Categories: Artikels, GrondbewerkingPublished On: 11th August 2021

Gebou om te hou: Valtrac se Tatu-werktuie wys staal in turfgrond

By 4 min read
726 words

Foto 1

As planttyd kom, is dit noodsaaklik dat die graanboer gereed is om sy duur saad aan die goeie grond toe te vertrou. ‘n Los, fyn en egalige saadbed is van die uiterste belang om te verseker dat elke saadjie die beste lêplek het om te kan ontkiem en uitsonderlik te kan groei om ’n wenoes te verseker.

Dit beteken dat die boer se lande sorgsaam en deeglik gereedgemaak moet word voor die plantseisoen. Daarom gebruik Jaap Skat Trust naby Parys in die Vrystaat net die doeltreffendste, sterkste en stewigste Tatu-werktuie.

Jaap Skat Trust word deur die van der Westhuizen broers, Hennie, Jakob, Louis en Hector bestuur, waar hulle hoofsaaklik met graansoorte soos sojabone, mielies en sonneblom boer. Hulle het ook ‘n kommersiële Bonsmara-beeskudde.

Jakob van der Westhuizen boer op die plaas, Highlands, waar meeste van die Tatu-werktuie gebruik word. “Die rede hoekom ons Tatu gekies het, is omdat hulle rame baie sterker is en die swaar lande maklik bewerk,” sê Louis van der Westhuizen, mede-eienaar van Jaap Skat Trust.

Nadat die stropers hulle werk in die lande voltooi het en die beeste hulleself dikgevreet het aan die reste, word die Tatu-werktuie ingespan.

Die goudgeel skeurploeg van Tatu is ‘n robuuste werktuig wat selfs op lande wat die beeste vasgetrap het, in taai reste en in harde turf die grondprofiel breek vir beter ontkieming, wortelgroei, kunsmisbenutting en wateropname. Een van die redes vir hierdie voortreflike bewerking is die snykouters voor die tande, wat deur digte plantreste en harde grondkorse sny om ‘n pad vir die tande te maak en verstopping verhoed.

Op Highlands word dit bewys: Dié grondbewerker is gebou om moeilike werk in swaar en droë grond en met massas plantreste in ‘n japtrap baas te raak en die turfgrond tot 250 mm diep heerlik los en plantgereed te maak. Agterna breek ‘n roller die kluite en maak die land gelyk.

Die Tatu AST/MATIC 450-skeurploeg is swaar, kort en kompak. Dié grondbewerker is gebou vir swaar en droë grond. Kyk hoe werk hy – snykouters voor sny deur die digste plantreste en hardste grondkors om ՚n pad te maak vir die tande, en ՚n roller agter om kluite te breek en die land gelyk te maak.

“Op die lande trek ons die skeurploeg kruis en dwars deur, waarna die skotteleg na die tyd ook deur die land getrek word om die oorblywende growwe en groot kluite te sny. Daarna is die lande gereed om te wag vir planttyd,” sê Louis.

Die Tatu GCRO 2240-skotteleg op Jakob van der Westhuizen se plaas, Highlands. Vir ’n uitstekende skotteleg hoef ’n boer nie verder as Tatu te soek nie.

Die Van der Westhuizen-broers het juis hierdie Tatu-werktuie gekies om die uitdagings van die droë turflande te oorkom. Die werktuie word met trekkers van 270 kW gesleep. Die dertientand AST/MATIC-skeurploeg werk 5,4 meter wyd en die GCRO 2240-skotteleg 4,8 meter.

Tatu-werktuie is in alle opsigte meerderwaardig, maar een van hulle aanskoulikste eienskappe is die skotteleg se laers, wat jaar na jaar na jaar aanhou hou en bitter selde vervang hoef te word. Hierdie duursaamheid is te danke aan ‘n slim, gepatenteerde ontwerp waar die laer in ‘n uniek verseëlde oliebad loop waaruit niks kan lek nie en waarin geen stof, grond of plantemateriaal kan binnedring nie. Party van die Van der Westhuizens se Tatu-skottelêe werk al sedert 2003 sonder dat die laers vervang is! Dit beteken meer tyd op die land en meer geld in die boer se sak.

Die skeurploeg bewerk vier tot vyf hektaar per uur en ongeveer 250 ha per dag. “Tussen die twaalf Tatu-werktuie wat ons het, ervaar ons baie selde probleme; slegs normale slytasie wat na lang diensure te wagte kan wees. Ons is baie opgewonde oor ons dertiende skeurploeg wat op pad is, omdat ons so tevrede is met die Tatu-werktuie en ook omdat die ander twaalf so lekker werk,” sê Louis.

Die Van der Westhuizen-broers kan nie uitgepraat raak oor Valtrac se uitstekende diens nie. “Die naverkoopdiens is puik en dit maak die produk nog meer waardevol. Wanneer ons enigsins probleme ervaar, is Valtrac se personeel dadelik op die plaas om reg dit te maak. Elke keer wanneer ons onderdele nodig gehad het, was dit onmiddellik beskikbaar,” sê hulle.

Kontak Attie de Villiers van Valtrac by 083-261-9863, 056-817-7308 of attiedev@valtrac.co.za om jou meer te vertel oor die geharde Tatu-grondbewerkingstoerusting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0