 2016/17, toe die damme in die somerreënvalstreek op lae vlakke was en uiterste droogtetoestande oor die Laeveld ondervind is,” sê dr. Johan Malherbe, senior navorser by die WNNR.

In die somerreënvalstreek is damvlakke gemiddeld 12% hoër as die dieselfde tyd verlede jaar (sien figuur 1). Slegs damme in die Wes-Kaap is op laer vlakke as ‘n jaar gelede.

Figuur 1: Damvlakke per provinsie, uitgedruk as ‘n persentasie van die volle kapasiteit, per provinsie vir November 2016 (swart stawe) en November 2017 (rooi stawe). Data met vergunning van die Departement van Waterwese.

Die verskil in waterbeskikbaarheid is nou verwant aan die reënval gedurende die vorige somer. Die Gestandaardiseerde Reënvalindeks (SPI) vir die 12-maande tydperk tot November 2017 toon duidelik dat dit natter was vergeleke met dieselfde 12-maande indeks teen November 2016 (Figuur 2).

Figuur 2: 12-maande Gestandaardiseerde Reënvalindeks teen November 2016 (links) en November 2017 (regs).

“Op die 12-maande tydskaal het reënvaltoestande aansienlik in die somerreënvalstreek verbeter vergeleke met die situasie verlede jaar dieselfde tyd. Sommige dele rondom die Hoëveld het in November 2017 uiters nat vertoon,” sê dr. Malherbe.

Teen November 2016 en November 2017 was die droogte op die suidelike dele van die land gefokus. Alhoewel ernstige droogte op die 12-maande tydskaal teen November 2016 oor die suidelike dele van die land sigbaar was, veral in die westelike dele van die Oos-Kaap, het die fokus van die droogte gedurende 2017 na die winterreënvalstreek verskuif.

Relatiewe droë toestande op die 12-maande tydskaal teen November 2016, gevolg deur ‘n verdere jaar van erge tot uiterste droogte oor dieselfde streek, het tot die huidige lae damvlakke in die Wes-Kaap gelei. Die produksie van koring oor die streek sal na verwagting aansienlik minder as verlede jaar en die langtermyn-gemiddelde wees as gevolg van die lae reënval, veral oor die Swartland gedurende die 2017-winter. Lae damvlakke sal ook ‘n negatiewe uitwerking op besproeide gewasse in hierdie streek hê.

Neel Rust, Bedryfshoof van Laeveld Agrochem, noem dat die vyfde produksieskatting (Desember 2017) van die Oesskattingskomitee daarop dui dat die Wes-Kaap se 2017 koringoes beduidend kleiner is in vergelyking met 2016. Die Wes-Kaap se 2017 geskatte koringoes is 586 800 ton, wat 511 400 ton, oftewel 47%, minder as die 2016 oes is. Voorts is die skatting vir die opbrengs per hektaar slegs 1,8 ton. Rust meen die Wes-Kaap se koringboere kan nie teen hierdie opbrengs-per-hektaarvlakke winsgewend koring produseer nie en plaas dit groot druk op boere, asook finansierders vir die komende plantseisoen wat in April en Mei 2018 plaasvind.

Die huidige droogtetoestande in die suid-weste oor die winterreënvalstreek en die relatief nat toestande oor dele van die somerreënvalstreek word weerspieël in die anomalie van die kumulatiewe plantegroei-aktiwiteit, soos getoon deur die Persentasie van Gemiddelde Seisoenale Aktiwiteit (PGSA) vir die tydperk Junie tot November 2017. Die PASG word bereken deur die kumulatiewe plantegroei-aktiwiteit, afgelei uit aarde-waarnemingsdata, uit te druk as ‘n persentasie van die langtermyn-gemiddeld vir dieselfde tydperk. Figuur 3 toon die PGSA vir die tydperk Junie tot November 2017.

Figuur 3: Persentasie van Gemiddelde Seisoenale Aktiwiteit vir die tydperk Junie – November 2017.

Dit is duidelik dat plantegroei-aktiwiteit oor die suid-westelike dele van die land, insluitend die hele winterreënvalstreek, die laaste paar maande onder druk was. In teenstelling hiermee, word bo-normale kumulatiewe plantegroei oor baie van die noordelike en oostelike dele van die land verwag, soos aangedui deur die PGSA waardes in dié dele wat 100% oorskry. Heelwat van die oostelike mielieproduksiestreek, waar aanplantings in November of vroeër geëindig het, is geleë in die gebiede waar daar onreëlmatige hoë plantegroei-aktiwiteit is, asook groot positiewe waardes van die 12-maande SPI teen November 2017. Voorts het hierdie gebiede bo-normale reënval in Oktober en November 2017 ontvang, wat voldoende is vir aanplanting.

