Categories: Artikels, Gewasproduksie, GrondPublished On: 28th August 2023

Die verskuilde impak wat aalwurms op Suid-Afrikaanse produsente het

By 5 min read

Syngenta-LOGO-PNG-002

Aalwurms, mikroskopiese wurms wat in die grond woon, hou ‘n groter gevaar vir Suid-Afrikaanse produsente in as wat hulle dalk besef. Volgens Professor Driekie Fourie, aalwurmkundige en tegniese produkleier vir Seedcare™ by Syngenta, strek die probleme wat plantparasitiese aalwurms inhou veel verder as die tradisionele brandpunte en het hulle ‘n beduidende impak op oesopbrengs.

Prof. Fourie se nuutste navorsing dui daarop dat wanneer aalwurms in die grond gediagnoseer word, dit bykans onmoontlik is om hulle uit te wis. Dit lei nie net tot grootskaalse opbrengsverliese nie, maar bedreig volhoubare gewasverbouing. “Ongeveer 12% van opbrengsverliese in Suid-Afrika word aan plantparasitiese aalwurms toegeskryf en in hoogs besmette lande kan verliese so hoog as 60% en meer wees,” verduidelik Prof. Fourie.

Aalwurms het ook ‘n geweldige nadelige uitwerking op mielies se wortelstelsels. Die klein, nuwe, worteltjies van jong saailinge is besonder weerloos teen aalwurmbesmetting en parasitisme. Tweesaadlobbige gewasse, soos sojabone, is ook uiters vatbaar vir aalwurminfeksies.

Daar is twee hoof aalwurmgroepe wat die ernstigste probleme in Suid-Afrika veroorsaak. Die een is knopwortelaalwurms wat bogrondse plantdele laat vergeel, verdwerg en/of verwelk in hoogs besmette dele van ‘n land. Die vroulike wurms kan tot 1 800 eiers  in ‘n enkele eiermassa op ‘n slag lê, soos wat Prof. Fourie self waargeneem het op die wortels van ‘n vatbare sojaboonkultivar. Die tweede groep is letselaalwurms. Hierdie wyfies lê een eier op ‘n slag, maar doen dit voortdurend oor ‘n lang tydperk.

Sekere dekgewasse soos koring, kan help om aalwurmpopulasies in toom te hou – maar kan hulle ook onderhou. Ander gewilde dekgewasse, soos sunnhennep, sal knopaalwurmbevolkings verminder, maar letselaalwurms toelaat om te vermeerder.

Graangewasproduksie in Suid-Afrika word in besonder aan bande gelê deur die bogenoemde twee endoparasitiese aalwurmgroepe, maar ook deur ektoparasitiese aalwurms. Prof. Fourie noem dat dit lyk asof ektoparasitiese bevolkings aan die toeneem is in sekere bewaringsboerderygebiede waar sy besig was met navorsingsprojekte.

Die verskyning van nuwe aalwurmspesies, soos die hoogs patogeniese knopwortelaalwurm Meloidogyne enterolobii, onderstreep die noodsaaklikheid om hierdie organismes deegliker te bestudeer en na te vors. Dit is veral krities belangrik om die korrelasie tussen aalwurmgetalle en -verskeidenheid en ‘n wye reeks faktore te ondersoek en beter te verstaan. Sodanige faktore sluit droogte, hoë reënval, besproeiing en ander omgewingsfaktore, asook chemiese, fisiese en biologiese grondparameters in.

Baie belangrik vir produsente is ook om kennis ten opsige van die oorlewingsvermoë van aalwurms te bekom. Opnames wat in plaaslike graanproduksiegebiede gedoen is, trek boonop ‘n verband tussen hoër reënval en besproeiing en ‘n toename in aalwurmpopulasies.

