Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 7th May 2024

Grasse van Suid-Afrika deel 4: Vals pluime

By 5 min read
964 words

grass-7703132_1280

In die vorige uitgawe het ons die eerste gedeelte van vals pluime bespreek. In hierdie uitgawe gaan ons verder kyk na nog verskillende grasse met dié bloeiwyse.

Bloutamboekiegras (Hyparrhenia tamba)

Bloutamboekiegras is lief vir water en groei in gebiede waar water versamel, soos langs riviere, vleie en in padreserwes. Hierdie gras is nie goed vir weiding nie, aangesien dit hard en onverteerbaar is. Dit word egter heel waarskynlik deur olifante geëet en staan daarom alom bekend as olifantsgras. Die gras is nuttig as ՚n dekgras. Jy sal Bloutamboekiegras regdeur tropiese Afrika aantref.

Hoe ken ek dit uit?

  • Sterkgroeiend en dig
  • Meerjarige polgras
  • Blare is blougroen
  • Trospare is na onder gerig

bron: Random Harvest

Reuse-terpentyngras (Cymbopogon nardus)

Hierdie gras groei in oop velde teen hellings, langs paaie en in vleie. Dit groei veral in klam grond en dele met hoë reënval. Alhoewel hierdie gras ՚n sterk reuk het, is dit bitter en nie ՚n goeie weigras nie. Daar is gevalle waar beeste so weier om dit te eet dat hulle vrek van die honger. Dit is ՚n goeie gras vir dekgras en bevat ook olies met bestanddele soos kariofilleen. Hierdie gras sal jy aantref in Januarie tot Junie in die suide en noordooste van Afrika.

Hoe ken ek dit uit?

  • Meerjarige polgras
  • Bloeiwyses hang en vertak
  • Bloeiwyses is bruin tot bruinpers
  • Blare het skurwe blaarrande

bron: Gardenia

Blougras (Andropogon gayanus)

Blougras groei in die meeste habitatte en grondsoorte. Dit verkies wel skadu en skeure in rotse. Hierdie is ՚n baie goeie en smaaklike weidingsgras. Sodra dit blomstadium bereik, raak dit hard en onsmaaklik en kan dit nie meer as ՚n weigras dien nie. Blougras word soms geplant ter wille van veldherwinning. Kyk uit vir hierdie gras in tropiese Afrika tussen Desember en Mei.

Hoe ken ek dit uit?

  • Meerjarige polgras
  • Blougroen
  • Basisdele van die plant het ՚n wit waslaag
  • Die blaarskyf het ՚n wit hoofaar

bron: Agrozil

Geeltamboekiegras (Hyperthelia dissoluta)

Hierdie gras groei in sanderige bosveld met ՚n minimum reënval van 600 mm. Dit groei ook soms in grasvelde en ander grondsoorte, of versteurde plekke. Terwyl die gras nog jonk is kan dit bewei word, maar soos dit ouer word, word dit te hard. In onderbeweide velde groei dit baie dig en kan dit moeilik wees om uit te roei. Dit is ook goed as ՚n dekgras. Hierdie gras sal jy aantref in tropiese Afrika, van Desember tot Junie.

Hoe ken ek dit uit?

  • Meerjarige polgras
  • Geel kleur
  • Blompakkies het lang, dik, geelbruin kafnaalde
  • Geel meeldrade is teenwoordig

bron: Feedipedia

Harige herfsgras (Schizachyrium jeffreysii)

Harige herfsgras groei in sanderige gebiede, veral bosveld, waar daar matige tot hoë reënval is. Dit is ook lief vir gebiede met baie vog, soos vleie. Dit kan ook in klipperige gebiede groei. Hierdie gras het goeie blaarproduksie. Die blare is hard en onsmaaklik en kan nie beter grasse in die gebied is nie, is dit ՚n goeie dekgras. Verder is dit ՚n aantreklike gras wat as ՚n siergras in tuine gebruik kan word. Jy sal hierdie gras aantref in die suidelike tropiese dele van Afrika tot die Demokratiese Republiek van die Kongo. Dié gras groei van Februarie tot Junie.

Hoe ken ek dit uit?

  • ՚n Regop gras
  • ՚n Meerjarige polgras
  • Bloeiwyses het harige, silwerwit trosse
  • Halms en blare het ՚n donkerrooi kleur
  • Blaarskedes is effens afgeplat

bron: Royal Botanic Gardens

Rooiherfsgras (Schizachyrium sanguineum)

Hierdie tipe gras groei in oop grasvelde en bosgebiede. Dit is ook lief vir klam gebiede, soos vleie. Enige grondsoort is geskik, maar veral sanderige en klipperige grond. Hierdie gras is swak vir beweiding, veral later in die seisoen. As daar nie beter dekgrasse is nie, kan hierdie gras dien as een. Die blare van die gras is mooi rooi en herfskleure en kan daarom dien as ՚n ornamentele gras. Rooiherfsgras is veral volop in meeste tropiese dele van die wêreld, van Januarie tot Mei.

Hoe ken ek dit uit?

  • Meerjarige polgras
  • Rooi kleur
  • Halms is dun en regop
  • Bloeiwyses is dun en rooi
  • Blaarskyf is haarloos

bron: Royal Botanic Gardens

Bootjiegras (Monocymbium ceresiiforme)

As jy in hoogliggende grasvelde loop sal jy dalk hierdie gras teëkom. Dit groei goed in gebiede met hoë reënval. Hierdie gras is sinoniem met geloogde suurgrond. In gebiede met lae reënval, groei dit egter in sandgrond. Alhoewel dit aanvanklik ՚n weigras is, word dit later in die seisoen te hard. Wees op die uitkyk daarvoor van Januarie tot April, in suidelike Middeen Wes-Afrika.

Hoe ken ek dit uit?

  • Rooi skynsel
  • Digte polgras
  • Die gras is kort
  • Bloeiwyses het ՚n oranje tot persbruin bedekking
  • Blare is gekrul wanneer dit droog is
  • Blare is rooibruin wanneer dit droog is

 bron: Wildflower Nusery

Rooikweek (Hemarthria altissima)

Nat plekke is hierdie gras se habitat. Dit is ՚n maklik groeiende gras wat sommer in enige grondsoort groei. Hierdie gras is die toonbeeld van ՚n goeie weigras. Dit word vinnig groen en bly groen tot laat in die seisoen. Dit word juis aangeplant vir weiding in klam grond en gebiede met seisoenale vloedgebiede. In die VSA word hierdie gras as ’n indringer beskou, maar dit kom natuurlik voor in Suidelike Afrika, Wes-Afrika, Madagaskar, Indië, Birma en die Mediterreense streek. Hierdie gras blom regdeur November tot in Mei.

Hoe ken ek dit uit?

  • Meerjarige kruipergras
  • Groei in of naby water
  • Rooibruin kleur
  • Die blare is kurktrekvormig wanneer droog
  • Bloeiwyses is ’n afgeplatte tros

bron: SANBI

ProAgri sê dankie vir Frits van Oudtshoorn wat sy boek, Grasse van Suider-Afrika, beskikbaar gestel het as ’n handleiding vir die reeks. Frits is ’n weidingskonsultant en kan gekontak word by 078-228-0008 of frits@alut.co.za.

Indien jy belangstel om meer oor die grasse van Suider-Afrika te leer, kan jy Frits se boek koop by Soutpansbergweg 121, Riviera, Pretoria of bestel by marketing@briza.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0