Categories: TillingPublished On: 23rd July 2014

Gee jou gesaaides 'n voorsprong

By 5 min read
989 words

“Dis die beste werktuig wat ons nog gekoop het,” sê Gideon Human, plaasbestuurder van Wessel Campher se uitgebreide saaiboerdery in Natal en die Oos-Vrystaat. Gideon praat van die Terradisc 3001 van Pöttinger wat hoofsaaklik vir stoppelbewerking na oestyd (en die beeste deur die lande is) gebruik word. Met ProAgri se besoek aan die plaas by Swinburne aan die Vrystaat-kant van Van Reenenspas was die Terradisc besig om gou op ’n drafstap kalk in die ou sojalande in te werk voor alles wegwaai.

Mense in die omgewing sê juis Swinburne is die plek waar wind gemaak word!

Gideon sê met die Terradisc, wat deur Valtrac versprei word, kan hy die kalk baie vinniger en goedkoper inwerk as met ’n tradisionele skotteleg, en dan laat dit hom sonder ’n verdigtingslaag en met die saadbed wat hy wil hê. Op die spesifieke plaas verkies hy dat die saadbed nie te fyn moet wees nie, juis as gevolg van die wind. Daarom laat hy nie die masjien teen sy gewone 15 kmu draf nie.
Terradisc, valtrac
Gideon Human sê die Terradisc is die beste werktuig wat hulle nog gekoop het.

Die rede waarom hulle by Valtrac gaan aanklop het, was omdat hulle op soek was na ’n masjien wat op die besproeiingslande die digte reste in egalige stukkies kan sny, maar dit dan nie verwyder nie. “Dit moet in die bogrond bly, want die organismes wat die afbreekwerk doen, leef net in die boonste 10 cm,” sê Gideon. Hy sê hulle wil die grond so min as moontlik versteur, maar daar moet plan gemaak word met die reste en onkruid.

Onkruid ontkiem egalig na die Terradisc se eerste bewerking en dan, voor planttyd wanneer hulle weer deurgaan, word die onkruid op die grond neergesit waar dit vrek.
Gideon-hulle het spesifiek ’n driepuntmodel gesoek omdat hulle baie kontoere het en nodig het om kort te draai op die wenakker.

Nog voordele van die Terradisc:
Wegbreekaksie: As gevolg van die rubberskokbrekers in die dwarsbalk het die skottels ’n wegbreekaksie van tot 10 cm na bo om klipskade te voorkom, maar die skottel val dadelik weer terug in sy posisie.

Stabiel: Die skottels word tweetwee saam op die rubberrollers gemonteer voor dit op die balk kom wat verhoed dat die skottels kant toe uitswaai. Die hoek bly dus dieselfde. Voorkom verstoppings: Daar is genoeg ruimte tussen die skottel en die arm vir klippe en stronke om deur te gly.

Maklike dieptebeheer: Die rollers sorg vir die dieptebeheer en dit kan hidroulies vanuit die trekker gestel word.

Padvervoer: Die buitenste skottels vou boontoe om dit net so breed soos die trekker te maak vir padvervoer. Maklike onderhoud: Daar is net twee ghriespunte aan die roller. Die skottels se laers is in ’n geseëlde eenheid.

Vinnig: Die Terradisc werk doeltreffend teen 13 tot 15 kmu. Volgens Gideon is die masjien rats genoeg om met planttyd voor twee planters te bly.

Legendariese dienslewering: Om ’n masjien van ’n internasionaal erkende vervaardiger soos Pöttinger met hulle 140 jaar ervaring te koop en om dan in Suid-Afrika baat te vind by die legendariese dienslewering en tegniese ondersteuning van ’n maatskappy soos Valtrac, plaas enige boer op die wenpad. Net so nuttig soos die Terradisc 3001 in die Vrystaat is, net so doeltreffend werk sy grootboet, die Terradisc 6001, en Valtrac se Pöttinger Synkro-skeurploeg in die Bosveld om ontboste grond te herwin en in nuttige
landerye te omskep.

Met die hulp van hierdie toerusting het Andries Minnie, plaasbestuurder van Tony Clouston tussen Brits en Thabazimbi, binne een week ’n stuk bosveld van 110 hektaar ontbos, gelykgemaak, bewerk en geplant. Toe Andries vier jaar gelede op die plaas aangekom het om die Bosveldplaas in saaigrond te omskep, het dit hom gemiddeld vier weke geneem om dieselfde taak af te handel.
TerradiscAndries Minnie by sy Pöttinger Synkro 5030 van Valtrac, wat die rou grond waar daar bome en bosse pas uitgehaal is, mooi plat, gelyk en bultvry maak. Nadat die Synkro op die plaas aangekom het, kan hulle swaar landskaaf opsy staan.

“Voorheen, nadat die graafmasjiene die bome en bosse verwyder het, moes ons rip, dan die balk sleep, dan die logge landskaaf oortrek en as daar nog materiaal was moes ek weer dis, weer die balk sleep en dan eers kon ek plant. Ons moes herhaaldelik heen-en-weer ry om die saadbed gelyk genoeg te kry en ons brandstofrekening het die hoogte ingeskiet,” sê Andries.

Boonop kon Andries vergeet om na ’n lekker reënbui, as die grond net reg is vir plant, in die land te kom. Die modder het so erg tussen die skottelploeg se skottels saamgepak dat hy moes wag tot die grond droër was. Valtrac se Pöttinger Terradisc 6001-skottelploeg en die Synkro 5030-skeurploeg is ’n gedugte tweemanskap wat Andries se probleme eensklaps opgelos het.

“In sommige lande is daar baie bultjies wat die Synkro met sy lekker tande en vlerkskare met een flink beweging gelykmaak en deurlug. Die Synkro se tande, gehapte skottels en groot roller doen die werk teen ’n fraksie van die vorige koste,” sê Andries. “Die Terradisc se taak is om met sy skottels en roller ’n saadbed te skep wat maak dat my planter elke saadjie presies 7 cm diep kan plant en presiese rywydtes kan agterlaat wat ’n genot is om te stroop.” In die wenakker tel die Tarradisc sy skare op om gemaklik op sy roller te draai.

Andries het die kans gewaag om die Terradisc in ’n land waar die klippe bankvas langs mekaar lê, in te stoot en groot was sy verbasing toe die werktuig die klippe mooi platgedruk het om ’n saadbed te vorm waaroor hy ook (versigtig) sy planter kon stuur. ’n Verdere verrassing was dat sy koring heel eerste tussen die klippe opgekom het.

As jy ook jou gesaaides die voorsprong van ’n perfekte saadbedding wil gee, praat met George Cilliers by 082-881-4855 of george@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za vir meer inligting oor Valtrac se volledige reeks wenwerktuie en trekkers.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0