Die vuurwapenwet se hersiening gaan Grondwethof toe

vuurwapen
Die appèl van die SAPD teen die Gautengse Hooggeregshof sê die besluit oor die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging se aansoek om twee dele van die vuurwapenbeheerwet ongrondwetlik te verklaar, sal op 8 Februarie 2018 in die Grondwetlike Hof aangehoor word.
Op 4 Julie 2017 het die Gautengse Hooggeregshof ten gunste van die SA Jagters se aansoek beslis dat Artikels 24 en 28 van die Wet ongrondwetlik is. ‘n Paar weke later het die SAPD (Suid-Afrikaanse Polisiediens) ‘n aansoek om appèl by die Grondwetlike Hof ingedien teen die uitspraak van die Gautengse Hooggeregshof.
Fred Camphor, besturende direkteur van SA Jagters, sê hulle is bly dat die Grondwetlike Hof die saak binne so ‘n betreklik kort tyd kan aanhoor, wat die dringendheid van hierdie saak bevestig. “Die Hooggeregshof se uitspraak op 4 Julie was ‘n groot oorwinning vir alle wettige vuurwapeneienaars. Ons is versigtig optimisties dat die Grondwetlike Hof in ons guns sal beslis.”
SA Jagters se hooggeregshofaansoek het gevolg op die SAPD se arbitrêre hantering van laat aansoeke vir die hernuwing van vuurwapenlisensies tussen 2011 en 2016. Dit was die tweede keer dat SA Jagters in die belang van alle vuurwapeneienaars met regstappe geslaag het.
In 2009 het die hof ook in die guns van SA Jagters beslis. Hulle het verklaar dat alle ou lisensies wat ingevolge die ou wet uitgereik is (ook bekend as die ou groenlisensie), geldig geag word totdat die hofaansoek afgehandel is. Die SAPD het nooit gereageer op die beslissing nie, wat beteken dat die ou groenlisensies vandag nog geldig is.
Fred herinner vuurwapeneienaars om verantwoordelik en binne die beperkings van die Vuurwapenbeheerwet op te tree wanneer hulle aansoek doen of hulle vuurwapenlisensies hernu.
“Die status quo aangaande hulle verpligtinge ingevolge die Wet het nie verander sedert die 4 Julie-hooggeregshof beslissing nie. Totdat die Grondwetlike Hof anders reël, het niks verander nie.”
In die belang van behoorlike regsprosedures en die wet, adviseer SA Jagters vuurwapeneienaars soos volg:
- As u vuurwapenlisensie verval, moet u asseblief betyds aansoek doen vir die hernuwing van die lisensie. Voltooi die aansoek, heg die vereiste dokumente aan en neem dit na die aangewese vuurwapenbeampte by u plaaslike polisiekantoor soos vereis deur die wet;
- As u reeds ‘n vuurwapen aan die polisie oorhandig het, behou die bewys daarvan. Moenie die polisie vra om jou vuurwapen terug te gee nie. Hulle sal dit nie doen nie.
- As u in besit is van ‘n vuurwapen waarvan die lisensie verval het, hou dit in u kluis weggesluit.
Bron: SA Jagters