Die regte kultivar maak die verskil: Limagrain se sonneblomproewe op die Springbokvlakte

DSC_0702
In ’n bedryf waar elke millimeter reën en elke kilogram opbrengs tel, speel kultivarkeuse ’n deurslaggewende rol in die sukses van sonneblomboerdery. Limagrain het onlangs sonneblomproewe by Gideon van der Walt op die Springbokvlakte gevestig. Hierdie proewe gee aan boere die geleentheid om eerstehands te sien hoe verskillende genetika onder plaaslike toestande presteer.
Deur kultivars langs mekaar onder dieselfde grond- en klimaatstoestande te plant, kry boere ’n realistiese prentjie van hoe elke kultivar werklik in die land sal vaar. Dit is juis hierdie praktiese benadering wat die waarde van strookproewe beklemtoon.
Praktiese waarde vir boere
Die doel van sulke proewe is eenvoudig: om betroubare, praktiese aanbevelings te maak. Verskille in groeikragtigheid, blomstadium, kopgrootte en opbrengspotensiaal kan maklik waargeneem word wanneer kultivars direk langs mekaar geplant word.
In ’n land soos Suid-Afrika, waar toestande drasties wissel, is hierdie tipe evaluasie van kardinale belang. Wat in een streek presteer, sal nie noodwendig elders dieselfde resultate lewer nie.

Anita Janeke (produkontwikkeling) en Fanie Yssel (tegnies) van Limagrain bespreek die prestasie en seleksie van sonneblomkultivars tydens die proef op die Springbokvlakte.
Aaneenlopende produkontwikkeling
Volgens Anita Janeke, wat by Limagrain se produkontwikkeling van sonneblomme betrokke is, is die seleksieproses streng en deurlopend:
“Oor die afgelope drie jaar het ons tussen agt en nege kultivars per jaar in hierdie tipe proewe geëvalueer. Uiteindelik hang dit af van opbrengs en plantkenmerke voordat ’n kultivar bemark word. Die afgelope jaar was dit omtrent vier.”
Fanie Yssel, wat aan die tegniese kant verbonde is, beklemtoon dat opbrengs steeds die kern bly.
“Daar word eerstens vir opbrengs geselekteer, en dan vir plantmorfologie, die plant moet goed kan staan en sterk wees teen blaarsiektes. Maar op die einde van die dag is dit die stroper wat die praatwerk doen.”

Nuwe genetika op die proef
Onder die kultivars wat aandag trek, is twee nuwe konvensionele sonneblomkultivars:
LG 50745
Hierdie is een van die kortste groeiers in Limagrain se reeks, en selfs in die mark. Volgens Anita is dit ideaal vir vinnige aanplantings: “Dit is ’n baie kort groeier, perfek vir vroeë of laat aanplantings wanneer tyd ’n faktor is.”
LG 50746
’n Effens langer groeier, maar met hoër opbrengspotensiaal: “Hy is ’n bietjie langer as sy boetie, maar dit gee vir jou ’n beter opbrengs en markgeleentheid.”
Gandalf CLP
Hierdie Clearfield Plus-kultivar staan uit vanweë sy stabiliteit en groeikrag: “Hy is n sterk plant wat geselekteer is vir sy stabiliteit en hy is vier dae vinniger as ander kommersiële kultivars. Sy bolvormige kop help om swaar pitte en ’n goeie opbrengs te verseker.”
Anita Janeke van Limagrain verduidelik die voordele van die Gandalf CLP-sonneblomkultivar.

Gideon van der Walt, boer op die Springbokvlakte, saam met Lambert Blom, landboukundige by Limagrain.
Die boer se perspektief
Vir Gideon lê die waarde van die proewe in die praktiese insig wat dit bied: “Wat ek die meeste waardeer van Limagrain se proewe, is die verskeidenheid kultivars wat ons elke jaar kan toets. Dit gee ons eerstehandse inligting oor groeilengtes en siekteweerstand, en dit help ons om risiko te bestuur, want ons weet nooit wat die seisoen gaan bring nie.”
Hy verduidelik dat spesifieke plantkenmerke vir hulle ’n groot rol speel: “Die eerste ding waarna ons kyk, is koppe wat hang. Dit help baie met voëlskade, wat vir ons langs die Nylrivier ’n groot uitdaging is. Die kopdraai van Limagrain se sonneblomme beskerm maklik tot 10% van jou oes.”
Groeilengte is nog ’n kritiese faktor: “Soms het jy net ’n week of twee om te plant. Dan maak ’n kort groeier ’n groot verskil.”
Bestuurspraktyke en stand
Wanneer dit by aanplanting kom, volg Gideon ’n gebalanseerde benadering. “Ons plant omtrent 60% tot 70% Clearfield Plus, maar wissel dit met konvensionele sonneblom. Dit help ons om chemie te roteer, want onkruid bly een van ons grootste uitdagings,” verduidelik hy.
Wat stand betref, jaag hulle nie uiterstes nie. “Ons mik vir ongeveer 31 000 tot 32 000 plante per hektaar. As ons 29 000 tot 30 000 kry, is ons baie tevrede. Ons soek uniformiteit, die grootste kop is nie altyd die een met die meeste pitte nie.”
Hy voeg by dat olie-inhoud ook ’n groot rol speel: “Met Limagrain se kultivars sien ons gemiddeld rondom 45% olie. Natuurlik verbeter dit met goeie reën en ’n beter seisoen.”
Nog ’n aspek wat uitstaan, is plant-eenvormigheid. “Die hoogte van die sonneblomme is baie eweredig. Dit maak stroop makliker en wys dat die kultivar regdeur konsekwent presteer,” sê Gideon.
Stabiliteit bly koning
Limagrain se fokus op genetika is duidelik in die benadering wat hulle volg, naamlik kultivars wat nie net hoë opbrengste lewer nie, maar ook konsekwent in verskillende toestande presteer.
Die proewe toon ’n wye reeks eienskappe:
- Aanpasbaarheid by verskillende klimaatstoestande
- Verskillende groeilengtes
- Siekteweerstand en stremmingverdraagsaamheid
Hierdie diversiteit stel boere in staat om hul keuses fyn te bestuur volgens hul unieke omstandighede.
Limagrain se sonneblomproewe is ’n bewys van hoe navorsing en praktyk mekaar aanvul. Dit bied nie net insig in nuwe genetika nie, maar gee aan boere die vertroue dat hul besluite gebaseer is op werklike velddata. In ’n tyd van stygende insetkoste en toenemende risiko, bly sulke proewe ’n onmisbare hulpmiddel om opbrengs te beskerm en uiteindelik te maksimeer
Vir meer inligting oor Limagrain se sonneblomkultivars en hoe boere daarby kan baatvind, skakel 017-647-6431, stuur e-pos na lgsainfo@limagrain.com, of besoek hul webtuiste by www.lgseeds.co.za