Eerste plaasmoorde in die Vrystaat in 2017

witkruismonument web
Vrystaat Landbou (VL) het met groot skok en afgryse verneem van die drie moorde wat Donderdag, 20 April 2017, op plase in die Wepener en Ladybrand-distrikte gepleeg is. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is Piet van den Berg en ’n werker van die plaas Pharoosfontein in die Wepener-distrik, asook Dirk du Randt van die plaas Elim wreed vermoor tydens twee aparte voorvalle. In beide voorvalle word meer as een verdagte gesoek, met die vermoede wat bestaan dat tot vyf verdagtes betrokke kon wees in die aanval op Piet.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, sê dit is skrikwekkend om deur middel van die voorvalle te sien hoe min ’n mens se lewe werd is. “Dit is duidelik dat hierdie kriminele geen respek vir lewe het nie, en ons keer die dade ten sterkste af.” In beide gevalle word verdagtes nog gesoek.
Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL, sê dit is weereens bewys dat inskakeling by plaaslike veiligheidstelsels en gereelde kontak met jou bure belangrike faktore is vir boere, hulle gesinne en werkers. “Maak seker dat jy uitreik na jou gemeenskap, en deel vorm van stelsels, sodat jy weet wat om tydens ’n krisis te doen en wie om te kontak.”
’n Versoek word weereens aan boere gerig om paraat te wees vir verdagte persone in hulle omgewings, sodat hulle hulle bure, plaaswagte en veiligheidstelsels in kennis kan stel.
Volgens die lessenaar se statistiek is een plaasmoord verlede jaar in die Vrystaat aangeteken.
Bron: Vrystaat Landbou