Positiewe uitkyk vir die huidige somerreënvalseisoen

“Voorlopig lyk dit of die positiewe klimaatstoestande oor die somerreënvalstreek gaan voortduur. Gekoppelde globale klimaatsmodelle, wat vir seisoenale voorspellings gebruik word, het onlangs meer gunstig in hulle vooruitsigte vir somerreën oor Suider-Afrika begin toon,” sê dr. Malherbe.

Hierdie onlangse positiewe uitkyk vir ‘n redelike somer oor baie van die binneland is gegrond op die reaksie van klimaatmodelle op die veranderende see-oppervlaktemperatuur-anomolie (SSTA), meestal in die Ekwatoriale Stille Oseaan.

Oor die Sentrale tot Oostelike dele van die Stille Oseaan het die negatiewe SSTA’s onlangs afwaarts oor die sogenaamde La Niña-drumpel beweeg. Volgehoue ​​sterker as normale oostelike passaatwinde oor groot dele van die Ekwatoriale Stille Oseaan gedurende winter 2017 – en wat steeds voortduur – het tot ‘n baie laat ontwikkelende La-Niña aanleiding gegee. Laasgenoemde verwys na ʼn wêreldwye oseaan-atmosferiese toestand wat met bogemiddelde reënval oor die somerreënvalgebied geassosieer word.

“As hierdie afwykings vir nog twee maande voortduur, sal hierdie jaar as ‘n La Niña-somer beskou word.”

Rust sê dit is verblydend dat die voorspelling daarop dui dat daar ‘n voortsetting van goeie reën gedurende die tweede helfte van die somerreënvalseisoen gaan wees.

“Dit sal uitkoms bied aan veral boere in die Wes-Vrystaat en Noordwes-gebied aangesien aanplantings, soos wat dit reeds die afgelope vier jaar die geval is, later plaasvind. Die afgelope paar seisoene het goeie reëns, wat noodsaaklik is voordat daar met die plantproses begin kan word, met tot sowat ses weke aangeskuif. Daar lê egter groter risiko daarin opgesluit wanneer daar laat aanplantings gedoen word aangesien die somerrygewas steeds in ‘n groeistadium is wanneer vroeë ryp plaasvind. Onder normale omstandighede sou ‘n boer vroeë ryp verwelkom, aangesien dit die voginhoud van die somerrygewas help verminder, maar wanneer laat aanplantings plaasvind loop die boer ‘n wesenlike risiko dat die plant beskadig kan word, aangesien dit steeds in ‘n groeifase verkeer.”

Dr. Malherbe sê dat afwykende SST’s oor die Ekwatoriale Stille Oseaan nie noodwendig weeranomalieë in Suid-Afrika sal veroorsaak nie, alhoewel daar ‘n sterk statistiese korrelasie tussen die SST-anomalieë en reënval oor Suid-Afrika bestaan.

Hierdie korrelasie kan ook eenvoudig beteken dat beide reënval oor die subkontinent en die SST’s oor die Ekwatoriale Stille Oseaan deur dieselfde faktor beïnvloed word, naamlik die sterkte van die oostelike winde op ‘n wêreldwye skaal. Met ander woorde, die sterkte van die oostelike winde oor groot dele van die wêreld kan beide die SSTA’s en reënval oor die somerreënvalgebied dryf.

“Aangesien die passaatwinde oor die grootste deel van die Ekwatoriale Stille Oseaan sterker as normaalweg uit die ooste is, kan dit ‘n aanduiding wees dat die krag wat met die La Niña-gebeurtenis gedurende die komende somer geassosieer word, voldoende kan wees om nat toestande oor baie van die somerreënvalgebied te veroorsaak,” meen dr. Malherbe.

“Oor die winterreënvalstreek is dit nie onmoontlik nie, maar eerder hoogs onwaarskynlik, dat die droogtetoestande gedurende die komende somer gebreek sal word. Dié gebied sal tot ten minste die komende winter moet wag om uit te vind of die waterkrisis verlig sal word.”

Dr. Johan Malherbe, in samewerking met AgriSeker en ondersteun deur die Landbank, skryf ‘n weeklikse opsomming oor die huidige weersomstandighede, genaamd CUMULUS, wat op die AgriSeker webtuiste (www.agriseker.co.za) gepubliseer word.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0