Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 30th April 2024

Die ontwikkeling van die landbouverwerkingsektor kan Suid-Afrika se ekonomie aansienlik bevorder

Picture2

Primêre landbou dra ongeveer 2,5% by tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk, wat ‘n relatief klein bydrae is in ag genome dat landbougrond byna 80% van die land se totale grondoppervlakte beslaan. Die sektor se algehele bydrae, insluitend die waardeketting, is egter aansienlik hoër, met ‘n bydrae van 10,3% in 2023 (7,8% in 2021)¹.

Die landbousektor se prominente rol in die ekonomie spruit uit verbintenisse met ander sektore. Hierdie verbintenisse sluit in terugwaartse interaksies met boere deur die aankoop van goedere soos kunsmis, chemikalieë en implemente, asook voorwaartse verbintenisse deur die uitvoer van primêre produkte, verspreiding in die voedselketting, en die verskaffing van grondstowwe vir landbouverwerking. Sowat 70% van landbou-uitset dien as intermediêre produkte in die verwerkingsektor. Landbouverwerking, wat sedert die 1970’s die grootste komponent van die vervaardigingsektor is, dra oor die afgelope 50 jaar konsekwent ‘n gemiddelde derde van die totale vervaardigingsuitset by, en die aandeel het sedert 2010 gegroei2.

Die landbouwaardeketting word dus as ‘n belangrike groei-enjin vir die res van die Suid-Afrikaanse ekonomie beskou en, in baie gevalle, die lewensaar van die landelike ekonomie. In talle dokumente, insluitend die meesterplan vir landbou en landbouverwerking (AAMP) van 2022, is landbou-verwerking as ‘n dryfveer van industrialisasie geïdentifiseer, met groot potensiaal om tot die strukturele transformasie van die ekonomie by te dra. Primêre produksie en verskeie landbouverwerkingsbedrywe is arbeidsintensief, wat ‘n belangrike faktor ten opsigte van werkskepping is, terwyl landbouverwerkingsbedrywe die groei van klein en medium ondernemings bevorder, wat weer tot groter deelname aan die ekonomie en ekonomiese transformasie kan bydra.

Verwerkte uitvoere kan beter opbrengste vir Suid-Afrika lewer.

Op grond van groeiende opbrengste oor die afgelope paar jaar kan gemotiveer word vir verdere verwerking van die land se landbouprodukte vir die uitvoermark. Uitvoerwaarde per ton vir landbouverwerkte goedere is tot 3 keer dié van nie-verwerkte goedere³, wat hoër uitvoerverdienste vir die bedryf impliseer. Die uitbreiding van die landbouverwerkingsektor kan ook meer plaaslike waarde genereer deur werksgeleenthede te skep, veral vir ongeskoolde en halfgeskoolde werkers, en die potensiaal om landbouverwerkte invoere te vervang, te verhoog.

Die onlangse prestasie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf teenoor die uitvoer van druiwe illustreer die motivering vir die uitbreiding van die land se landbouverwerkingsektor. Tussen 2018 en 2022 was die uitvoerwaarde van wyn per ton gemiddeld 2,5 keer meer as die druifuitvoerwaarde per ton³. Op grond van hierdie resultate sal dit sinvol wees om meer op die verhoging van uitvoervolumes en wynverkope, of verwerkte druiwe in die vorm van sap of rosyne, to fokus.

‘n Soortgelyke assessering is vir avokado’s en avokado-olie gedoen, wat aan die lig gebring het dat Suid-Afrikaanse avokado’s, oor die meeste uitvoermarkte, as inset vir olieproduksie aangewend word. Dit regverdig dan dat die avokadobedryf sy olieproduksie uitbrei en met uitvoermarkte heronderhandel om die uitvoer van avokado-olie eerder as avokado’s te prioritiseer. Dit sal meer waarde vir Suid-Afrika lewer, aangesien die gemiddelde uitvoerwaarde per ton avokado-olie tussen 2018 en 2022 byna 2 keer die uitvoerwaarde per ton vars of gedroogde avokado’s was³.

‘Die uitdaging is natuurlik toegang tot finansiering en staatsondersteuning, maar privaatsektorfinansiering is geredelik beskikbaar deur die banksektor, en toepaslike aansporings en finansieringsoplossings kan in plek gestel word om privaatbeleggings te lok,’ sê John Hudson, Hoof van Landbou by Nedbank Kommersiële Banksake. ‘Daarbenewens moet ander uitdagings, soos beurtkrag en infrastruktuurbeperkings, ook aangespreek word sodat die landbouverwerkingsbedryf kan groei en floreer. Maar, as ons hierdie struikelblokke kan oorkom, het ek geen twyfel dat Suid-Afrika landbouprodukte kan benut om ‘n toonaangewende deelnemer in die landbouverwerkingsektor te word nie.’

Sluit aan by Nampo se Nasie in Gesprek om hierdie onderwerp te bespreek.

Soos vroeër is Nedbank ‘n borg van die Nasie in Gesprek-paneelbesprekings by Nampo. Vanjaar handel Nedbank se gesprek op Donderdag, 16 Mei om 11:00 op die Nasie in Gesprek-verhoog oor die belangrikheid van die landbouwaardeketting, die uitdagings wat sekondêre landbou in die gesig staar, asook die geleenthede wat dit bied. Nedbank-verteenwoordigers vorm ook die deel van die paneel van 3 ander gesprekke: Verkiesings en landbou die impak en verwagtinge; Gesamentlike oplossings in tye van teëspoed; asook Toewyding en impak maak ‘n verskil in Suid-Afrika.

Besoek die Nedbank-stalletjie by Nampo Oesdag in Bothaville van 14 tot 17 Mei 2024, kom ontmoet ons landbouspesialiste en gesels saam oor hierdie onderwerpe en nog meer. Lede van die media kan kommunikasiespesialis Gillian Gernetzky by +27 82 892 8378 of gillian@percheron.co.za kontak.

¹ Amerikaanse Internasionale Handelsadministrasie

²https://commerce.uct.ac.za/sites/default/files/content_migration/commerce_uct_ac_za/869/files/PRISM%2520Working%2520Paper%25202021-4%2520-%2520Chitonge.pdf

³ https://www.businesslive.co.za/bd/opinion/2023-10-17-james-maposa-agro-processing-could-deliver-more-value-for-sa-agricultural-exports/

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment