Drie gevang na plaasaanval op Warden

Vrystaat-Landbou-logo-275×275
Drie verdagtes is aangekeer na ’n plaasaanval in die Warden-distrik. Volgens inligting wat aan die VKB/VL Veiligheidslessenaar verskaf is, het vyf verdagtes gisteroggend die plaasbestuurder en werkers op die plaas Welgevonden aangeval. Die eienaar van die plaas was nie tuis nie. Die verdagtes het die kluis in die huis uit die muur gebreek en daarmee en met ander items in ’n voertuig gevlug.
Die Polisie en Warden Boerevereniging se plaaswag is van die voorval in kennis gestel, en drie verdagtes is by die tolhek by Villiers op die N3 deur die Polisie aangekeer. Die ander twee word nog gesoek. Al die gesteelde items asook ’n vuurwapen wat vermoedelik tydens die voorval gebruik is, is in die verdagtes se besit gevind. Niemand is ernstig in die voorval beseer nie.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Wet en Orde Komitee, sê die organisasie veroordeel alle gevalle van misdaad en ernstige geweldsmisdaad op plase ten sterkste. Hy is baie dankbaar dat die verdagtes so vinnig aangekeer is en dat geen ernstige beserings of lewensverlies tydens die voorval voorgekom het nie. “Ons wil weer eens boere en hulle werkers aanmoedig om paraat te wees daar waar hulle op plase woon en werk. Dieselfde veiligheidsmaatreëls moet in die dag en nag geld.”
“Ons wil verder die Polisie hartlik bedank vir hulle vinnige optrede in dié voorval en die oop deur beleid wat hulle handhaaf met ons veiligheidstrukture tydens sulke voorvalle,” aldus Tommie. Weens vinnige optrede deur die Polisie en boere is die verdagtes binne twee ure na die voorval aangekeer.
Hierdie is die 21ste plaasaanval in die Vrystaat tot dusver die jaar. Twee moorde is tydens dié 21 voorvalle aangeteken. Die meeste voorvalle, altesaam vyf, is gedurende Mei aangeteken.
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar