Categories: HarvestersPublished On: 31st July 2014

Die regte stroper maak 'n taai taak soet Deel III

By 3 min read

In die vorige artikels het ons gelees hoe die rugbreekwerk van koringsny met die sekel en die pynlike werk van mieliekoppe pluk met die hand nou deur die flukse en onuitputlike koringtafel en mielieplukkerkop oorgeneem is. Nou moet die koringkorrels uit die aar of die mieliepitte van die kop geskei word en daarvoor lig ons die stroper se deksel om te kyk hoe sy binnewerke werk.

Die dorsproses

Nadat die mielieplukkerkop of koringtafel die materiaal afgesny en met sy awegaar of vervoerband na die middel vervoer het, voer ’n hyser dit deur die stroper se bek of voerkamer na die dorsdrom. Net voor die dorsdrom is ’n klipvanger wat bloot op die beginsel werk dat klippe swaarder as plantmateriaal is en dus in die klipvanger sal val. ’n Doeltreffende klipvanger bespaar heelwat moontlike skade aan ’n stroper se meganisme.

Die draaiende dorsdrom of –silinder se gegroefde rasperstawe van staal werk teen die konkaaf (’n halfdrom met staalstawe en ’n stewige maasrooster) om die materiaal te pluis en die eerste skeiding van korrels en kaf te bewerkstellig.

Die pitte en kleiner kafdeeltjies val deur die konkaaf se maasrooster tot in die graanpan terwyl die groter stronke, stingels en stamme na die strooiskeiers (straw walkers) gevoer word.

Die spoed waarteen die dorsdrom draai en die afstand tussen die dorsdrom en konkaaf kan verstel word om die doeltreffendste skeiding van verskillende gewasse te bewerkstellig.

Vir die verwydering van garsagtige gewasse se baard is daar spesiale plate wat aan die konkaaf gemonteer kan word om meer wrywing toe te pas.

Daar is twee verskeie soorte dorsdromme in die stroperbedryf beskikbaar: Die konvensionele of dwarsdromstroper en die rotor- of asvloeistroper.

Waar die konvensionele stroper se dorsdrom dwars gemonteer is, is die rotorstroper se rotordrom oorlangs gemonteer, met plate soortgelyk aan die konvensionele stroper se rasperstawe. Elkeen van hierdie opsies het voor-en nadele, maar met die ontwikkeling van die tegnologie raak die nadele al hoe minder sodat ’n mens werklik nie kan sê dat daar ’n slegte stroper in die mark beskikbaar is nie. Daar is vandag selfs kombinasiestropers wat dwarsdromme sowel as rotors het in ’n poging van die vervaardigers om die boer die beste van albei opsies te bied.

Die dwarsdromstroper verniel die kaf minder sodat dit vir veevoer gebaal kan word, maar die hedendaagse rotorstropers werk darem mooier met kaf as die eerste modelle.

’n Dwarsdromstroper is ook minder skrikkerig vir klam of nat materiaal as ’n rotorstroper en hy vereis minder enjinkrag, alhoewel heelwat moderne dwarsdromstropers sterker enjins het waarmee hulle prestasie heeltemal vergelykbaar met rotorstropers s’n is.

Die voordele van ’n rotorstroper is dat dit minder onderdele het, dat dit vinniger as die ou konvensionele stropers met die kleiner enjins stroop en die belangrikste is dat dit sagter werk met breekbare pitte soos bone. Skuinstes het ook nie so ’n groot invloed op rotorstropers as op konvensionele dwarsdromstropers nie, maar tog is daar deesdae dwarsdromstroperontwerpe wat hulle net so opgewasse vir skuinstes maak.

Sommige boere sweer by konvensionele dwarsdromstropers en ander by rotorstropers, maar stropervervaardigers ontwikkel hulle produkte so flink en vinnig dat daar vandag bitter min tussen die twee te kies is.
 

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0