Gronddebat: Nou is daar feite op die tafel

doringdraad
Voorheen benadeeldes besit nou 26,7% van die totale aantal hektaar landbougrond in Suid-Afrika. Dit is beduidend meer as die 14,9% van landbougrond wat in 1994 in voorheen benadeeldes se besit was.
Voorts besit wit boere nou 73,3% van landbougrond, teenoor 85,1% daarvan in 1994.
Dít is van die bevindings van ‘n omvattende grondoudit wat deur Agri Development Solutions (ADS) in samewerking met Agri SA en Landbouweekblad gedoen is.
Dié oudit, wat gefokus het op transaksies van landbougrond tussen 1994 en 2016, is Woensdag by Agri SA se kantore in Centurion bekendgemaak.
Agri SA het sowat `n miljoen rand bygedra sodat aktekantoor-data tussen 1994 en 2010 aangekoop en verwerk kon word. Die oudit wys dat vraag en aanbod – gewillige verkoper en gewillige koper – wel werk om grondhervorming te laat plaasvind.
Agri SA is lankal bewus van die noodsaaklikheid van ‘n grondoudit. Beleidsformulering word deur emosie en persepsie gedryf en feite skiet tekort. Sedert 2005 het daar dadels gekom van talle pogings om ‘n deeglike grondoudit die lig te laat sien. Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, gaan blykbaar binnekort die regering se grondoudit bekendmaak.
ADS het die aktekantoordata wetenskaplik verwerk. Die eindresultaat is ‘n databasis wat onder meer aantoon hoeveel landbougrond deur wie teen welke waarde tussen 1995 en 2016 gekoop en verkoop is. Agri SA het ‘n eksterne oudit deur die ouditeursmaatskappy Nkonki laat doen.
Die verslag wat Woensdag bekendgemaak is bevat ook inligting oor die persentasie landbougrond per provinsie wat al aan voorheen benadeeldes oorgedra is.
ADS se navorsing het ook die waarde van die grond in ag geneem en het bevind 29% van die waarde van landbougrond word nou deur voorheen benadeeldes besit.
In sommige provinsies is tot 50% van die waarde van landbougrond nou in voorheen benadeeldes se besit.
Voorts toon ADS se studie `n kommerwekkende afname in die hoeveelheid beskikbare landbougrond in Suid-Afrika. In 1994 was daar 79 miljoen hektaar landbougrond, maar dit het afgeneem tot 76 miljoen hektaar. Dít terwyl kommersiële boere na verwagting teen 2035 vir 80 miljoen mense sal moet kosgee.
Dan Kriek, Agri SA se president, het Woensdag gesê dat grondbeleid in Suid-Afrika te lank gegrond was op persepsie en emosie eerder as feite. “Gesonde, volhoubare beleidsformulering moet op ‘n feitebasis gebaseer wees. Hierdie grondoudit verskaf nou feite. Verdere navorsing oor watter soort grondhervormingsprojekte volhoubaar is en watter in die hek gaan duik, sal onderneem word,” het Kriek gesê.
Kriek het vir Johan Bornmann, direkteur van ADS, bedank vir die baanbrekerswerk wat hy met hierdie grondoudit gedoen het. Voorts het Kriek gesê dat die werk in landsbelang is. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, het verder daarop gewys dat die data sonder twyfel bewys dat markkragte uiters effektief kan wees om grondhervorming te laat plaasvind. Agri SA het ‘n finansieringsplan ontwikkel wat dit moontlik sal maak om die mark nog effektiewer te maak en vir baie meer opkomende boere toegang tot markte te gee.
Agri SA sal ‘n grondplan ontwikkel wat met die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Grondwet strook, het Van Zyl gesê.
Bron: Agri SA