Categories: NewsPublished On: 13th March 2017

Die herfskommandowurm nou ook in sojabone

By 3 min read
496 words
herfskommandowurm

herfskommandowurm1_verskaf

Die herfskommandowurm, wat reeds wydverspreide skade aan oeste aangerig het sedert dit suid deur Afrika tot hier versprei het, is nou ook in sojabone gevind. Dit nadat sekere gewasse soos mielies en aartappels reeds gevreet word.

Igni Bouwer, ‘n agent van Laeveld Agrochem in die Ermelo-gebied, sê die herfskommandowurm (wat onderskei moet word van die gewone kommandowurm), is die week positief geïdentifiseer in sojaboonlande op ‘n plaas in die Dirkiesdorp-distrik tussen Piet Retief en Wakkerstroom in Mpumalanga.

“Sover lyk dit of die wurmplaag beperk is tot slegs een plaas van 250 hektaar waarvan 70 ha onder besproeiing is en 180 ha droëland is,” het Igni gesê.

Die gevreesde herfskommandowurm is verlede jaar in Nigerië opgemerk, met wetenskaplikes wat vermoed dat dit vanaf Amerika na Afrika versprei het. Vanaf Nigerië het die wurm vinnig suid versprei deur Suider-Afrika en is in Desember 2016 die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk. Intussen het dit vinnig landwyd, buiten die Wes-Kaap, versprei.

Skade was veral by mielies gekry, maar die wurm het ook aartappelaanplantings in die Loskopvallei in Limpopo getakel. Volgens Aartappel SA is die skade beperk, want daar is vinnig opgetree met korrektiewe bespuitings. Volgens die jongste verslag van Croplife SA is die wurm ook in gewasse soos sorghum, katoen, ander groente en weidingsveld naby aan mielielande en grondboontjies gesien.  Vrese bestaan dat die plaag sal versprei na die land se suikerrietplantasies, maar volgens Cedric Mboyisa van die SA Suikerrietvereniging, het geen verbouers nog aangemeld dat hulle die wurm in plantasies sien nie. Die jongste SA Suiker-joernaal noem egter dat die wurm in mielielande in die Suikerrietgordel van KwaZulu-Natal opgemerk is.

“Spesialiste en biosekerheidspanne van die SA Suikerriet-navorsingsinstituut (SASRI) is op noodbystand om suikerrietplantasies en nabygeleë aanplantings te monitor. Sou die wurm suikerrietplantasies binnedring, sal beheermaatreëls dadelik in werking gestel word,” lui die joernaal.

Volgens prof. Mark Laing, direkteur van die Afrika-sentrum vir Oesverbetering van die Universiteit van Kwazulu-Natal, vreet die herfskommandowurm verskeie gewasse en sal ook aartappels vreet. Die wurm verkies egter grasgewasse bo groente, het Laing gesê.

Corné Liebenberg, ‘n direkteur van Laeveld Agrochem, het gesê die herfskommandowurm sal net beheer kan word as vroeë identifisering plaasvind, sodat die korrekte en relevante, geregistreerde chemiese middels toegedien kan word in die beginstadium van larwevorming.

“Om spuitstowwe te gebruik wat die produsent voorheen op die gewone kommandowurm of vir ander plae gebruik het, sal nie noodwendig werk nie, buiten dat dit in elk geval nie daarvoor geregistreer is nie. Slegs geregistreerde produkte mag vir die plaag  gespuit word. Wanneer die herfskommandowurm eers die mieliekop binnegedring het, is dit te laat, en sal geen spuitstof meer ‘n effek hê nie.” Corné het benadruk dat Laeveld Agrochem landwyd agente het om produsente by te staan om die plaag te bekamp. Die relevante produk wat benodig word, is reeds na al die Laeveld Agrochem takke in hoë risiko-areas versprei.

Laeveld Agrochem se noodnommer is 060-458-8483.

Corné het ‘n beroep gedoen dat enigiemand die plaag aanmeld, waar dit ook al voorkom.

Bron: Laeveld Agrochem

laeveld agrochem

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0