Hierdie mikroskopiese organismes het die vermoë om te oorleef tydens ongunstige toestande (bv. droogte en koue) en gaan net weer voort om in graangewasse se wortels te voed sodra dit weer reën en warmer temperature aangeteken word. Aalwurms oorleef ook in wortels of ander ondergrondse dele van dekgewasse wat goeie aalwurmgashere is en in grond met hoër temperature. ‘Warmer’ grond is onder andere die gevolg van bewaringsboerderypraktyke wat bepaal dat landbougrond nie onbedek gelaat moet word nie.

Alhoewel ons akademiese begrip van aalwurms verbeter het, skiet kennis op plaasvlak nog te kort. “Produsente moet ingelig word oor aalwurms en hul potensiële impak op grond- en wortelgesondheid,” sê Prof. Fourie. “Dit is noodsaaklik om die teenwoordigheid van nuwe aalwurmspesies te identifiseer en te verstaan in belang van doeltreffende bestuur en navorsing. Suid-Afrikaanse produsente kan die negatiewe impak van plantparasitiese aalwurms teëwerk en landbouvolhoubaarheid verbeter deur meer bewus te wees van navorsing en bestuurstrategieë en daarin te belê.”

Die voortgesette uitdaging van klimaatsverandering wat geografiese verskuiwings in rygewasproduksie teweegbring, kan nie uit die oog verloor word nie. Terselfdertyd is die koste verbonde aan aalwurmbeheerpraktyke, veral op droëlandplase, ‘n groot kopseer.  Bestaande wisselboustelsels werk ongelukkig die opbou van aalwurmpopulasies aan die hand omdat die oorheersende en ekonomies belangrike knopwortel- en letselaalwurms wat algemeen in lande voorkom, ‘n wye gasheerspektrum het. Hierdie twee aalwurmgroepe se getalle bou dus op in plaaslike graanproduksiegebiede en het uiteindelik groot skade vir produsente tot gevolg.

Die goeie nuus is dat skade beperk kan word deur wisselgewasse te plant wat óf bestand is teen aalwurms óf swak gashere is. Belowende navorsingsresultate het byvoorbeeld al gewys dat weerstandbiedende sojaboonkultivars ‘n 39% toename in opbrengs lewer.

“Die ontdekking van die globale gevaarspesie M. enterolobii in die Hoëveldstreek van Mpumalanga en in ander graanproduksiegebiede beklemtoon dat volgehoue navorsing en waaksaamheid onontbeerlik is,” sê Prof. Fourie. “Dit is belangrik om ‘n holistiese benadering tot plantparasitiese aalwurms te volg, aangesien hulle dikwels die weg baan vir sekondêre swaminfeksies. Deur kennis, doeltreffende bestuurstrategieë en samewerking te kombineer, kan ons die uitdagings wat aalwurms inhou beter aanpak en die langtermyn volhoubaarheid van Suid-Afrikaande landbou verseker.”

Maatreëls wat produsente kan instel om volhoubaar te boer op gronde met laer aalwurmpopulasies sluit in die verhoging van grond se organiese inhoud in graanproduksiegebiede, die plant van dekgewasse wat bestand teen aalwurmpeste of slegte gashere is, en die verantwoordelike gebruik van chemiese aalwurmdoders met gunstige omgewingsprofiele en geen negatiewe uitwerking op diere, mense en voordelige organismes. Die beste voorbeeld is Syngenta se AVICTA® saadbehandeling. Hierdie uiters effektewe aalwurmdoder verg geen moeite van die produsent nie en beskerm saailinge ook teen saad- en saailingsiektes en insekte.

Die toenemende fokus op omgewingsvriendelike produkte met aalwurmdodende eienskappe is ook ‘n belangrike stap in die regte rigting, naamlik om die gesondheid en gehalte van ons gronde te optimaliseer. Dit is belangrik om dié werklikheid in gedagte te hou, siende dat dit onmoontlik is om hierdie ongesiene vyande met hul uitstekende oorlewingseienskappe heeltemal uit te wis.

Bron: Syngenta Group

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0