Die verbruiker gaan meer vir eiers die Feesseisoen betaal

eggs 2
Die prys van eiers gaan verder verhoog as gevolg van die avian influenza uitbraak in SA wat die pluimveebedryf hard getref het net toe die bedryf begin herstel van die droogte.
Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB sê: “Die toename in eierpryse is onderhewig aan vraag- en aanboddinamika met die uitbraak van voëlgriep wat ‘n groot invloed op die onlangse styging het.”
Volgens die mees onlangse data van Statistiek SA het die prys van eiers met 8,5% jaar-op-jaar gedurende Oktober 2017 verhoog. Hierdie tendens sal waarskynlik op die kort tot mediumtermyn voortduur, aangesien voorraadtekorte waarskynlik tot ‘n jaar sal duur.
Die vraag bly onveranderd
Eierpryse sal in die volgende paar maande van 15% tot 20% styg. Volgens SAPA (Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging) het die bedryf alreeds ‘n 12% jaar-op-jaar afname in die gemiddelde weeklikse eierproduksie gedurende September 2017. Die koste van eierverspreiding sal waarskynlik ook toeneem as gevolg van die onlangse brandstofverhoging.
Die vraag na eiers sal egter nie dramaties verander nie, die verbruik per capita ongeveer 7,9 kg per persoon per jaar sal bly.
Paul sê handelaars gaan eiers teen hoër pryse hierdie feesseisoen verkoop.
“Die teenkanting is dat die prysverhoging produsente sal help om verliese te verhaal aangesien hulle steeds skuld betaal wat tydens die laaste droogte aangegaan is. Dit sal hulle verder in ‘n beter posisie plaas om hulle produksie te herbevestig en te verhoog, wat uiteindelik die verbruiker sal bevoordeel ten opsigte van ‘n bekostigbare proteïenbron,” voeg Paul by.
Die relatief laer mieliepryse sal voortgaan om die winsgewendheid van die sektor ten opsigte van lae voerkoste te verbeter. Mieliepryse het met 53% en 38% gedaal van verlede jaar tot R1,879/ton en R1,827/ton onderskeidelik vir wit en geelmielies.
Paul sê daar is ‘n beperkte styging vir mieliepryse, gegewe die gunstige weervooruitsigte in die seisoen wat voorlê.
Bron: Bizcommunity