DuPont Pioneer: Dis somerplantseisoen

pioneer 1
’n Opwindende en lonende plantseisoen wag op boere, want DuPont Pioneer staan gereed met ’n volledige plantpakket vir hierdie somerplantseisoen.
By NAMPO het Emile van den Berg, nasionale landboukundigebestuurder, en sy span, die boere deeglik ingelig oor die skitterende kultivars wat met soveel sorg oor die afgelope jare gekweek is. Die registrasieproses is uiteindelik agter die rug en nou kan die boere die uitstekende resultate gaan benut.
Witmielies
“Vir die ooste het ons twee nuwe kultivars, die P1659W en die P2553WY. Die P1659W is ’n vinniger groeier en werk uitstekend onder besproeiing. Die P2553WY is ’n medium groeier vir droëlandproduksie. Vir die westelike streek het ons die P2707WYB, P2880WYB en P2864WBR, wat weer langer groeiers is,” sê Emile.
Geelmielies
DuPont Pioneer het sommer ’n hele rits geel kultivars gereed. “Vir KwaZulu-Natal het ons die P1498R-baster wat baie goed aangepas is in die streek. Dit is ’n vinnige groeier wat ’n hoë opbrengs lewer. Vir die Oostelike Hoëveld het ons die P2317 konvensioneel, wat weer ’n medium groeier is. Die P2319B is ook geskik vir die ooste, maar kan ook in die weste geplant word. Dit is sterk meerkoppig. In die Oos-Vrystaat se Hoëveld presteer die P2370B, wat ’n langer groeier is weer baie goed. Dit is ’n splinternuwe droëlandkultivar en het ’n uitstekende staanvermoë,” sê hy. Die P2432R-baster word ook nou sterk bemark.
Soja
DuPont Pioneer bied drie nuwe sojavariëteite wat gaan opspraak maak. Die Phb96T06R is al in sy tweede seisoen beskikbaar. Dit is in groeiklas 6 en presteer baie goed in die ooste en weste. Hierdie kultivar toon uitstekende verdraagsaamheid teen droogtes.
Daar is ook twee splinternuwe sojakultivars. Die P61T38R is ’n bepaalde groeier in groeiklas 6,1, wat besproeiingsboere baie goed kan aanwend. Hy het ’n lansetblaartjie wat aan die bokant oopmaak sodat dit doeltreffend teen byvoorbeeld sclerotinia bespuit kan word.
Die P64T39R is weer in die langer groeiklas, naamlik 6,4. “Dit presteer uitstekend in die weste en volgens die proefresultate wat onlangs ontvang is, toon dit sterk verdraagsaamheid teen droogtetoestande. In die ooste gaan hy ook baie goed presteer, maar dan sal die boere vroeg moet begin plant, want dit is ’n langer groeier,” sê Emile.
Al DuPont Pioneer se saad is aangepas vir Suid-Afrikaanse toestande, want elke pit word op hulle proefplase in Potchefstroom en Delmas geteel. Dit neem tussen ses en sewe jaar vir elke kultivar om deur die proef- en registrasieproses te gaan.
ProBox
DuPont Pioneer dink baie verder as net saadteling. Hulle rewolusionêre ProBox is ontwerp om saadhantering dramaties te vergemaklik. Spesiale kratte vol saad word op die boer se plaas afgelaai. Die oggend voor planttyd ry die boer die kratte op ’n spesiaal vervaardigde waentjie wat DuPont Pioneer verkoop, na die lande aan. Daar word die saad met ’n teleskopiese pyp en afstandbeheer in elke indiwiduele saadbak van die planter geblaas.
Die jongste toevoeging is dat boere hulle saadbehandeling op sojabone nou regstreeks in die kratte kan toedien en die boere hou al hoe meer van die stelsel. Die duursame kratte word dan teruggestuur koöperasie toe om weer gebruik te word.
Du Preez Kritzinger is gereed om enige verdere vrae te beantwoord. Skakel hom by 082-574-2272 of 012-683-5752, of e-pos dupreez.kritzinger@pioneer.com.

Pioneer se kundiges verduidelik die eienskappe van kultivars wat sorgsaam ontwikkel is vir elke produksiestreek en elke boer se behoeftes.