Categories: NewsPublished On: 25th January 2017

Die nuwe Mitsubishi Triton is in Suid-Afrika

By 4 min read
717 words
Mitsubihi

triton-my17-1_1800x1800

Mitsubishi Motors Suid-Afrika verwelkom die herontwerpte Mitsubishi Triton. Die 2017-model, die vyfde in die Colt/Triton-reeks, is die mees gevorderde bakkie wat Mitsubishi nog in sy gebalanseerde kombinasie tussen ware sportnutsagtige padgedrag en swaardiens-werkvermoë ontwikkel het.

Die splinternuwe Triton maak sy buiging in Suid-Afrika nadat hy hom as groot gunsteling in markte soos Australië, Brasilië, Europa en die Midde Ooste gevestig het. Die Suid-Afrikaanse reeks maak sy buiging met die vooraanstaande Mitsubishi Triton 2.4 Di-DC MIVEC-dubbelkajuit.

Die nuwe model is herontwerp, maar sy hoogs aangeskrewe eienskappe wat sy voorgangers uiters gewild gemaak het, het behoue gebly.

“Die opdrag aan die ontwerpers en ingenieurs was reg van die begin af om die wese van die Triton te behou, maar ook om aspekte soos rit, hantering en gemak te verbeter ten einde ’n volwaardige sportnuts-ervaring agter die stuur te bewerkstellig,” sê Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika.

Nic verduidelik dat die ingenieurs 185 kernkomponente van die Triton teenoor sy voorganger verbeter het ‒ van die dieper en sterker laaibak, die hersiening van die enjinkapvorm ten gunste van lugdinamiese doeltreffendheid, en die verfyning van die bestuurder se sitposisie om gemak en sig vanuit die voertuig te verbeter.

Ander gewilde elemente soos die kenmerkende J-lyn tussen die kajuit en die laaibak is aangepas om binneruimte te bevorder. Dit word met die intrapslag deur al die insittendes, veral dié in die agterkant van die dubbelkajuite, ervaar.

Die ontwerpbenadering vir die nuwe Triton was “atleties”, wat duidelik aan die buite-ontwerp van die nuwe bakkiereeks gesien kan word. Die uitgeboude enjinkap, fris sierrooster en omvou-kopligte vloei in ’n diep skouerlyn tot by die stertligte en geronde laaideur wat nou moeiteloos met net een hand oop- en toegemaak kan word. Die ingeboude remlig in die laaideur kan nie meer soos dié wat in die kajuit se agterkant ingebou is, versteek word nie.

Gemak en gerief 

Die saamgestelde ontwikkeling, wat die nuwe Triton aansienlik teenoor sy voorganger verbeter het, sal waarskynlik duideliker te sien wees in die kajuit wat spesifiek gevorm is om dieselfde soort gemak en gerief as Mitsubishi se reeks sportnutsvoertuie en ikoniese Pajero te weerspieël.

Dit is nou nie net baie makliker om in en uit die nuwe Triton te klim nie, maar agter die stuur voel dit baie meer natuurlik danksy die gesaghebbende sitposisie wat beter sig van agter die stuur oor die voorkant van die voertuig bied. Die bestuurder geniet die voordeel van ’n nuwe voorpaneel met oppervlakke wat maklik skoongemaak kan word en vir praktiese gebruik gekies is. Reeks-spesifieke toerusting in die nuwe modelle sluit ’n intuïtiewe raakskerm-vermaakstelsel met Bluetooth- en USB-klankverbindings sowel as ’n sleutellose drukknop-aansitter in.

Die bestuurder voel tuis danksy toerusting soos spoedbeheer, dubbelsone-lugversorging, ’n trurat-kamera, ’n elektries verstelbare bestuurdersitplek, kantel- en teleskopies verstelbare stuurkolom en leerbekleedsel om maar net ’n paar van die nuwe standaardeienskappe te noem.

Die kajuit self is met 20 mm tot 1 745 mm gerek om kajuitruimte verder te verbeter, terwyl skouerruimte voor en agter ook verbeter is. Subtiele veranderings sluit herontwerpte sitplekke met dikker en digter spons vir groter gemak op lang ritte in.

Lewendige splinternuwe MIVEC-dubbelbonokasenjin van 2.4ℓ

Die Mitsubishi Triton het ’n nuwegeslag-viersilinder-turbodiesel met ’n aluminium-enjinblok. Die nuwe enjin bied die ideale kombinasie tussen ’n blits-turboaanjaer met ’n ongewone lae 15.5:1-drukverhouding wat lewendige wringkrag teen lae enjinsnelhede lewer.

Die 2,4ℓ-MIVEC-enjin het ’n aluminium silinderblok met versterkte staalvoerings vir duursaamheid en ingeboude hoëdrukbuis-dieselinspuiting. Die enjin is 30 kilogram ligter as sy voorganger, wat die Triton van ratser en veiliger hantering help voorsien.

Dié nuwe vrydraaiende enjin lewer aansienlik meer krag en drasties minder vibrasie danksy nuwe monteerpunte op die onderstel. Sy kraglewering kom op 133 kW teen 3 500 r/min te staan, met sy wringkragpiek ’n stewige 430 Nm teen 2 500 r/min. Brandstofverbruik kom op 7,6 liter per 100 kilometer in die gekombineerde siklus te staan.

Die nuwe 2.4ℓ-MIVEC-turbodiesel dryf die agterwiele (2H) of al vier wiele (4H in die geval van 4×4) aan met die keuse van ’n kortwissel-sesganghandratkas of outomatiese vyfgang-transmissie.

Vier dubbelkajuit-weergawes in 4×2- of 4×4-gewaad en met die keuse van ’n sesgang-handratkas of outomatiese vyfgang-transmissie is dadelik te koop.  Al die modelle word met ’n vyfjaar/90 000 km-diensplan en driejaar/100 000 km-fabriekswaarborg bekend gestel.

Reeks en pryse:

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×2 (handrat) – R479 900

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×2 (outomaties) – R499 900

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×4 (handrat) – R539 900

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×4 (outomaties) – R559 900

Mitsubishi

Bron: Mitsubishi Motors Suid-Afrika

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0