Dít is waarom boere LEMKEN gebruik

New Picture (20)
LEMKEN het in ‘n baie kort tydjie ‘n huishoudelike naam geword in Suid-Afrikaanse landbou. Die afgelope jaar het ProAgri op verskeie plase gaan kuier waar LEMKEN ‘n tuiste gevind het. Hier is ‘n paar van die redes waarom boere blou gekies het:
Grondvogbewaring en suurstof vir plante
(Karat-tandkombinasiewerktuig)
“Ons almal lewe uit die grond en eindig in die grond – grond is ‘n lewende organisme.” Aan die woord is Mike
Dobrowksy, aartappelboer van Elliot- Ugie se wêreld in die Oos-Kaap. Mike glo daaraan as jy iets uit die grond haal, moet jy iets terugsit. Dit is waarom hulle stelsel voorsiening maak vir die aanplant van groenbemesting tussen oeste, sowel as die benutting van oesreste om humus in die boonste grondlagie te vorm. Die oesreste word egter ook bewei
en daar vind redelike vastrapping van die grond plaas. Mike sê: “Mense praat altyd net oor water en voedingstowwe, maar suurstof in die grond is net so belangrik soos water.” Met die Karat se tandrolaksie word die grond diep genoeg deurlug om aan die wortels ‘n behoorlike groeikans te gee om by die water uit te kom, terwyl die voedingstofryke humus in die bolaag bly.
Omgewingsvriendelike tydbesparing
(Rubin-skottelkombinasiewerktuig en Karat)
“Ek doen enigiets om oesopbrengste te verhoog en ons hier met die besproeiing het so half by ‘n plafon gekom,”
gesels Klasie Jacobs van Douglas. Hy het, soos vele ander boere in die land, die gevolgtrekking bereik dat die
oplossing vir oesverbetering nie meer net in chemie gevind kan word nie. Die grondstruktuur moet verbeter word
deur die vermeerdering van organiese materiaal in die grond. Maar dit is makliker gesê as gedaan, veral met die reste van ‘n mielie-oes van so 14 ton per hektaar en ‘n vensterperiode van omtrent twee weke om dit in te werk voordat die
koring of ander kleingraan, soos gars, geplant moet word. “Daar is nie tyd om te wag vir die kaf om bros te word nie en ‘n gewone skotteleg hardloop net bo-oor alles,” sê Klasie.
Proefnemings op die plaas het getoon dat die Rubin 12 tot 80% van die reste kan wegsny sodat die Karat ‘n paar dae later kan deurgaan om alles te deurlug, te vermeng en ‘n behoorlike fermgetrapte saadbed, gereed vir plant, voor te
berei. Met die koringreste word net die Karat ingespan, want anders as met die mielies, is daar nie eers twee weke tyd tussen stroop en plant nie.
Uitstekende plantestand met diesel- en arbeidsbesparing
(Rubin en Solitair-planter)
In die Groblersdal-omgewing vertel George Barnard: “Ek het oorspronklik gesoek na ’n planter en ’n grondbewerkingseenheid wat saamwerk om diesel- en arbeidskoste te verminder deurdat ek minder kere oor die land hoef te gaan. Toe ek met die Solitair begin plant, vind ek toe boonop dat my plantwydte smaller word en die
koringsaad nie so dig teen mekaar in die ry geplaas word nie. Dit maak ’n skaakbord-effek, sodat die are mekaar
nie verdring nie. Ek vind nou dat my are lekker stoel omdat hulle genoeg ruimte het om te groei en die mededinging
minder is.” Jy kan dit nie vergelyk met ‘n ander planter nie, want dit doen mos alles in een,” sê Werner Basson van Fochville. LEMKEN se 5-meter Rubin-skotteleg en saadbedvoorbereider abba die Solitairplanter en in een vinnige verbyswiep word die grond bewerk en beplant. Werner plant tef vir vee- en perdevoer en voorsien ook saad aan K2Agri. Hy kan nie uitgepraat raak oor die ontkieming en plantestand nie en sê hy gaan volgende keer beslis meer
as sy gewone 20 kg per hektaar saai, want “alles kom op”. ’n Grasplant wat dapper en regop staan en wag vir die
snyer word skoner afgesny en kan gouer en sterker hergroei. Dit beteken meer volume materiaal en dit beteken
meer ‘tjienk’ in die sak! “As ons geplant het soos ons in die verlede geplant het, het alles nou platgelê,” sê Willie de Klerk van Koedoeskop. Die dag voor ProAgri die besproeiingsplaas besoek het om aan die einde van die koringseisoen te kyk hoe LEMKEN se Solitair-planter gevaar het, het daar ‘n hael- en windstorm deur die plaas getrek, maar Willie se koring het bly staan. Johan, Willie se seun, skryf dit toe aan die planter se presiese spasiëring
van die saad, wat optimale groei teweeg bring. Die are groei sterk omdat hulle mekaar nie verdring nie. “’n Halwe kilogram wat jy te veel op een hektaar plant kan die verskil maak tussen koring wat regop staan en koring
wat gaan lê,” vertel hy. Dit is veral die akkuraatheid van die Solitair teen hoë spoed wat hom beïndruk het. “Teen 10 kmu lyk dit of ek met ‘n vingerplanter geplant het,” spog hy.
Duitse presisie en gehalte
Oor een ding is almal dit eens; in Klasie Jacobs se woorde: “Die LEMKEN-goed is goedgemaakte goed.”
LEMKEN kan jou ook help om jou boerderydoelwitte te bereik. Kontak Blackie Swart by 082-404-
9651 of b.swart@lemken.com; of Karel Munnik by 082-412-2577 of k.munnik@lemken.com.
