Dr Charlotte Nkuna bestuur nou die pluimveevereniging

hoendersweb
Die pluimveebedryf in Suid-Afrika staar ‘n moeilike tydperk in die gesig. Daar is ernstige uitdagings soos voëlgriep en die impak van hoenderstorting op winsgewendheid en werksgeleenthede.
“Soos ek oorneem as tussentydse hoofuitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging (SAPA), is ek verheug deur die vasberadenheid van mense in die bedryf om die uitdagings te oorkom en om die bedryf weer te laat groei,” sê dr Charlotte Nkuna.
“Ek werk al vir amper 20 jaar in die pluimveebedryf, so ek verstaan die bedryf, sy mense en sy probleme. Ek weet ook dat ek ondersteuning vanaf my kolegas het asook van my voorganger, Kevin Lovell, aan wie ek graag ‘n spesiale huldeblyk wil bring vir sy jare lange waardevolle diens.”
Volgens dr Nkuna werk hulle baie nou saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om Avian Influenza te beveg. Die bedryf wag ook gretig op regeringsaksie om hoenderstorting te bekamp en sy is van plan om in kontak met die nodige staasdepartemente te bly.
Sy sê ook wat Suid-Afrika se pluimveebedryf benodig is ‘n ondersteunende omgewing waarin dit kan terugkeer na groei. “Dit sal ons in staat stel om produksie uit te brei en om werk te skep. Groei sal ook die bedryf in staat stel om sy planne vir transformasie te versnel.”
“Ek voel geëerd om die bedryf te lei in hierdie tyd en sien uit daarna om te help om groei en voorspoed terug te bring na een van Suid-Afrika se belangrikste landbousektore,” sê sy.
Bron: SAPA