Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 20th June 2019

Goeie nuus vir boere: Kubota brei wyd uit

By 3 min read
552 words

kubota1

’n Nuwe reeks oranje trekkers het boere vanjaar op die Kubotastandplaas by NAMPO begroet, langs die bekende reeks ratse Kubota boorden wingerdtrekkers met hulle groter broers, soos die nuwe M7172 hierbo, en veelsydige ruweterreintoerusting.

Die nuwe reeks spruit uit ’n gesamentlike onderneming tussen Kubota van Japan en Escorts van Indië. Kubota sal saam met Escorts trekkers ontwikkel en vervaardig vir die groeiende mark in Indië en wêreldwye uitvoer na lande soos Suid-Afrika. Die trekkers is veral gemik op nuwe toetreders tot die landbou wat ’n meer bekostigbare alternatief nodig het.

Boere het moontlik by NAMPO gewonder oor die oranje trekkers wat van die kant af soos Ford-trekkers lyk. Die verklaring is: Escorts het vroeër ’n lisensie van Ford gehad om die trekkers te vervaardig. Al die trekkers sal nou die Kubota-stempel ontvang. In ’n onderhoud met ProAgri het Rajiv Wahi van Escorts vertel dat die onderhandelinge al drie jaar aan die gang is. Hy sê die maatskappye vul mekaar mooi aan met die kostevoordeelvan Indiese vervaardiging en diegevorderde tegnologie van Japan.

“Saam kan ons vinniger groei om aan die groeiende behoefte vir meganisasie te voldoen,” sê hy.

Oranje sal die kleur wees! Op NAMPO is dit aangebied as die EK-reeks (vir Escorts en Kubota). “Die pryse sal meer mededingend wees, sonder om in te boet op gehalte en ontwerp,” sê Rajiv.

In die reeks is daar tweewiel- en vierwielaangedrewe trekkers van 12 tot 110 perdekrag (8,9 tot 89,4 kW). Rajiv sê handelaars en boere het die reeks goed ontvang op NAMPO en omtrent al die trekkers op die standplaas was reeds teen Woensdagmiddag uitgeteken.

Internasionale samewerking tussen Indië, Suid-Afrika, Japan en Nederland op sy beste met Nishant Bindra, Summant Khanna, en Vijay Gupta van Escorts voor en langs die trekker. Op die trekker is Tom Bloom van Smith Power, Arjan Mulder van Royal Reesink en Rajiv Wahi van Escorts.

Smith Power oorgekoop

In nog maatskappynuus is aangekondig dat die multinasionale maatskappy, Royal Reesink, Smith Power Equipment, die plaaslike verspreiders van Kubota, oorgekoop het. Royal Reesink is 233 jaar gelede in Nederland gestig en versprei toerusting vir landbou, pakhuise en ingenieurswerke. Hulle verkope verlede jaar was 700-miljoen euro. Die aankoop van die Smith Power-aandele sal die Europese reus toegang tot Afrika gee. Die hele bestuurspan en handelaarsnetwerk van Smith Power bly soos dit is.

Boere kan gerus wees dat hulle steeds met hulle plaaslike verteenwoordigers of handelstakke kan praat oor Kubota-toerusting en die res van die Smith Power-landboureeks, soos Smith Power Generators, Polaris, EGO Power+ en Linhai. Tom Bloom, hoofbestuurder van Smith Power Equipment, sê daar is nog uitbreidings aan die maatskappy se reeks op pad en die nuwe verwikkeling plaas hulle nader aan die een-stop-oplossing wat hulle graag wil bied.

Die nuwe reeks oranje intreetrekkers spruit uit ’n internasionale samewerkingsooreenkoms tussen Kubota en Escorts.

Kontak gerus vir Tom Bloom by 011-284-2017 of stuur ՚n e-pos aan mail@smithpower.co.za om meer uit te vind.

’n Paar van die interessante spesiale Kubotaaanbiedings by NAMPO:

Die hidrostaties-aangedrewe ruweterreinvoertuig, X1140, kan verander van ’n dubbelkajuit na ’n enkelkajuit met ’n groter bak agter.
Die ZG227-grassnyer draai op sy eie as sodat jy reg rondom ’n boom of paal kan sny.
Die nuwe B26 is die kleiner weergawe van die bekende L45 wat kan diens doen as gewone trekker of TLB met ’n wye verskeidenheid toepassings.
0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0