Drakensberger Beestelersgenootskap vier 70 jaar

drakensberger3
Nie net vier die Drakensberger Beestelersgenootskap in November hulle 70 jaar-herdenking van die stigting van die Genootskap nie, maar die ras vier ook ‘n ryk geskiedenis wat oor meer as 365 jaar strek.
Die ras is deel van die land en het ‘n bewese geskiedenis. Die geskiedenis sluit in die eerste swart os opgeskryf deur Vasco da Gama; daarna optekenings deur Simon van der Stel se boer oor die verbetering van die swart beeste, die rol van die beeste in die Groot Trek, die Genootskap se stigting in 1947 en die verpligte prestasietoetsing vir alle Drakensberger- telers sedert 1980.
Winston Churchill het gesê: “Those that fail to learn from history, are doomed to repeat it.”
Met soveel geskiedenis en dryfkrag om vorentoe te gaan, kan die staatmakerras net ‘n blink toekoms hê.
Die Drakensberger is ’n mediumraambees met ’n gladde, swart haarkleed, ’n opmerklike lang en diep lyf met ’n rustige temperament en is een van slegs drie inheemse beesrasse van Suid-Afrika. Die moderne Drakensberger is die produk van ontwikkeling – meegebring deur streng seleksie en gegrond op wetenskaplike norme. Die klem is deurlopend geplaas op ekonomies belangrike aspekte.
Die Drakensberger Beestelersgenootskap sê dankie aan elke teler, sakevennoot en die media wat hulle ras help uitbou en dit die ras maak waarvan almal praat: “Die koningin van koeie, die donkerkop met die stewige agterkwart wat almal beny. Die koning van bulle, smeulend en fors, hier om te bly,” sê die Genootskap in hulle verjaarsdagboodskap.
Bron: Drakensberger Beestelersgenootskap