Categories: NewsPublished On: 11th December 2014

Die wolmark sluit bestendig af

By 1 min read
238 words

Die wolmark het op ‘n bestendige noot op die laaste veiling voor die Kersreses gesluit en Cape Wools se Merino-aanwyser styg met 1,5% om op R110,82/kg (skoon) te sluit. Dit is 0,7% laer as op die openingsveiling en 5,6% laer teenoor die ooreenstemmende veiling van die vorige seisoen. Op die Australiese mark het die aanwyser met 0,2% gedaal.

Plaaslike handelaars sê die stewiger Australiese mark, tesame met ‘n sterker Australiese dollar, het aanleiding gegee tot beter wolpryse in Suid-Afrika. Wolpryse het ook gebaat by die swakker rand aangesien die mark aansienlik goedkoper was in Amerikaanse dollars.

Die rand teen R11,46 was sowat 3% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige week se veiling en 2,8% swakker teenoor die Euro. Altesaam 97% van die 14 152 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA (4 902), Standard Wool SA (3 931), G Modiano SA (2 974) en Stucken & Co (1 137).

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18 mikron styg met 1,4% tot R118,39/kg, 18,5 mikron verswak met 0,2% tot R115,47/kg, 19 mikron verswak met 0,4% tot R114,90/kg, 19,5 mikron versterk met 1,0% tot R113,16/kg, 20 mikron styg met 0,5% en sluit op R109,97/kg, 20,5 mikron daal met 0,1% en sluit op R109,48/kg, 21 mikron versterk met 1,9% en sluit op R109,51/kg, 21,5 mikron versterk met 0,2% en sluit op R109,06/kg en 22 mikron styg met 0,2% tot R109,11/kg.

Die eerste veiling vir die nuwe jaar is geskeduleer vir 14 Januarie.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0