Entstof-teen-slenkdalkoors-bevraagteken
Die afgelope twee maande was daar verskeie berigte en besprekings op forums oor die doeltreffendheid van entstowwe teen slenkdalkoors wat deur Onderstepoort vervaardig is. ProAgri plaas graag die volledig verklaring wat OBP uitgereik is en nooi boere uit om hierop te reageer in die kommentaarblokkie. Wat is u ervaring?
“OBP is die registrasiehouer en vervaardiger van drie verskillende entstowwe teen slenkdalkoors, wat ’n dooie entstof, ’n lewendeverswakte entstof (afkomstig van die Smithburn-stam) en die nuwe RFV Clone 13, afkomstig van ’n natuurlik-gemuteerdelyn, insluit. Die nuwe RFV Clone 13-entstof is sedert 1999 omvattend getoets met interne- en veldtoetse voordat die Registrateurregistrasie toegestaan het ingevolge Wet 36 van 1947. Geen nadelige uitwerkings is gedurende enige van die toetse ervaar nie. Bykomende toetse is nog steeds aan die gang, en geen nadelige uitwerkings is waargeneem nie.
“Teen 24 Junie het OBP slegs 11 formele klagtes ontvang, hoofsaaklik uit die Aberdeen-distrik in die Oos-Kaap. Van die klagtes het vier betrekking op RVF Clone 13, vyf op die lewende entstof en twee op die dooie entstof. Die feit dat die oënskynlike entstof-mislukkings nie tot een enkele entstof beperk is nie, dui daarop dat die gevalle van aborsies in alle waarskynklikheid nie toegeskryf kan word aan entstofmislukkings of ‘n verbreking van die koueketting nie, maar eerder aan‘n ander faktor.
“OBP is egter bewus gemaak van bykomende klagtes deur ander organisasies en ons verspreiders en het ‘n ondersoek geloods na die beweerde ondoeltreffendheid van ons entstowwe teen slenkdalkoors. Gedurende die derde week in Junie het ‘n groepnavorsers van OBP, saam met die area-verteenwoordigers van Bayer, sewe verskillende plase in die Aberdeen- en Graaff-Reinet-distrikte besoek. Bloedmonsters van 10 – 15 skape is op elke plaas geneem en is na die Onderstepoort Veterinêre Instituut (OVI) van die Landbounavorsingraad (LNR) gestuur vir verskeie toetse, insluitende Slenkdalkoors, Wesselsbron en Wes-Nyl-virus.
“Teen 8 Julie, na aanleiding van ons hoofverspreider en navorserspan se navrae, is ‘n bykomende 32 klagtes op die OBP-kliënteklagtestelsel aangeteken. OBP wil kliënte aanmoedig om, soos aanbeveel op inligtingsvoubiljette, alle kwessies rakende moontlike entstofmislukkings direk by OBP aan te meld. Inligting vanaf ’n derde party maak die ondersoek na moontlike entstofmislukkings baie moeilik, aangesien relevante inligting (groepnommer, kondisie van die entstof by gebruik, ko-toediening met ander medikasie, entstowwe, ens.) gewoonlik nie beskikbaar is nie.
“OBP kan egter in hierdie stadium verklaar dat die beweerde mislukking van slenkdalkoors-entstowwe nie geassosieer word met ‘n verbreking van die koueketting nie. In hierdie stadium dui bewyse daarop dat daar ‘n ander siekte of siektes in die Aberdeen- en Graaff-Reinet-distrikte in omloop is wat tot vroeë vrektes en aborsies van lammers lei. In hierdie stadium is die resultate nog nie voldoende nie en daar word op bykomende toetse gewag om te bevestig watter ander siekte(s) in omloop is.
“Dr Modumo van OBP is ook besig om ‘n afsonderlike span op die been te bring om die nodige ondersoeke by bokke, wat binnekort moet lam, in die Aberdeen- en Graaff-Reinet-distrikte te doen. Dit volg op ‘n vroeëre werkswinkel vir staats- en private veeartse wat in Mei gehou is.
“OBP bevestig sy vertroue in sy drie slenkdalkoorsentstowwe, gegewe dat dit in ooreenstemming met die vervaardiger se instruksies en onder die voorgeskrewe toestande gebruik word.
“Vir meer inligting, skakel gerus vir dr. Jacob Modumo by 012-522-1500 of stuur e-pos aan: Jacob@obpvaccines.co.za.” (Volledige verklaring van Onderstepoort.)
ProAgri wil graag weet wat is u ondervinding in die verband?