Die regte stroper maak 'n taai taak soet
Sweet, seer rûe en rou hande was in die goeie ou tyd die kernkenmerke van oestyd op die plaas.
Die taai oumense het koring met sekels gesny, met donkies en muile op die trapvloer uitgetrap om die korrels uit die are te kry en dit gewan. Want (graan suiwer) het destyds beteken dat hulle die getrapte spulletjie met gaffels in die lug gegooi het sodat die wind die kaf kon wegwaai en die swaarder korrels op die grond kon terugval waar dit later opgetel kon word. As die wind nie sterk genoeg waai om die graan ordentlik te wan nie, het die oumense geglo dat hulle moes fluit om die wind te roep.

’n Nuttige nuwe ontwikkeling is ’n blaser met ’n ry spruitstukke wat voor aan die koringtafel gemonteer word. Dit blaas ’n sterk lugstroom wat stingels na die snystaaf neig en pitte na die koringtafel se awegaar dwing om oesverlies aansienlik te verminder.
Van sekelsny en van mieliekoppe met die hand pluk of die plante met kapmesse afkap en aanry tot die moderne stroper was ’n lang en interessante pad van tegnologie-ontwikkeling met osgetrekte sekellemsnyers, selfbinders, stoomenjins en trapmasjiene, soos die oumense die dorsmasjien genoem het.
Vandag se moderne stropers doen maar presies wat die oumense gedoen het; net makliker, vinniger en meer gemeganiseerd. Die Engelse noem immers ’n stroper ’n combine harvester, wat bloot beteken dat dit al die oeswerk in een beweging doen: die graan afsny, dors (die korrels uit die are of die pitte van die stronk af of die pitte uit die peule haal) en wan (die kaf van die korrels skei).
’n Stroper is ’n duur stuk toerusting, daarom moet die graanboer baie mooi kies om seker te maak hy koop die regte masjien wat die beste werk in sy besondere omstandighede sal doen. Die heel eerste besluit wat die boer moet neem, is of hy hoegenaamd ’n stroper moet koop en of hy van ’n stroopkontrakteur se dienste gebruik wil maak.
Gewoonlik bied ’n stroopkontrakteur die boer die voordeel van die mees gevorderde en byderwetse tegnologie, wat sommige boere nog nie kan bekostig nie – soos presisieboerderystroperkaarte waarvolgens die boer sy volgende seisoen se plantdigtheid en bemesting haarfyn kan beplan. Omdat stroop sy bestaan is, het die kontrakteur gewoonlik ook die beste masjinerie en personeel wat die doeltreffendste kan stroop. ’n Goeie, betroubare stroopkontrakteur kan vir die boer baie van die kopsere wat maar met strooptyd gepaard gaan uitskakel.
Maar stroopkontrakteurs kan ook vir die boer ekstra sorge skep. Daar moet fyn beplan word presies vir wanneer die kontrakteur se dienste bespreek word – veral vir gewasse soos soja wat presies op die regte tyd gestroop moet word – en as die kontrakteur nie op die regte tyd opdaag nie, sit die gefrustreerde boer met afgekapte arms en wag.
Die boer moet dus mooi besin wat vir hom die lonendste en gerieflikste opsie sal wees – om ’n kontrakteur te gebruik of om ’n stroper te koop en die werk self te doen.

Verlede keer het ons gesels oor sleepstropers, selflopers en mielieplukkerkoppe. Vandeesmaand kom koringtafels onder die loep.